
Op 'n ander Afrikaner-webwerf is 'n veldtog teen die haat wat uit Naspers se kantore teen die Afrikanervolk aangeblaas word van stapel laat loop met behulp van standpunte deur NP van Wyk Louw. Die veldtog word klaarblyklik wyd gesteun, uiteraard weens redes wat die Afrikanervolksparty goed verstaan. So het die AVP Van Wyk Louw se standpunte ten opsigte van die noodsaak van "rebellie" in 'n artikel gesien: Dit is gepas, nee hoog tyd, dat ons ‘n woord van waardering uitspreek teenoor ‘n taamlike getal Boere-gevangenes wat in die ANC se tronke toegesluit sit oor hul opstand teen hierdie oorheersers. Mense soos Clive Derby-Lewis, Jan van der Westhuizen en vele meer. Daar is ook die manne van die Boeremag. Daar is die manne wat intussen vrygelaat is maar nie voordat hulle die bittere lot van gevangenes van ‘n vyandige owerheid te wees deeglik ervaar het nie. Hierdie artikel is vir julle. Omdat ons jul heldedade nooit mag vergeet nie...
“Opstand in ‘n volk is net so noodsaaklik soos getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik as rebellie misluk nie. Wat wel gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag verby sal gaan sonder protes.”
Dit is NP van Wyk Louw aan die woord oor protes en dit nogal goedkeurend.
Redes vir opstand en protes was daar uit die staanspoor ‘n menigte van. Nou nog meer. Van die onderdrukking van ons taal, die feit dat ons volk daagliks die slagoffers is van die wreedste misdaad, tot die breinspoeling van Afrikanerkinders in staatskole.
Dit op sigself, hierdie aftakeling van alles wat van Afrikaners Afrikaners maak, is rede vir die hewigste opstand en protes denkbaar; protes ten bloede toe.
Maar die klem verdien vir eers te val op ‘n ander gevaar wat Van Wyk Louw aanstip, en ons haal aan: “Wat wel gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag verby gaan sonder protes.”
Hierdie “gevaar” is al intussen deur volksleiers uit ‘n ander gesigspunt belig. Dit is dat ‘n geslag wat die goeie vrugte gesmaak het van Afrikaner-regering wat ten behoewe van die Afrikaners oor die Afrikaners geregeer het en diegene wat tuisgevoel het onder volkere-selfbeskikking, besig is om te verdwyn. Met ander woorde: Daar is nie meer veel tyd oor voordat NP Van Wyk Louw se “hele geslag” wel verby sal gaan sonder behoorlike protes, rebellie en opstand nie.
Alarmwoord?
Nie as ons mooi na NP Van Wyl Louw, vir sy tyd as taamlik liberaal beskou, se woorde luister nie.
Dus: Nie alarmwoord nie, maar ‘n woord van ewewig.
Kom ons kyk waar lê daardie ewewig.
Sekerlik in die eerste plek by die toestand wat daardie protes, rebellie en opstand trag om terug te roep. Dat ons aan die werk sal spring om die skynbare “onomkeerbaarheid” (ongevleuelde woorde van ons uitverkoper FW de Klerk) om te keer.
Dit is tog duidelik dat die ANC/kommunistiese alliansie en sy internasionale borge (vandag weliswaar weens die kredietkrisis ietwat in die geldknyp) ingestel is op die vernietiging van die Afrikaner en die volk waartoe hy behoort. Ná meer as 13 jaar van “democracy” is dit mos duidelik dat VF Positief en die Boshoffs met ‘n slap riem gevang is toe hulle by die bedeling ingelok is met die belofte hulle kry Orania as ‘n eienaardige soort deelstaat as tuisland vir die Afrikaner.
Daarom kan daar maar net een antwoord van Afrikanerkant wees, en daarvoor kan ons niemand beter as dr. D.F. Malan aanhaal nie: Ons moet terug na ons volk (ja, ook julle daar in die buiteland), terug na ons God. Ja, ons moet omkeer, ons onbekeerlike onomkeerbaarheid in ons sakke druk.
Maar ook in NP van Wyk Louw se woorde vind ons die saak van opstand ewewigtig gestel. Volgens hom is opstand van ‘n volk net so noodsaaklik as getrouheid. Hy stel dus opstand en trou op dieselfde vlak, noem dit in een asem. Vir hom figureer en opereer opstand en getrouheid op een en dieselfde vlak in die gewetensfeer.
Die vraag is waarom, want Van Wyk Louw kan nie van aktivisme en ekstremisme verdink word nie. Dit kan sy tydgenote en mense wat saam met hom geleef het getuig, al sy dwalinge andersins ten spyt.
Eerder het sy insig en aanvoeling, ondanks die betreklike rustige omstandighede van sy tyd, hom verder gevoer as woorde en frases vir aktes van goeie voornemens en bloemlesings. Hy het ‘n deeglike en verantwoordelike vermoede gehad van toestande wat nog vir die Afrikaner voorlê. Hy het dus ‘n dag voorsien waar opstand en trou in broederskap sou tree, die wapen saam sou kon opneem, sy aan sy as wapenbroers die stryd sou aanknoop.
NP Van Wyk Louw se volgende ewewigtige woord is, en ons haal hom aan: “Dit is nie eens gevaarlik as rebellie misluk nie.”
Want hy het geweet dat opstand en rebellie pynlike gevolge het, laat ons daaroor reguit met mekaar praat: pynlike gevolge soos stoflike en lewensverlies. Maar nogtans sê hy sulke moontlike gevolge “is nie eens gevaarlik nie”.
Want hy besef opstand en rebellie om die regte redes, al sou dit misluk, is potente oomblikke, gebeur daar dinge, open horisonne wat selfs die getalsterkste AK47-legioen nie kan verduister nie.
Sy laaste ewewigtige woord van waarskuwing is teen die feit dat ‘n hele geslag sonder opstand verby kan gaan.
Die geslag wat midde-in Afrikanerregering gestaan het, het feitlik verdwyn. Afrikaner-regering het bloot ‘n historisiteit geword met buitendien soveel onaangename konnotasies daaraan verbonde wat aan nuwe geslagte Afrikaners opgedis word, dat dit maar gerus deel van die verlede kan bly. So word ewenwel aangevoer.
‘n Ander rede is egter geleë in die stryd- en opstandservaring self. Met ander woorde: ‘n volk sonder stryd gaan dood. Stryd is deel van die kloppende lewe van ‘n volk. Daarsonder gaan die volk dood. En uit hierdie stelling volg die gevolgtrekking dat ‘n volk wat nie meer tot stryd en opstand opgeroep kan word nie, reeds dood is.
Verantwoordelike Afrikanerleiers met kennis van die verlede en hede beroep hulle nie verniet op ‘n uitdrukking soos lewe is stryd nie (mnr. Jaap Marais). Stryd en lewe word aan mekaar gekoppel, is as’t ware wisselterme.
Die Afrikaner kom deur ‘n tydperk van skikkings en gerieflike uitweë. Gerief lei tot ongevoeligheid en die soek van afstand tussen jou en die dinge wat na probleme lyk.
Die Afrikanervolk se geesteskrag brand reeds laag. Die volk leef in ‘n baie voorwaardelike gemaksone wat net enkelinge ten behoewe van enkelinge, gewoonlik die eie self, kan beding.
Sulke stiksienige enkelinge se redenasie is dat keuses soos vir opstand en rebellie ongerief en opoffering beteken, en bly dus daarvan weg. Dis buitendien ouderwets, hoort by die dinosourusse en dis lekker om ‘n opgerolde Amerikaanse vlaggie om jou kar se truspieël te hang en die nuwe Suid-Afrika se probleme uit te doof met doef-doef-springmieliemusiek.
Hy glo rampspoediglik dat hy met sy enkele 4X4 ‘n laer kan trek waarmee hy die vele aanslae wat hom teister die hoof sal kan bied. Buitendien, daar is ‘n grondwet, so godloos soos wat hy ook al is, ook menseregtekommissies, goeie prokureurs, mediese hulp, sy buitelandse beleggings, sy assuransies, ‘n handves van menseregte, die buurtwag, die polisie, die brandweer, die sekuriteitsfirma, Mapog of Executive Outcomes, as sy reeds riskante bestaan verder bedreig sou word. Of hy kan land verlaat.
‘n Hele reeks van sagte opsies dus.
En dit bring ons by nog ‘n belangrike rede waarom die uitstel van ‘n Afrikanermagsmonstering so dodelik is: ‘n Volk sonder hoë en edel doelwitte sterf. En ons bedoel hier: ‘n volk sonder hoë en edel doelwitte vir homself, sterf. Die argument dat die Afrikanervolk aan die suidpunt van Afrika geplant is ter wille van die sendingsideaal, nét en slegs vir die sendingsideaal, is bog. Gaan lees maar Handelinge 17: God bepaal die grense en tye van ‘n volk sodat daardie besondere volk God se aangesig mag soek; sending is sekondêr tot die volk se pligte, sending is in die eerste plek die taak van die Kerk.
‘n Volk se hoë en edel doelwitte is kultuur- en taalhandhawing (jammer VF Positief, julle dop al weer die toets) en ‘n volk se baie bepaalde opvatting van die Opperwese.
‘n Volk het ook ‘n land. Soos wat die Afrikanervolk sy land het. Ja, lekker outydse Afrikaner-patriotisme!
Hierdie doelwitte moet sonder versuim weer in die Afrikaner se keuseveld gebring word. En dit kan maar op een wyse gedoen word; individue en gewone burgerlike instellings soos verenigings, vakbonde en ander assosiasies se magsmonsteringmoontlikhede is hopeloos te gebrekkig en beperk. Die volk sal as volk in beweging gebring moet word. In beweging gebring word deur daardie Afrikaner se politieke leiers wat hierdie taak begryp, ongelukkig ook die feit “dat ‘n rebellie moontlik mag misluk”.
Dit is waarom die Afrikaner Volksparty daar is.
Ons sê nie die Afrikaner Volksparty is die enigste wat daardie reg en plig toekom nie. Maar as daar ander politieke partye is wat hul taak so insien: Staan dan op om getel te word!