Die AVP verwys u na die artikel van mnr. Arcas van Rooyen: “Hoe veilig is u spaargeld,....dink u?”, verder af op die webblad. Hier verskyn dit nou uit die perd se bek dat u na ander bergplekke vir u spaargeld sal moet soek as u dit nie wil verloor nie!
JOU SPAARGELD SAL LAND HELP BOU - SAKE RAPPORT
Jun 30 2013 06:00 Adri van Zyl
Die spaargeld van Jan en alleman in bankdeposito's, aftreefondse en kollektiewe beleggings gaan aangewend word om die broodnodige infrastruktuur in Suid-Afrika te finansier.
'n Taakspan van die regering, die nasionale tesourie en die vereniging van spaar en beleggings (Asisa) hoop om binne 'n jaar met oplossings vorendag te
kom oor hoe die private sektor betrokke kan raak by die finansiering van die infrastruktuurprogram, waarvoor R4 300 miljard oor die volgende 30 jaar
nodig is.
In die finansiële bedryf is daar groot steun vir die regering se infrastruktuurprogram omdat dit ekonomiese groei en vooruitgang sal steun. Net 1% van die totale bates van R4 600 miljard wat lewensversekeraars, portefeuljebestuursmaatskappye en kollektiewe-beleggingskemas bestuur, sal 'n reuse-verskil maak om die groot agterstand met infrastruktuur te verlig. Die regering se taak is om die regte projekte aan te pak om 'n stabiele en versekerde inkomste te lewer. Die taakspan het reeds twee keer vergader om vas te stel wat nodig is om dit vir die private sektor makliker te maak om regstreeks in infrastruktuur te belê en dit uiteindelik in 'n raamwerkdokument saam te vat.
Uit die oogpunt van die private sektor moet die infrastruktuurprojekte waarin hulle belê, voldoen aan beleggingsvereistes, billike opbrengste lewer en nie wetlike beperkings hê nie. Nicky Prins, waarnemende hoofdirekteur van kapitaalprojekte van die nasionale tesourie, sê regulasies oor kapitaalvereistes vir banke en
lewensversekeraars asook riglyne vir beleggings maak dit vir finansiële instellings moeilik om regstreeks in infrastruktuur te belê. Die finansiëledienstebedryf lewer reeds onregstreeks 'n groot bydrae tot die finansiering van infrastruktuur met beleggings van R700 miljard in effekte, projekfinansiering en ekwiteitsbeleggings, maar kon nog net in beperkte mate in openbare projekte belê.
Die bedryf voel dat 'n groter deel van die totale bates van R4 600 miljard wat hy bestuur, aangewend kan word om in infrastruktuur te belê. Adré Smit, spesiale beleidsadviseur van Asisa en lid van die taakspan, sê as net 1% van dié bates in infrastruktuur belê kan word, sal dit 'n reuse-verskil maak.
"Daar is nie 'n tekort aan geld vir beleggings in infrastruktuur nie - daar is 'n tekort aan projekte wat voldoen aan die beleggingsvereistes van instellings wat geld namens die publiek bestuur," sê Smit. Dit is waarvoor die taakspan oplossings soek. Die grootste probleem is dat die opbrengste op die projekte moet inpas by
die fidusiêre verpligtinge wat spaarinstellings teenoor hul kliënte het. Smit sê infrastruktuurprojekte is geskikte beleggings vir portefeuljebestuurders en pensioen- en aftreefondse omdat die beleggingstydperk tot 30 jaar kan wees. Beleggings in infrastruktuurprojekte is ideaal omdat dit langtermynprojekte is en die opbrengste gekoppel is aan die verbruikersprysindeks en ekonomiese groei. Dit is egter moeilik om te bepaal in watter fase van ontwikkeling spaarinstellings betrokke kan raak.
Prins sê spaarinstellings moet 'n deurlopende en stabiele inkomstestroom hê en dit is nie altyd beskikbaar in die aanvangsfase van infrastruktuurprojekte nie.
Een van die oplossings waarna gekyk word, is dat banke betrokke raak by die aanvanklike finansiering en die projekte dan later aan spaarinstellings
verkoop word, sê Prins. Sy sê ander finansieringsorganisasies word ook betrek by die taakspan sodat 'n omgewing geskep kan word waarbinne hulle met die private sektor kan saamwerk pleks van met mekaar meeding. Die beperkings wat bestaande en nuwe regulasies op spaarinstellings plaas rakende die beleggings wat hulle moet doen, sal ook indringend aandag van die taakspan kry. Nuwe regulasies, waarvolgens die kapitaalvereistes van banke verhoog word, beteken noodwendig dat hulle kleiner bedrae beskikbaar sal hê om beleggings te maak. Prins sê 'n vereiste van die finansiële bedryf voordat hulle beleggings toeken, is 'n lys van die goedgekeurde projekte.
Die taakspan sal nou saamwerk met die presidensiële kommissie vir die koördinering van infrastruktuur (PICC) om 'n lys op te stel van projekte wat
nasionaal gefinansier sal word en dit aan instellings deurgee.