DIE AFRIKANER VOLKSPARTY HET DIE PAS AFGELOPE NAWEEK DEELGENEEM AAN DIE MAJUBAFEES WAT OP DIE MAJUBABERG GEHOU IS.
Die fees word jaarliks deur die Majuba Boerevolk Trust aangebied by die Majubaberg net buite Volksrust. Die doel van die fees is om die Slag van Majuba wat op 27 Februarie 1881 daar plaas gevind het te herdenk.
Die slag van Majuba het gelei tot die beëindiging van die Eerste Vryheidsoorlog wat ontstaan het as gevolg van die anneksasie van die Transvaal deur Theophilus Shepstone op 12 April 1877. Genl. George Pomeroy Colley het op 26 Februarie 1881 met 500 Britse soldate die Majubaberg beset. Die Boeremagte onder bevel van Genl. Nicolaas Smit het na hulle oorwinnings enkele dae tevore tydens die slae van Laingsnek en Ingogo (Skuinshoogte), gereed gemaak om die berg te ontset. Uit vrywilligers van die Boeremagte is drie afdelings gevorm wat onder leiding van kommandant Joachim Ferreirea, assistent-veldkornet Fanus Roos en assistent-veldkornet Danie Malan die berg bestyg het.
Tydens die slag het Genl. Colley saam met 91 Britse soldate gesneuwel en is 134 soldate gewond en 59 gevangene geneem. Aan Boerekant het slegs 1 manskap gesneuwel en is 6 gewond. Dit was ‘n vernederende slag vir die magtige Britse ryk en is daar ‘n vredesooreenkoms met die Boere gesluit wat by O’Neills Cottage aan die Suid-Oostelike voet van die berg op 21 Maart 1881 onderteken is.
Ons deel graag die indrukke van die Afrikaner Volksparty in verband met die fees met ons lesers. Die gashere vanjaar was die CVO Pretoria. Die vriendelike ontvangs by die hek, die aanwysing van plek vir ons stalletjie en verblyf was vriendelik, professioneel en behulpsaam, ondersteun deur ‘n keurig gedrukte bladjie met verwelkoming, voorwaardes vir toegang, kampuitleg, kort beskrywing van die slag van Majuba met kaart van die Boere en Britte se bewegings, volledige program van Vrydag tot Sondag en die samestelling van die feeskomitee vir 2020.
Die weer was die mees beproewende sedert die AVP hierdie feesverrigtinge begin bywoon het met onophoudelike stuifreen en digte mis.
Wat opgeval het was die bywoning en volharding ten spyte van die ongure weersomstandigheid. Hierdie was waarskynlik die grootste saamtrek van Afrikaners by Majuba sedert 1994, indien nie die grootste saamtrek ooit nie, ongeag die uitdagende weersomstandigheid.
Die feesrede deur Marius Kruger, hoof van CVO Pretoria was berekend gerig op die doel van die herdenking, die karakter van die Afrikaner, sy herkoms en sy toerusting vir voortgang en sy vermaning vir versigtige keuse van wie gevolg wil word. ‘n Suiwer Afrikanergerigte boodskap uit die skatkis van suiwer Afrikanerdenke wat onontbeerlik is vir die opvoedkundige deel van onderwys vir ons Afrikanerjeug.
Die beplanning en aanpassing vanweë die weer was goed en die gedrag van die mense teenwoordig, beskaafd, vriendelik, vasberade en deelnemend aan wat voorberei, aangebied en toewyding geverg het, veral van die aanbieders daarvan.
Die AVP merk ‘n ontwaking en geleidelike nugterheid van denke en politieke oordeel onder ons volksgenote, ten spyte van steeds onderlinge verdeeldheid. Behoud van geloof en beginsel en die futiliteit van die afwyking daarvan wat sigbbaar in Suid Afrika manifesteer en gevolg het sedert die moord op dr. Verwoerd, word die aanskouingsles vir Europa sowel as vir die liberale denkers in Suid Afrika.
Ons gelukwense aan die komitee en organiseerders van hierdie Majubafees! Dit was puik en die bywoning daarvan ‘n duidelike inspirasie vir die wat dit meegemaak het. Die feit dat daar nie ‘n sweem van “politieke korrektheid” te bespeur was nie, anders as soveel ander “Afrikanerbelange ondersteuners” wat ons vlag, ons volkslied, ons beginsel van Afsonderlike Ontwikkeling soos die pes vermy terwyl hulle in “Afrikanerbelang” optree, is nie net verblydend nie maar uiters noodsaaklik indien ons weer vry wil wees in Suid Afrika!
U kan gerus die Majubadagfees elke jaar tydens die naaste naweek naaste aan 27 Febuarie op u kalender afmerk. Dit is ‘n wonderlike ervaring om die naweek met u mede volksgenote te deel en ook om u kinders die geleentheid te bied om die geskiedenis van ons volk in lewende lywe te ervaar.
Besoek gerus die volgende skakel: