1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7451298

Besoekers aanlyn

Ons het 26 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

WANDEL ONS IN DIE VREES VAN DIE HERE?

BybelNeh. 5:1-19 “Verder het ek gesê: Dit is nie goed wat julle doen nie. Moet julle nie in die vrees van onse God wandel ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande, nie?” (:9). Geliefdes, hoeveel vrees vir die HERE is daar in ons tyd nog in mense se harte? Ek wil selfs vra of ons weet wat dit beteken om die HERE te vrees? Ons lees op soveel plekke in die Woord van die HERE hiervan, maar weet ons wel wat dit van ons vereis? Ja, luister na die opdrag uit Ps. 2:11:”Dien die HERE met vrees, en juig met bewing.” Dit klink nogal na ‘n teenstrydigheid – om met vrees te dien en om met bewing te juig, nie waar nie?

Josua gee ook hierdie bevel aan die volk Israel in die woorde van Jos. 24:14:”Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, ...”. Ons moet dalk begin om te vra wat dit beteken om die HERE te vrees. Is dit dat ek met soveel angs en ontsetting vervul is met die aanhoor van Sy Naam dat ek nie eers aan Hom kan dink nie? Alhoewel die HERE onse God só almagtig, verhewe, magtig en wonderbaar is dat ons met die aanhoor van Sy Naam behoort te sidder, is hierdie nie die vrees waarvan ons leer nie. Ons lees in Exodus 14 hoedat Israel kon aansou hoedat God Farao se hele leërmag binne-in die see gestort en hulle vernietig het. Ja, hierdie grote, magtige en gedugte leërmag is geheel en al, op een slag, deur die HERE vernietig. En by aanskoue hiervan is die volk met ontsag vir God vervul. Ja, hulle is met vrees vir Hom vervul.

“Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses, sy kneg.” (Ex. 14:31). Ons lees in Lev. 19:3 waar die HERE ons beveel dat elkeen sy moeder en sy vader moet vrees. “Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees, ...”. Dit beteken tog nie dat ons vir hulle met ‘n oorweldigende angs verskrik moet wees nie. Maar dit is tog duidelik dat ons vir hulle respek moet hê. Ja, ons behoort vir hulle eerbied te hê. “Eer jou vader en jou moeder soos die HERE jou God jou beveel het,...”. (Deut. 5:16).

Alhoewel ons vir hulle met groot ontsag vervul is en eerbied aan hulle betoon, is ons nie só verskrik vir hulle dat ons nie vrymoedigheid het om met hulle te praat, ons sorge, hartseer en ook ons vreugdes te deel nie. Ten spyte van die groot eerbied wat ons vir ons ouers het, het ons tog vrymoedigheid om bykans alles in ons harte en lewens met hulle te deel. Tewens, dit is juis omdat ons soveel agting en respek vir hulle koester dat ons hulle in belangrike sake in ons lewens ken – ons ag hulle opinie waardig.

Ons kyk nou weer na Nehemía wat dit in vers 15 van ons gelese gedeelte stel dat hy uit vrees vir God nie soos sy voorgangers gehandel het om sy volksgenote te verdruk en heerskappy oor hulle gevoer het nie. “terwyl die vorige goewerneurs wat voor my was, die volk swaar belas het en van hulle brood en wyn geneem het, daarna veertig sikkels silwer. Hulle mense het ook heerskappy gevoer oor die volk; maar so het ek uit vrees vir God nie gedoen nie.” (:15). Maar hy het uit vrees vir God hierdie las van die volk eerder verlig. Nehemía was in ‘n magtige posisie, maar hy het nie hierdie posisie probeer uitbuit om homself ten koste van ander te bevoordeel nie.

Nee, geliefdes, uit vrees vir God, omdat Nehemía ‘n opregte respek en eerbied vir God gehad het, het hy daarna gestreef om God se gebod van liefde teenoor sy naaste te na te kom. Ja, geliefdes, eerbied word tog so duidelik ten toon gestel wanneer ‘n mens met ‘n opregte en vrolike gemoed in gehoorsaamhoptree. Ons lees in Ps. 34 waar koning Dawid ons ook van die vrees van die HERE leer. “Lamed. Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die HERE leer.” (Ps. 34:12). Hy gaan nie voort in hierdie Psalm om ons te leer dat ons met soveel angs en vrees vervul moet wees dat ons nie die Naam van die HERE oor ons lippe laat durf gaan nie. Maar hy leer ons wel verder in hierdie Psalm om aan die HERE gehoorsaam te wees. “Samek. Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.” (Ps. 34:15). Ja, hierdie gehoorsaamheid is tekenend van ons respek, ons eerbied vir die HERE. Daarenteen leer ons uit Psalm 36 dat ongehoorsaamheid aan die Woord en gebooie van die HERE van ‘n gebrek aan eerbied, ‘n gebrek aan respek, ‘n gebrek aan vrees vir God getuig. “In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie.” (Ps. 36:2).

Ons kan ook luister na wat God se Woord vir ons in Spreuke 8:13 in hierdie verband leer. “Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ‘n slegte wandel en ‘n huigelagtige mond haat ek.” Ja, dit is hierdie vrees vir God, hierdie eerbied en respek teenoor God wat ‘n gelowige van die kwaad weerhou. “...en deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad.” (Spr. 16:6). ‘n Hoogmoedige en trotse mens het nie ‘n vrees vir God in sy hart nie. Só ‘n mens is eiesinnig. Hy tree nie met ‘n eerbied teenoor God op nie en oordink nie sy handelinge voor God nie. “Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat my vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die HERE van die leërskare. Want van ouds af het jy jou juk verbreek, jou stroppe stukkende geruk. En jy het gesê: Ek sal nie dien nie; ...”(Jer. 2:19&20).

En is ons wêreld nie vol van hierdie mense nie. Ja, dit is asof die woorde in Romeine 3 net vir ons geskryf is! “Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. (Rom. 3:11- 17).

En luister dan hoe pragtig dit in vers 18 van Romeine 3 opgesom word waarom die mens só verskriklik ontaard. “Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.” Ja, geliefdes, omdat daar geen vrees, geen respek en eerbied vir God is nie – daarom ontaard die mens só verskriklik! Geliefdes, Nehemía stel dit in vers 9 van ons gelese gedeelte dat die volk van God veronderstel is om tot beskaming en smaad van die heidene in die vrees van die HERE behoort te wandel. “...Moet julle nie in die vrees van onse God wandel ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande, nie?” En die HERE leer vir ons in Maleági 1:6 ook dat ons in eerbied en vrees teenoor Hom moet leef. “’n Seun eer die vader, en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? ...” Die HERE het ‘n welgevalle daarin dat ons in die vrees van die HERE leef, geliefdes. “En Hy het ‘n welgevalle aan die vrees van die HERE;...” (Jes. 11:3).

Geliefdes, terwyl die land en eintlik die wêreld rondom ons inmekaar val juis omdat die mens van ons tyd God nie meer vrees nie moet ons nie moedeloos en vervaard raak nie. God stel dit tog duidelik dat dit die voorland is van hulle by wie daar geen vrees vir Hom is nie. “Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie, en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie, daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom; as julle verskrikking kom soos ‘n onweer, en julle ondergang soos ‘n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval. Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie,”. (Spr. 1:24-29). Ons behoort in hierdie tye ons daarop toe te spits om ywerig in die vrees van die HERE te wandel. Dit is ons beskutting, geliefdes. Ja, mag die HERE ook tot beskaming en smaad van die goddelose, en nog meer tot eer van Sy grote en heilige Naam aan my en aan u doen volgens die woorde van Jeremia 32:39&40. “En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie.”

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie