Luk. 14:15-24
“EN toe een van die wat saam aan tafel was, dit hoor, sê hy vir Hom: Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God.” (:15).
“Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.” (:24).
Geliefdes, ons word uit hierdie gelykenis herinner aan iets waarmee die mens deur die eeue
heen tog so goed is – verskonings, verskonings, verskonings. Ons dink aan die eerste
geskape mense – Adam en Eva. Adam wou homself verontskuldig met die verskoning dat
Eva, die vrou wat God aan hom gegee het, hom tot sonde gelei het. Eva wou haarself weer
verontskuldig deur aan die slang die skuld te gee. En hierdie eienskap het die mens tot
vandag bygebly.
Dink maar wanneer twee kinders baklei en deur hul ouers aangespreek word. Dit sal gewoonlik met iets soos die volgende begin – “Ja, maar hy/sy het dit of dat gedoen”. Die eerste reaksie is om ‘n verskoning tot verontskuldiging aan te voor. Dink ook maar aan sake waar mense vir hul oortredings aangekeer word. Hoe dikwels hoor ons nie
mense se verskonings dat hulle moeilik groot geword het, honger was of een of ander verskoning waarmee die mens sy verkeerde en nalatige optrede probeer verontskuldig nie.
Die gelykenis van Christus uit Lukas 14 rig ook in hierdie verband aan ons ‘n waarskuwing. Dit handel oor ‘n koning wat ‘n maaltyd berei het en al die genooides wou hulself d.m.v. ‘n verskoning verontskuldig. Een het ‘n nuwe stuk grond gekoop, ‘n volgende nuwe osse en ‘n ander was pas getroud. En so het elkeen ‘n verskoning aangebied en die weldaad van die koning geminag. Die koning was hieroor woedend en het dit met sekerheid gestel dat nie een van hierdie genooides aan sy maaltyd sal deel hê nie. Geliefdes, ek dink dat ons onsself in ons dae ook voor die HERE aan hierdie oortreding skuldig maak. Hy wat ons nooi om na Hom te kom en deel te hê aan die maaltyd wat Hy
berei. Hy wat ons nooi om van hierdie brood van die lewe te eet. Die ware brood van die lewe wat van ons Vader in die hemel aan ons gegee word. “...maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.” (Joh. 6:32).
Ja, Hy wat uit die hemel neergedaal het om aan ons die brood van die lewe te gee. Die woorde van die ewige lewe waarmee ons siel gevoed moet word. “Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.” (Joh. 17:8). Is ons nie maar ook dikwels vol verskonings om nie na die maaltyd van die HERE te gaan nie, geliefdes? Ja, wanneer ons tyd moet afstaan aan die Woord van die HERE om met die ware brood van die lewe aan Sy maaltyd gevoed te word, het ons dikwels verskonings.
Ons het te veel werk wat nog gedoen moet word. Ek moet darem tyd saam met my gesin spandeer. Ek kan darem nie tyd saam met my vriende inkort nie. Ek is te moeg nadat ek gedurende die week so hard moes werk. Ek het net soveel ander dinge rondom die huis wat nog gedoen moet word. Ek het darem net eers tyd vir ‘n wegbreek nodig. Ek wil net eers hierdie of daardie program of video op die internet klaar kyk. Ek sal volgende week of volgende maand of volgende jaar bietjie meer tyd aan die HERE afstaan. Geliefdes, ek wil dit prontuit aan u stel – as dit nie vandag vir u belangrik genoeg is om tyd aan die HERE af te staan nie, sal dit onwaarskynlik volgende week, volgende maand of volgende jaar vir u belangrik genoeg wees.
Die HERE waarsku ons teen hierdie verkeerde optrede om die versorging van ons siele te verwaarloos in die najaging van ons vleeslike begeertes. “Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.” (Luk. 4:4). Ja, hierdie boodskap is nie eers in die tyd van Christus aan die mens gebring nie. God het dit alreeds deur die mond van Moses aan Sy volk geleer. “En Hy het jou
verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Deut. 8:3). Mag hierdie woorde van onse Here Jesus Christus ons ook opnuut laat besin oor dit wat werklik in hierdie lewe belangrik is. En laat ons nie hierdie saligheid, hierdie grote geskenk, die voorreg wat Hy ons aanbied, verontagsaam nie. “Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.” Open. 19:9.
Amen.