Jona 1:1-17
“Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die HERE af weg; en hy het na Jafo afgegaan en ‘n skip gevind wat na Tarsis sou vaar. En hy het die reisgeld daarvoor betaal en daarin geklim om saam met hulle na Tarsis te vaar, van die aangesig van die HERE af weg.” (:4).
Sedert die sondeval het sonde hierdie uitwerking op die mens – dit vervreem die mens van sy Skepper. Hoe sou ons sonde definieer? Ons kan sonde definieer as ‘n doelbewuste ongehoorsaamheid aan God se Woord en opstandigheid teen God se gesag.
Jona het byvoorbeeld nie ‘n persoon doodgemaak of selfs as ‘n skelm op die skip na Tarsis geklim sonder om vir die reis te betaal nie. Ons lees pertinent dat hy vir die reisgeld betaal het. Jona was dus nie ‘n moordenaar of ‘n skelm nie – hy het selfs nie vir die skeepskaptein en matrose op die skip gelieg toe hulle navraag by hom gedoen het oor wat sy nering en reisbeplanning was nie.
Jona was eintlik ‘n fatsoenlike en behoorlike persoon wanneer ons hom takseer op sy optrede van buite in die gelese gedeelte. Jona het egter ‘n baie groot fout gemaak. Hy het gesondig deurdat hy doelbewus aan God se Woord ongehoorsam was. Aangesien Jona ‘n kind van God was en Hom daarom ook liefgehad het, was Jona nie gerus daarmee dat hy ongehoorsaam aan God was nie. Hy het nie vrede gehad met sy ongehoorsaamheid nie en het gedink dat hy dalk kan wegvlug van hierdie onrustigheid wat hom geteister het.
Jona was nie die eerste persoon wat gedink het dat hy van God se aangesig kon wegvlug om sy ongehoorsaamheid te ontvlug nie. Ons gaan so vêr terug as na die eerste mense wat in die tuin van Eden gewoon het. Adam en Eva het die voorreg gehad om in hierdie pragtige tuin voor God se Aangesig te woon. Na verloop van tyd het Adam en Eva egter hul ore aan die satan uitgeleen en ongehoorsaam aan God opgetree. Na afloop hiervan was Adam en Eva se eerste plan van aksie om van die aangesig van God weg te vlug en om vir Hom te probeer wegkruip. “...en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin.” (Gén. 3:8).
Ons lees daarna ook van die eerste seun wat Adam en Eva in die wêreld gebring het. Hy het sy eie en enigste broer vermoor! God het vir Kain gewaarsku om nie verkeerd op te tree nie, maar Kain was aan God ongehoorsaam. “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers.” (Gén. 4:7). Wat dink julle het Kain gedoen nadat hy laasgenoemde opdrag van God verontagsaam het? Hy het eers vir God gelieg deur te ontken dat hy sy broer doodgemaak het en daarna het hy van die aangesig van God weggegaan. “Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?” (Gén. 4:9). “Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, ...”(:16).
Dit was koning Dawid wat in die woorde van Ps. 139 getuig van die onmoontlikheid vir die mens om enigiets vir God te probeer verberg. “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk U is daar! (:7&8). Koning Dawid het eerstehandse ondervinding gehad van hierdie ervaring. Nadat hy owerspel gepleeg het, het hy sy sondige optrede probeer verberg deur moord te pleeg. Dawid is deur die profeet Natan aangespreek en het besef dat sy skandelike optrede nie voor God verborge was nie, maar dat hy hierdeur wel van God vervreemd geraak het en daarom die uitroep om genade van God in die woorde van Ps. 51:13. “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.”
Jy sien, Dawid het nie ontken dat hy gesondig het of homself bo die wet van God verhef omdat hy koning was nie. Inteendeel, Dawid het ‘n opregte en diepe berou gehad oor sy verkeerde optrede. Dit kon gesien word daarin dat hy sy sonde voor God erken het en dit laat staan het. Hierdie optrede het genesing vir Dawid se siel en verhouding met God beteken. “Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.” (Spr. 3:7&8).
Net soos wat Dawid probeer het om deur eie optrede sy gemors van ongehoorsaamheid op te ruim, het die matrose saam met Jona ook eers probeer om hom uit sy moeilikheid te red. Hulle het egter vinnig besef dat dit waansinnig is om teen God se Hand te probeer stry. “Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het.” (Jona 1:13). Jona is oorboord gegooi en het in angswekkende omstandighede verkeer totdat hy sy skuld voor God erken het, om vergifnis gevra het en onderneem het om die pad van gehoorsaamheid in te slaan!
Ek kom vanoggend ook vir u sê dat daar in u lewe ook niks vir God verborge is nie – geen begeerte, geen gedagte en geen vrees nie. Daardie dinge waarvan u weet in u lewe waarmee God nie tevrede is nie, maar weier om te laat staan, vertroebel ook die verhouding tussen u en Hom.
Daar is geen oorwinning sonder stryd, daar is geen vergifnis sonder belydenis en daar is geen versoening in u verhouding met God sonder opregte bekering terug na Hom nie. Moenie dink dat u sonde te groot is vir God om u daarvoor te vergewe nie, want daardeur twyfel u aan die volkomenheid van die soenbloed van Jesus Christus wat die vuilste sondaar wat hom waarlik bekeer kan reining. Moenie dink dat u kan vrede sluit met die ongeregtigheid in u lewe en dit koester en daardeur nie die Heilige Gees bedroef nie. “en gee aan die duiwel geen plek nie. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” (Efés. 4:27&30).
Moenie die sonde en ongeregtigheid koester en van die aangesig van God probeer vlug nie. Probeer veel eerder van die sonde wegvlug en koester u gebondheid met die Gees van God in u hart en leef in vrede voor Sy Aangesig!