1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9961764

Besoekers aanlyn

Ons het 145 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

IS ONS HOM WAARDIG?

BybelMatt. 10:1-42: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.” (:37&38). Ons het in ons vorige oordenking na die lewens van die profeet Hábakuk asook Dawid en Moses verwys. Hierdie mense wat God nie alleen in tye van voorspoed liefgehad en gedien het nie, maar ook in tye van swaarkry en beproewing het hul liefde vir Hom nie verkoel nie.

En te alle tye was hul vertroue in Hom gestel. Hulle het altyd hul krag en hul vreugde in Hom, eerder as in verganklike dinge, gevind. Hierdie manne het God deurgaans in hul lewens bo alles verhef. Ons lees in Matt. 10 waar Christus ons aan hierdie belangrike saak in die lewe herinner – dat ons niks, of niemand, bo Hom mag liefhê nie. Wanneer dit gebeur dat ons vergeet dat al die mooi dinge in ons lewens gawes uit Sy Vaderhand is en ons hierdie dinge meer lieŅry as die Gewer hiervan, is ons besig om verkeerd te loop. Ja, uit hierdie gedeelte in Mattéüs is dit duidelik dat dit HERE dit vir ons stel dat selfs die allerbelangrikste gawes in ons lewens, ons geliefde ouers en kinders, nie ’n hoër plek in ons harte as Hy verdien nie. En hierdie is natuurlik geen nuwe leer nie, geliefdes. Dit is gewoon ’n bevestiging van die eerste gebod in die Wet van God. “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.” (Matt. 22:37).

Die HERE stel dit ook dat ons Hom nie waardig is indien ons nie bereid is om ons kruis op te neem en Hom te volg nie. Hierdie stelling is ’n doodskoot in die hart van valse, voorspoedsteologie. Die ware geloof in Hom sal nie altyd net maanskyn en rose wees nie. Dit sal ook met tye van ons opoffering vra, geliefdes. Opofferings wat ons alleen bereid sal wees om te maak indien ons God waarlik bo alles in ons lewens liefhet. Ja, dink maar aan die gelykenis van die ryk jongman. Hierdie man het in ooreenstemming met die gebooie van God geleef – hy het dit gehoorsaam onderhou. Maar daar was wel één ding in sy lewe wat vir Hom meer belangrik as die HERE was – sy rykdom. “Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie steel nie; jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder. En hy sê: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af.

En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou — verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.“ (Luk. 18:20-23). Ek wil in teenstelling met die gelykenis van die ryk jongman u gedagtes terug neem na ’n man van wie God selfs ’n groter opoffering as sy rykdom gevra het. Die versoek aan

Abraham om sy geliefde seun te offer is sekerlik iets wat bo die meeste offers uitstaan. “NÁ hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel en aan hom gesê: Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.” (Gén. 22:1&2). En Abraham het die toets geslaag, geliefdes. Hy was bereid om sy kosbaarste gawe en besitting aan God te offer. “Toe roep die Engel van die Here vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.”

(Gén. 22:15-18). Ja, Jakobus 2:23 getuig ook daarvan dat Abraham Hom waardig was. “En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is 'n vriend van God genoem.”

Ons het veel te leer uit Abraham se voorbeeld, geliefdes. Hy het nie God se opdrag aan hom met allerhande verskonings en vrae beantwoord nie. Hy het in ootmoed gehoorsaam opgetree om volgens God se opdrag te handel. En hierdie voorbeeld behoort ons ter harte te neem, geliefdes. Ons sien die teendeel vandag in ons volkslewe. Wanneer kinders langs verkeerde weë begin wandel, is soveel ouers in ons tyd geneig om vir die kinders se verkeerde optrede verskoning te maak eerder as om hul kinders volgens God se opdrag tereg te wys. Daar is soveel ouers wat so bang is dat hul kinders hul sal verwerp wanneer hulle hul vermaan of teregwys dat hulle eerder hul verantwoordelikheid as ouers voor God nalaat. En dit geld nie alleen t.o.v. mense se kinders se gedrag nie. Wanneer mense ook oor ’n verkeerdheid in hul eie lewens aangespreek word, sal hul eerder vir die verkeerde gedrag verskonings probeer vind as om daardie verkeerde dinge in hul lewens op te offer. En dit is nie hoe dit in die lewe van ’n gelowige, Godvresende volk behoort te wees nie, geliefdes.

Hierdie is dan juis een van die redes waarom ons so ’n ontsaglike toename van gedrag sien wat vir ons Christelike waardes gewoon onaanvaarbaar behoort te wees. Ek sluit vir ons af met ’n laaste voorbeeld van Een wat bereid was om enige offer in gehoorsaamheid aan God te bring, geliefdes. Die Een van Wie ons vanoggend hierdie vermaning uit Matthéüs ontvang. Hy het nie alleen aan ons die lering gebring nie, maar ook vir ons ’n voorbeeld hierin gestel. “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is,” (Fil 2:6-9).

Geliefdes, mag ek en u daarna streef om Hom waarlik bo alles in ons lewens lief te hê. En mag ons bereidheid om enige offer wat Hy van ons vra te bring as ’n bewys van ons opregte liefde vir Hom. Ja, mag ons in liefde tot elke opoffering bereid wees wat nodig is om Hom waardig te wees.

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie