1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7403504

Besoekers aanlyn

Ons het 14 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

VERHEERLIK HOM

Ps. 19:1-15

Bybel“Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!” (:15).

God openbaar Homself aan die mens op twee maniere, nl. deur die natuur en deur die Woord. Wanneer ons die natuur bestudeer, word ons menigmaal asemloos gelaat weens die wonder daarvan. Die hardwerkendheid van ‘n klein diertjie soos ‘n mier, die onvoorspelbaarheid van die wind, die verkwikkende uitwerking van gietende reën en die asemrowende grootheid van die sterrehemel.

Wanneer ons na die natuur rondom ons kyk, wil ons ook uitroep – hoe groot is U, Here? Die hele skepping laat weerklink die heerlikheid van Sy grote Naam. Dit is wanneer ons op hierdie wyse stilraak in ons gemoed dat ons onsself weer die vraag afvra: ”Wat is my doel in hierdie ontsagwekkende groot heelal?” Die mens se doel word ook in die natuur en die Skrif baie duidelik uitgestippel, nl. om te leef in gehoorsaamheid aan God om hom deur ons lewenswandel te dien en te verheerlik.

In hierdie wonderlike skepping het God besluit om die mens te skape as die kroon van Sy werk. “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.” Ps. 8:4-6.

Dit is egter tragies dat die satan sedert die sondeval nie ophou om vyandskap tussen God en die mens te probeer bewerk nie. Die vyandskap tussen die mens en die satan is vasgestel in Génesis 3:15 nadat die mens deur die satan verlei is tot ongehoorsaamheid aan God. Die satan is wel bewus van die feit dat die mens veilig is onder die vleuels van die Allerhoogste en daarom sal hy telkens probeer om die mens van God weg te rokkel om hom sodoende skade te berokken. Wat meer is, is dat die satan die mens ook sal probeer besig hou met enigiets wat sy ywer om God te verheerlik en te dien, sal uitblus.

Dit was in die tuin van Eden waar die satan vir Eva oortuig het dat dit oorbodig is om aan God gehoorsaam en onderdanig te wees. Die inwoners van die landstreek Sínear het ook besluit dat hulle in opstand sal kom teen God se gesag en die gevolge was dat hulle werk(die toring van Babel) deur God vernietig is. Dit is die “moderne mens” van vandag wat oortuig is daarvan dat hy sy eie god is en die vernietiging wat hierdie tipe afgodery aanrig, is verreikend. Die skade van gebroke huwelike, dwelmverslaafdes, drank- en dobbelverslaafdes, selfmoorde en ander derglikhede wat deur selfsug veroorsaak word, is onberekenbaar in ons samelewing. Hierdie skade word aangerig deur die satan wat mense oortuig dat hulle nie nodig het om gehoorsaam en onderdanig aan God en Sy Woord te leef nie, aangesien hulle heeltemal instaat is om sonder Hom oor die weg te kom.

Die ware kind van God weet egter van beter. Kinders van God weet dat dit geen straf is om God te dien en te eer nie, maar eerder die mens se onverdiende en grootste voorreg. Die mens wat sy Skepper en Verlosser van harte liefhet, probeer nie om van Hom weg te keer nie, maar streef daarna om Hom te soek en te koester in hul harte waar Hy die ereplek in hul lewens inneem. Dit is hierdie mense wat weet dat hul liggame ‘n woning van Hom is en dat hulle Sy eiendom is wat deur Hom duur gekoop is. “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” 1 Kor. 6:19&20.

Ek wonder hoeveel anders die lewe en die wêreld daar sou uitsien indien meer mense voor oë gehad het om God te verheerlik bo hul eie selfsugtige strewes? Ongeag wat die wêreld se beskouing en strewe is, laat my en u liefde vir ons God duidelik sigbaar word in ons lewens wat in onderdanigheid en diensbaarheid aan Hom gewy word. Vergeet van allerhande argumente dat die goddelose se weë soveel meer voorspoedig is en dat dit met hulle altyd goed gaan, want dit ontneem u kosbare tyd wat bestee kon word om u Skepper ook met u lewe te verheerlik.

As ons die Gees van God in ons harte het, is God mos veronderstel om ook deur ons lewenswandel aan ander geopenbaar te word, nie waar nie? Die realteit hiervan is egter dan weinig mense bereid is om ver genoeg in hul eie lewens terug te staan sodat Hy op die voorgrond geplaas kan word. Dit sal noodwendig beteken dat my begeertes, my wense, my eie-ek gedood moet word om meer plek vir Hom te laat. Ons bid so gereeld in die Onse Vader dat God se koninkryk moet kom op aarde, maar ons gooi nog versperrings in ons eie lewens en harte?

Dit is belangrik om te onthou dat die gedagtewêreld die enjinkamer is van dit wat later in dade voortspruit. Wanneer ek dus ‘n toegewyde lewe aan God wil leef, moet ek dinge bedink wat Hom welgevallig is en my gedagtes en strewes daarmee vul. Wanneer ek myself daarop toespits om te verseker dat dit wat ek bedink, m.a.w. die oordenking van my hart, welgevallig is voor God, mag ek dalk kort voor lank begin beleef dat my dade ook begin om ‘n ander vorm aan te neem.

Mag elke ware gelowige die vreugde ervaar van ‘n algehele toegewyde lewe aan Christus waarin Hy op die voorgrond van u lewe geplaas word. Wanneer ons minder word in ons eie lewens sodat Hy meer kan word in ons lewens, mag ons dalk aanstons verstom staan oor die verandering wat Hy in die wêreld kan teweegbring met ons as Sy lewende werktuie wat gebruik word tot verheerliking van Sy Naam.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie