Met erkenning vir die foto’s uit die pragtig en keurig saamgestelde Hendrik French Verwoerd fotobiografie 1901-1966
Hierdie eerste openlike aanslag op dr. Verwoerd se beleid deur Brittanje na Uniewording in 1910, was gemaak op 3 Februarie 1960, slegs ‘n maand nadat die referendum vir Republiekwording in die Transvaler op 21 Januarie 1960 aangekondig is. Twee maande later volg die mislukte aanslag op sy lewe op 9 April 1960 deur David Pratt! Dr. Verwoerd bly egter lewe en veg onwrikbaar voort op die beginsel en beleid wat hy as noodsaaklik vir ons voortbestaan beskou het!
“Ons sal ons nie laat doodmaak nie ons sal geeneen se slagoffer word nie; ons sal veg vir ons bestaan en ons sal bly lewe!” Dr. Verwoerd se woorde enkele minute voor Pratt hom twee skote in die kop toedien!
Dr. Verwoerd se begrip van die betekenis en bedoeling van Macmillan se Winds of change toespraak in woord en daad soos verbeeld in die fotobiografie1901-1966!
Vir die Britte en genote om by daardie onwrikbare standpunt verby te kom, wat dr. Verwoerd besef het die dood van sy volk sou beteken indien hy daarvan sou afwyk, is hy op 6 Sptember 1966 in sy bank in die Volksraad op bedenklike wyse deur Tsafendas vermoor!
In die gevolglike afwyking van daardie beleid wat hy met sy lewe verdedig en uiteindelik betaal het, lê Suid Afrika nou in stof en as en huiwer die Afrikanervolk op die rand van uitwissing!
Ons vra weer vanuit die AVP, Afrikaner, wat maak ons hier aan die Suidpunt van Afrika? Is ons hier en het ons voorgeslagte met bloed en sweet hierdie land uit die wildernis ontworstel sodat ons dit moet laat vertrap en vernietig omdat ons verraaiers, joiners en hensoppers die oorhand laat kry het oor goeie en bewese suksesvolle oordeel?
Moet ons aanhou om toe te laat dat die jong en verdraaide geslag, wat nie ore het om te hoor en nie oë het om te sien en klaarblyklik ook nie insig en begrip het vir die uiteinde van wat reeds sigbaar, hoorbaar en feitelik in wording gekom het soos wat mense soos dr. Verwoerd en Jaap Marais voorspel het sou word nie? Moet ons aanhou om met hulle te probeer redeneer om by hulle “akademiese geletterdheid” en politieke kranksinnigheid deur te dring tot nugterheid?
Moet ons respek hê vir die VF-Positief, die DA, Afriforum, solidariteit en leiers van Afgri, TLU, GHA, die kerke en almal wat dit wat suksesvol was beswadder, demoniseer en verwerp in ruil vir dit wat besig is om alles te vernietig wat opgebou was?
“Ons sal ons nie laat doodmaak nie ons sal geeneen se slagoffer word nie; ons sal veg vir ons bestaan en ons sal bly lewe!” Is dit wat ons geglo het voor 1994? Indien wel, is dit waarin ons geslaag het? Nee my volksgenote, ons het klaaglik gefaal! Ons het ons rug gedraai op ons Godgegewe erfenis en skuil agter humanistiese vertolkings vir die regverdiging van ons wanbegrippe van moraliteit en geloof!
Ons is beroof, ons is vermoor, ons veiligheid, sekuriteit en besit word bedreig. Ons word op sleeptou geneem deur die onderhandelaars, die liberaliste, die saampraters en saamwerkers met die vyande van ons volk! Al waarin ons met onderskeiding slaag is verdeeldheid omdat ons die suksesvolle beginsel en beleid waarmee Suid Afrika tot die mees vooruitstrewende land in Afrika ontwikkel het, versaak het en agter die massas aan op ‘n afgrond afstap!
Ons Afrikanervolk het ‘n roeping hier aan die Suidpunt van Afrika. Nie as een van die jongste en mees dinamiese volke wat spontaan onder die beskermende Hand van ons hemelse Vader hier tot stand gekom het om onsself deur “klein verraad” van binne te vernietig nie, maar om met die moed en durf en deursettingsvermoë van ons voorgeslagte ons uitdagings in die oë te kyk en met die kennis en ervaring vanuit die geskiedenis, dit gesamentlik die stryd aan te sê!
Kan ons dan saam met Dr. Verwoerd sê: “Ons sal ons nie laat doodmaak nie ons sal geeneen se slagoffer word nie; ons sal veg vir ons bestaan en ons sal bly lewe? Dan het dit tyd geword dat ons in beginsel op mekaar afgestem word sodat ons mekaar kan bystaan, kan saamstaan, saam veg en saam bly lewe! Ons bron van krag bly steeds dieselfde as wat Dawid, Josua en Gideon begeester en beskerm het! Laat ons daartoe ons knieë buig!