1 Thes. 4:1-12: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking;...” (:3). Daar is menige gedeeltes uit die Woord van God wat ons met inspanning moet bestudeer en lank moet bepeins alvorens ons dit verstaan. Daar is ook ander gedeeltes uit God se Woord wat ons deur die werking van die Heilige Gees skielik verstaan nadat ons dit al soveel kere vantevore gelees het en bykans nie eers opgemerk het nie. En dan is daar ook die gedeeltes uit die Woord van God wat so duidelik en prontuit gestel word dat ons dit nie kan misverstaan nie. So ’n gedeelte is juis ons teksvers van vandag – “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking;”.
Wat is die wil van God? Ons heiligmaking. Is dit vir God belangrik dat ons heilig moet wees? Ja. Ons kan dit vanuit verskillende hoeke benader, maar die boodskap is dieselfde en baie duidelik. God openbaar deur Sy Woord Sy wil aan ons. En dit is duidelik uit God se Woord dat ons heiligmaking vir Hom belangrik is – baie belangrik. “sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.” (1 Thes. 3:13). Hy wil dat ons eindelik Sy heiligheid deelagtig word. “Want húlle het ons wel ’n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word.” (Heb. 12:10). God het hierdie wil van Hom alreeds in die vroegste tye deur die mond van Sy kneg, Moses, ook aan Sy volk geopenbaar. “Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig; ...” (Lev. 11:44). En in Lev. 21:8 stel God dit dat ons deur Hom geheilig word wat vir ons die heilsaamheid en goedheid hiervan bevestig aangesien God goed en reg is in al Sy handel. “...want heilig is Ek, die HERE, wat julle heilig.”
Die belangrikheid van ’n heilige lewenswandel voor God word ook vir ons in die lewe van Johannes uitgelig. Ons weet dat hy ’n besonderse man was wat ook in ’n baie besonderse verhouding met God geleef het. Luister gerus na Christus se getuienis oor hierdie man. “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie...” (Matt. 11:11). En ons lees in Markus 6:20 dat hierdie besonderse man ook ’n heilige man was. “Want Herodus was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy ’n regverdige en heilige man was,...”.
In Johannes 17 lees ons van Jesus se gebed vir Sy dissipels. Hierdie is so ’n kosbare gedeelte waarin ons diep in die hart van onse Here Jesus Christus kan inkyk om te sien wat die kosbarhede is wat in Sy rein en onbesmette hart lê. En een van hierdie kosbaarhede wat ons kan raaksien, is Christus se bede – Sy wens wat Hy vir Sy dissipels uitstort. Hierdie wens is die heiligmaking van Sy dissipels. “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.” (Joh. 17:17, 19). En eindelik bewys Christus dan ook die belangrikheid van hierdie heiligmaking van ons voor God wanneer Hy Sy kosbare bloed vir ons uitstort sodat ons daardeur geheilig kan word. “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.” (Heb. 10:10).
Terwyl dit dan vir ons volkome duidelik is dat ons heiligmaking vir God van uiterste belang is, is dit tog vreemd dat menige teoloeë deesdae hierdie waarheid verswyg. Tewens, nie alleen word hierdie waarheid verswyg nie, maar mense word tot die teendeel van heiligmaking aangespoor. Ja, mense word met prekies van finansiële voorspoed besig gehou en gierigheid word hierdeur in hulle harte gesaai. En dan word daar aan mense verkondig hoe belangrik dit is dat jy die lewe moet geniet, want die lewe is kort en dit is jóú lewe. Regtig? Is ’n gelowige nie veronderstel om homself te kruisig om volkome in Christus te leef eerder as om na die genot van hierdie lewe te streef nie? “aangesien ons dit weet dat die oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe,” (Rom. 6:6-8).
Moet ons nie volgens die voorbeeld van die besonderse en heilige man, Johannes, eerder ons eie lewe en begeertes op die agtergrond plaas sodat Christus op die voorgrond kan wees nie? “Hy moet meer word, maar ek inder”. (Joh. 3:30). Moet Christus en die heiligmaking wat vir Hom belangrik is nie op die voorgrond gestel word en ons aardse, vleeslike en verganklike begeertes ver op die agtergrond gestel word nie?
Geliefdes, die eenvoudige en reguit antwoord waarom menige teoloeë die verkondiging van heiligmaking verswyg en ook in die proses mense tot ’n lewe van onheiligheid aanmoedig wanneer hulle die sonde nie veroordeel nie is eintlik eenvoudig. Dit is vir hierdie mense nie belangrik wat in God se hart lê nie. As dit wat in God se hart is vir hulle belangrik was, sou hulle in Sy Woord daarna gesoek het eerder as om Sy Woord gedurig te bevraagteken en te probeer verander. As dit wat in God se hart is vir hulle belangrik was, sou hulle dit met ywer aan mense verkondig het eerder as om mense tot ’n lewe van onheiligheid aan te moedig en gruwels soos tatoeëring, hoerery, homoseksualisme, onsedelikheid, drankmisbruik, ontheiliging van die Sabbat, gierigheid, sogenaamde menseregte en dergelike dinge goed te praat. Hulle heg geen waarde aan die kosbare skatte in God se hart nie, maar sal mense ter wille van voordeel met hul woorde vlei en selfs mense tot ongebondenheid aanmoedig sodat hulself met groter gemak en onveroordeeld in ongebondenheid kan voortleef. “Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel.” (Judas : 16).
Dit wat ons vandag in die wêreld sien gebeur, nl. die aanmoediging en bevordering van homoseksualisme, “transgender-gedagtes, menseregte, twis, tweedrag en talle ander gruwels wat mense tot ’n onheilige lewe aanspoor, is eenvoudig niks anders as vyandskap teen God nie. En in plaas daarvan dat hierdie gruwels deur teoloeë en kerke skerp veroordeel word, het die meeste sogenaamde kerke ’n instrument geword waardeur hierdie gruwels van regerings goedgepraat word. Hierdie sogenaamde “regte” van mense het niks maar niks te make met ons vryheid in Christus nie al sou hierdie misleiers probeer voorgee dat hulle so ’n vryheid in Christus verkondig. Hierdie is ’n absolute ignorering, miskenning en vertrapping van dit wat God vir God kosbaar is en wat Hy volkome duidelik deur Sy Woord aan ons openbaar. Hierdie mense lewe as vyande van God en daarom breek hulle aktief af en verniel hulle met opset dit wat vir God kosbaar is. “Want baie — van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê — wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.” (Fil. 3:18&19).
Geliefdes, laat ons wat God in waarheid liefhet vashou aan daardie dinge wat vir God kosbaar is en streef na ’n lewe van heiligheid in Hom omdat ons weet dat ons heiligmaking Sy wil is. En laat ons Hom sodoende eer en behaag. “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;” (Heb. 12:14).
Amen.