Daar is steeds mense en instellings wat skynbaar die Afrikanervolk se belange op die hart dra wat ewe vroom aanbeveel dat regsgedinge die uitweg vir voortgesette politieke lewe vir die Afrikanervolk is. Niks kan verder van die waarheid af wees nie.
In 'n onderhoud met Dirk Hermann, wat deur – wie anders? - Naspers gepubliseer is spog Hermann oor hoeveel regsgedinge die vakbond Solidariteit voer ter wille van, sal ons maar raai, regverdige behandeling van Solidariteit-lede in die arbeidsmark, of moontlik, waar Solidariteit-lede gekeer word weens Swart bemagtiging om tot die arbeidsmark toe te tree, die weg vir hulle oop te maak. Dat Solidariteit hom knus in Radio Pretoria tuis gemaak ervaar die luisteraar wat op daardie radiostasie inskakel daagliks, soms weens die flagrante propaganda wat gaste vir die reënboogland maak, soms êrens versteek in die stasie se sogenaamde nuuskommentaar se subtiele oorreding. So was daar Dinsdagoggend 27 Augustus 2013 weer vrome woorde, met die subtiele oorreding dat die grondwet en regsgedinge wat gegrond is op bepalings van die grondwet, die weg na 'n toestand van heil vir die Afrikanervolk kan wees,
'n paragraaf wat lui: “...Ongeag die meerderheid waarmee ’n wet of regeringsbesluit aangeneem word, dit kan altyd in die hof betwis word. Die grondwetlike hof is die hoogste gesag en die grondwet is die verwysingspunt. Dit is die oppergesag van die reg.” Die nuuskommentaar gebruik 'n regsgeding teen die verandering van Nelspruit se naam na Mbombela as kapstok vir hierdie wonderlike uitweg van hofsake wat die Afrikanervolk blykbaar gans te min aanwend.
Mnr. Jaap Marais het destyds in reaksie op die SA Regskommissie se voorbrand vir 'n Menseregtehandves, grondwetlike howe en die regstaat, die sogenaamde “rule of law”, die spyker op die kop geslaan toe hy 'n ander skeptiese waarnemer oor dié sogenaamde oppergesag van die reg aangehaal het: “Rule of law, is the rule by those who make the law.”
Die eerste om te weet is dat hoewel Hermann nogal hoog kan opgee oor sy Afrikanerskap hy die sake bevorder van 'n veelrassige/nie-rassige vakbond. Die Afrikaner namens wie Solidariteit (of AfriForum) sake betwis moet dus maar weet dat hy een van 'n multi-kulti bondel is. Dit sal daarom insiggewend wees om te weet hoeveel van die sake wat Solidariteit aanvoer, sake van Afrikaners is en hoeveel sake die van Kleurlinge en Swartes.
Nog 'n opmerking in die verloopte radiostasie se kommentaar lui: “Vir diegene wat teen regeringsbesluite gekant is, is die regsproses die aangewese roete om te volg. Dan word noukeurig gelet of elke prosedure en bepaling nagekom is en die geweldige koste van verandering word beklemtoon.” Sou die kommentaarskrywer oorleg met Solidariteit, of AfriForum, oor die opmerking gepleeg het? AfriForum het 'n jaar of wat gelede 'n hewige regsgeding gevoer ten einde die bestuursraad van Ermelo-skool se bevoegdhede wat konsuis kragtens die landswette bestaan te handhaaf. Die bestuursraad het geglo dat hy oor die mag beskik om die taalbeleid van die skool te bepaal. Die geding is van hof tot hof gevoer, lank en meedoënloos. En sekerlik was dit ook 'n duur stryd.
Die uiteindelike uitspraak wat die bestuursraad se bevoegdheid betref, het nog kant nog wal geraak. Die kool was nie die sous werd nie.
Dan is daar die sake wat Radio Pretoria self gevoer teen die Onafhanklike Uitsaai-owerheid – langer en selfs duurder as die Ermelo-skool-saak. En wie moes vir die koste van die gedinge instaan? Radio Pretoria se patriotiese luisteraars moes een sogenaamde vasbyt na die ander vasbyt verduur, vasbyte wanneer die hoed by die luisteraars omgaan ten einde bedryf en hofsaakkoste te bestry. Die rekeninge vir die regsgedinge was aardig. Punt is dat jy nie sommer sito-sito in 'n nuuskommentaar kan verklaar “die regsproses is die aangewese roete om te volg nie”.
Die regstryd teen die naamsverandering van Nelspruit na Mbombela, fokus weereens die aandag op hierdie herhalende verskynsel. Die stryd word met die meganismes van die regstaat gevoer en dit is ook die retoriek wat gebruik word. Tog is dit nuttig om na die emosies en simboliek van naamsveranderings te kyk, want dit is die onderliggende botsing.
DIE NUUSKOMMENTAAR: As regstaat verskil Suid-Afrika van ná 1994 met dié van voor 1994. In die vorige bedeling kon die parlement enige wet maak. Sommige kon met ’n gewone meerderheid goedgekeur word, terwyl ’n tweederdemeerderheid vir ander nodig was. As die parlementêre proses korrek verloop het, was die howe se bevoegdheid om regspraak aan die hand daarvan te doen, nie om dit te hersien nie. Vandag is dit anders. Ongeag die meerderheid waarmee ’n wet of regeringsbesluit aangeneem word, dit kan altyd in die hof betwis word. Die grondwetlike hof is die hoogste gesag en die grondwet is die verwysingspunt. Dit is die oppergesag van die reg.
Vir diegene wat teen regeringsbesluite gekant is, is die regsproses die aangewese roete om te volg. Dan word noukeurig gelet of elke prosedure en bepaling nagekom is en die geweldige koste van verandering word beklemtoon. In die soeke na objektiewe en regsgeldige argumente moet onthou word dat nie een van die partye deur ’n drang na administratiewe korrektheid of selfs kostebesparing gedryf word nie, maar wel deur die simboliek van plekname en die emosies wat dit wakker maak.
Die gee van ’n pleknaam is ’n manier om dit toe te eien. Dit kan na iets prominent in die natuur verwys, soos al die plekname wat met spruit, fontein, stroom of berg eindig. Dit kan ’n kulturele verwysing hê, soos die plekname wat met burg, dorp of stad eindig, of selfs Bybelse name dupliseer. By dorpe word die natuur- of kultuurverskynsel dikwels met ’n leier se naam of van verbind. Daarom is plekke met parallelle name in verskillende tale volop. Die amptelike naam dui aan wie magtig en toonaangewend is, terwyl nie-amptelike name hardnekkig in die volksmond voortleef.
Die behoefte om amptelike plekname te verander, het alles te doen met die oorgang van mag. Dit is nie genoeg om in beheer van die regering te wees nie, die name van belangrike plekke moet dit op ’n simboliese manier bevestig. Nelspruit is een van die min Suid-Afrikaanse stede waar Swazi’s die bevolking domineer, wat hierdie behoefte versterk.
’n Soortgelyke herrie het hom in 1938 afgespeel, toe waarnemende minister van verdediging, generaal Jan Kemp, aangekondig het dat Robert’s Heights na Voortrekkerhoogte gaan verander. Die vreugde onder Afrikaners is geëwenaar deur die verontwaardiging van Engelssprekende Suid-Afrikaners. Dit was simbolies só belangrik, dat hy deurgedruk het. Naamsveranderings is niks anders nie, as die voortsetting van die Suid-Afrikaanse magstryd. Dit het groot simboliese waarde en sal met oorvloedige emosie gevoer word.
AVP: 26 FEBRUARIE 2010:
‘n Negerbokser Archie Moore het oor sy welslae as bokser graag gesê “Somebody up there likes me”.
Dit wil al vir ons lyk of Solidariteit en sy front, AfriForum, wat die Suid-Afrikaanse regspleging betref - hierdie regspleging wat blykbaar net vir hulle en maar nooit vir enige gewone Wit siel in hierdie dierbare land van ons werk nie - met dieselfde aanspraak kan kom.
Dalk is hul baie geld die knoop wat ons in hierdie kraaines van ‘n saak moet los kry. ‘n Praag-webwerfghoeroe, Barend Toerien, skryf juis van ‘n R500 000 wat sommer so uit die besonders dun Hoëveldse lug uitgedop het vir die Solidariteit/AfriForumnes se duur hofsake.
Duur hofsake is natuurlik Solidariteit/AfriForum se kos. Daarmee slaat hulle gereeld die boerpot, het seker al ‘n volle 20 witboordjie Afrikanerwerkers se poste gered terwyl die mindere blouboordjie-mynwerkers (hulle wat eintlik vir die stigting en die bestaan van Solidariteit verantwoordelik is), in hul derduisende werkloos in Pretoria se Wit plakkerskampe saamgetrek sit.
Gister het hierdie AfriForum/Solidariteit-kombinasie van seker die duisterste troika om nog die Afrikaner (Flip Buys, Dirk Hermann en Kallie Kriel sal sê arrie, nee, “Afrikaanse”) –politiek te beset weer die boerpot gehaal.
Die hooggeregshof in Pretoria het verklaar dat ’n tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se uitsprake teen Robber Mugabe se grondonteiening in Suid-Afrika geregistreer en erken word en afdwingbaar is. “Meer as” 70 wit kommersiële boere wat slagoffers is van Zimbabwe se grondonteiening het gister glo hierdie “geskiedkundige hofbevel” in Suid-Afrika bekom.
Nog ‘n vreemde ding in hierdie hele groter raaisel is Solidariteit/AfriForum se gewildheid by die hoofstroom-nuusmedia, ons arme regse Boere wat gewoonlik as takhare deur hulle behandel word. Ons vermoede is al lankal dis nie omdat Flip Buys sy hare soos Elvis Presley kam nie, daar is iets anders aan die gang as jy byvoorbeeld sien dat ‘n SABC-TV-verslaggewer, Esmarie Prinsloo, se kameraspan in wat klaarblyklik al ‘n “take 5”-opname is die AfriForum-span, ‘n paar misleide Rhodesiese boere wat meedoen, na die hofuitspraak ontvang.
Ons het verwys na PRAAG-webwerf en ene Barend Toerien se bydrae as senior kommentaarksrywer van hierdie aksiegroep. Hier is nou ‘n regte Saul onder die profete. Regs is Toerien nie.
Nie as jy hom meet teen Praag se publieke webwerfkommentators nie. Kyk, hierdie is manne wat kan bors skoon maak, ‘n ding, al vind jy hom ook in die kleinhuisie, by sy naam noem.
Dan is daar ook PRAAG se rubriekskrywers, twee van hulle Anton Barnard en Vlad du Plessis, Barnard wat nie baie van Solidariteit dink nie en Du Plessis wat hom steun. Manne wat verklaar die volk kort ‘n nuwe vakbond en basta, fienish en klaar. Het ook al ‘n naam vir hom. Vryheid. Hulle strategie vir so ‘n vakbond is kortweg staak die ANC-regime tot in die warm plek in en kry end met die gesanik. Maar dan het jy Toerien...
Jy kan jou elke dag, as jy ‘n masochis is, aan hierdie harmansdrup van ‘n kommentaarskrywer se opsomming van die waarheid, niks anders as die waarheid, so help my Helen, gaan besondig. Want naas Helen Zille is daar nie iemand te vinde wat meer hoop op die rooi vrugte van ‘n regstaat en die NP/ANC-alliansie se grondwet het nie. Voor ons ons verwonder oor hierdie man se wonderbaarlike profetiese insigte wat vandeesweek se geregtelike program van die Solidariteit/AfriForum-kombinasie betref, ‘n bietjie perspektief:
Ja, die debat oor die NP/ANC-grondwet van die land het weer behoorlik vlamgevat. Manne wat die skaal wat kennis van die politieke reg betref sommer diep intrap, weeg in vir die debat, ouens soos prof. Koos Malan (so terloops, ‘n baie goeie vriend gewees van wyle ZB du Toit). U ken die AVP se standpunt oor die grondwet, dat dit uit die staanspoor bestem was om net nog bloedbevlekte konfetti gesaai oor Afrika te word. Dis ‘n lendelam kontrepsie van ‘n ding, net geskik vir goed befondste organisasies soos Solidariteit/AfriForum (lees maar gerus mnr. Jaap Marais se kommentaar destyds op ‘n verslag van die SA Regskommissie) om te misbruik, gewone Piet Boer kan ‘n ronde nul daarmee doen. Maar daar is ‘n ander, baie belangrike rede waarom hierdie grondwet kwansuis so heilig is.
Die grondwet is die Afrikaners en “Afrikaanses” wat meegedoen het aan hierdie verskriklike dokument waaronder die Afrikanervolk die afgelope 14 jaar van die grondwet se bestaan uitgewis is, se toevlugsoord, hulle assuransiepolis. Polis teen wat?
As daar een groep mense is wat ‘n onafhanklike Afrikanervolk met sy eie regstelsel meer vrees as die Swart kommuniste, is dit die Afrikaner- en “Afrikaanse” grondwetskrywers en die voorbokke wat daaraan meegedoen het. So lank die grondwet “beskerm word”, so lank die sogenaamde regstaat beskerm word, is hul basse veilig wat ‘n dag van afrekening betref.
Kom ons kyk nou wat skryf Toerien, u sal merk dat dit alles te make het met hierdie grondwet en ‘n sogenaamde regstaat, alles onder die skyn van howe se sogenaamde “politieke onafhanklikheid en juridiese suiwerheid”...
“Terwyl die koppe nog gestamp word oor hoe goed of sleg die grondwet is, het ‘n paar belangrike hofsake weer laat blyk hoe belangrik dit is dat howe hul politieke onafhanklikheid en juridiese suiwerheid moet behou. “Waarskynlik die ingrypendste hofbeslissing het in die Grondeisehof gekom toe ‘n gemeenskap se eis op die plase van agt grondeienaars by Koster in Noordwes van die hand gewys is.
“Van die belangrikste bevindings is dat die eisers wél kompensasie gekry het toe hulle oorspronklik hervestig is, en dat nie hulle of die staat die vermoë het om kosproduksie vol te hou op die grond wat hulle nou geëis het nie.
“Omdat alle voormalige grondbesitters ‘n vorm van kompensasie ontvang het toe hulle hervestig het – ‘n feit wat dikwels deur die politici verswyg word – sal hierdie saak ‘n bepaalde impak hê. Die toets is dus nou of die kompensasie billik en redelik was, en nie dat hulle verskuif is nie.
“Hierdie uitspraak volg kort op nog ‘n saak, dié keer uit KwaZulu-Natal, waar die huidige eienaars ‘n navorser aangestel het om te bewys dat die aanspraakmakers op hul grond geen historiese aanspraak daarop het nie. Dié feite is aan die Grondeisekommissaris oorgedra, wat egter halsstarrig ‘n hofsaak afgedwing en met koste verloor het.
“Nog ‘n rigtinggewende uitspraak is ‘n hofsaak wat die DA teen die Matjabeng by Welkom met koste gewen het. Dié hofsaak spruit uit ‘n mosie van wantroue, waarvoor die ANC ‘n stemming met die wys van hande afgedwing het, in plaas van ‘n geheime stemming soos die DA op geregtig was. Nou gaan die DA sy sin kry.
“Die uitvoerende burgemeester, Mathabo Leeto, was al verskeie kere weens omstredenheid in die nuus. Sommer gou na haar aanstelling het ‘n herrie losgebars nadat haar dogter van die skool huis toe geneem is in ‘n brandweerwa.
“Hierna is verbeterings van R1,5 miljoen aan haar huis van R70 000 aangebring, en kort hierna het sy aan die minister gesê sy was onbewus van die stad se rioolprobleme. Dit, terwyl Mathabeng waarskynlik die enigste munisipaliteit in die land is waar amptenare krimineel tereg staan weens versuim met rioolwerke. “Ten slotte het die Grondwethof beslis slagoffers van misdade wat uit die politieke geweldpleging spruit waaroor die “Waarheid- en Versoeningskommissie’ (Tutu se Afrikanerhaathof) beheer gehad het, inspraak moet hê by beslissings oor presidensiële kwytskelding.
“Hierdie uitspraak kan op verskeie maniere vertolk word, veral in die lig daarvan dat talle weens hul politieke verbintenisse nooit vervolg is nie, al het hulle ook nie om vrywaring aansoek gedoen nie. “Weens die kategorie-beperking sal dit ook nie verhinder dat misdadigers steeds potensieel kwytskelding in ruil vir gunsies of politieke lojaliteite kan kry nie. Inspraak deur die slagoffers sou so iets in ‘n mate kon rem. “Teen hierdie agtergrond maak dit sin dat AfriForum ‘n regsfonds op die been bring, die burgerregtefonds, om die regering oor onregte in die howe te kan pak. Dit is veral verblydend dat die fonds in ‘n japtrap reeds ‘n halfmiljoen rand kon bymekaar maak. Boonop het AfriForum reeds die reputasie verwerf dat dit sake met koste wen, en so sal verseker dat die fonds ook nie sommer uitgeput sal word nie. “Maar, dan moet die onafhanklikheid van die regbank ten alle koste beskerm word.
“Ongelukkig blyk dit dat die ander wigte en teenwigte, soos die Openbare Beskermer en die Menseregtekommissie, veel te wense oorlaat. Die howe is die laaste linie teen meerderheidsdiktatuur en om te verseker dat die regering in algemene belang regeer soos wat demokratiese beginsels vereis. Ongelukkig beteken dit dat die uitvoerende gesag se jagseisoen op die howe se onafhanklikheid oop is.”
Aldus Toerien.
Dit bring ons weer by Rhodesië se Blanke boere en gister se hofsaak. Ons is jammer om te skryf, hoe suiwer en aan regsbeginsels getrou regter Charl Rabie se uitspraak gister ook al is, hierdie is geen deurbraak vir die boere nie. Of hierdie arme boere nie al reeds genoeg gely en swaar gekry het nie.
Hulle is wat ons betref maar net die speelballe in ‘n politieke spel waarin hierdie uitspraak, wanneer dit op die keper beskou word, niks, maar niks aan die werklike posisie van Rhodesië se Blanke boere sal verander nie. Dis ‘n hofsaak wat gewen is. Dis maar al.
Die groot agteruitgang van die Blank-Christelike Weste, waarin Rhodesië maar een gevalle domino is, stu onverbiddelik voort in suidelike Afrika. Ja, julle het dalk van oor tot oor geglimlag oor die regter se bevel.
Die SAOG-tribunaal- en die hofbeslissing verlede jaar in Windhoek dat Mugabe se grondhervormingsprogram onwettig en rassisties is en dat boere wat van hul plase verdryf is, daarheen kan terugkeer is wel gehandhaaf. Regter Rabie se bevel stem wel ook in tot julle versoek om hulp om vergoeding vir jul verliese soos die beslaglegging van vaste Zimbabwiese staatsbates - wat diplomatieke bates uitsluit - in Suid-Afrika. Inderdaad kan daar seker instemming wees met adv. Jeremy Gauntlett SC, namens die drie boere, dat dit ’n historiese bevel deur ’n Suid-Afrikaanse hof sal wees om die tribunaaluitsprake te registreer.
Die hooggeregshof in Harare, Zimbabwe, het vroeër geweier om dit daar te registreer.
Maar wat nou as dit gedoen is? Is dit nie maar net nog ‘n, en een van, duisende historisiteite nie?
Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum wat die applikante in hul aansoek bygestaan het, het gesê die boere se volgende stap is om dié koste van die Zimbabwiese regering “te probeer verhaal”. As dit nie werk nie, sal aansoek gedoen word om lasbriewe om op vaste bates van die Zimbabwe-regering in Suid-Afrika beslag te lê om dié koste te verhaal.
Glo u werklik dat ás daar ‘n dag sou aanbreek dat so ‘n beslaglegging plaasvind, dit die eintlike skade, die verlies van Christelikie Westerlinge om hulle in Suider-Afrika as sulks te handhaaf, omgekeer het? Nee wat, Rhodesië se Blanke boere sit nog steeds op die mishoop. Hierdie hofuitspraak is niks anders as ‘n misleidende intermezzo nie.