1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9980918

Besoekers aanlyn

Ons het 71 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Media

WAT WAS, EN IS NOG IN ‘N MATE, DIE LEWENSBESKOUING WAARUIT DIE AFRIKANERVOLK GEGROEI HET

altNasionalisme erken die grense tussen volke terwyl die ander “ismes” dit wil uitwis. Nasionalisme erken die verskeidenheid van beskawings terwyl die ander “ismes” strewe na een beskawing, een godsdiens, een kultuur, een wêreldregering en een taal soos by Babel.

In hierdie troebel tyd van onsekerheid en verwarring waar verdeeldheid en wantroue meer die reël as die uitsondering is, word die Afrikaner se geloof in ons bestemming in Afrika weggeknaag en is die gevolg wanhoop, emigrasie en selfs aanvaarding van die noodlot!

Dit is ʼn teenstrydigheid met die prestasie onder uiters uitdagende omstandighede, sowel as met die aard van die Afrikaner. Die voorbeelde uit die Afrikanervolk se geskiedenis spreek van heldemoed wat gewortel was in die geloof dat ons in Afrika geplant is deur die wil van God en deur Sy genade op wonderbaarlike wyse instand gehou is en laat gedy het tot een van die mees vooruitstrewende volke, wêreldwyd

 

Wat het dan verkeerd gegaan? Klaarblyklik nie net in Suid Afrika nie maar feitlik wêreldwyd is daar turbulensie, binnegevegte en self burgeroorlog aan die gang wat nie lyk asof dit binnekort tot ʼn einde gaan kom nie. In terugskouing het die hegtheid wat in Afrikanergeledere bestaan het telkens ʼn begin gehad wanneer Nasionalisme as drywende mag die grondslag was waaruit beleid en beginsel ontleen is, in teenstelling met die verdeeldheid en wantroue wat gespruit het uit die afwyking van Nasionalisme in ruil vir ʼn mengsel van liberalisme, humanisme, sosialisme en nou selfs kommunisme.

Het dit dan nie nou dringend tyd geword om te kyk na die grondslae van ons volksbestaan en die lewensbeskouing waaruit ons volk gegroei en presteer het en waarop die Swart, wêreldondersteunde, hulpbehoewende, demografiesverteenwoordigende regime nou al vir meer as twintig jaar teer ten koste van die Afrikaner nie? As ons kan saamstem, nie bloot terwille van die argument nie maar terwille van die feite, dat die Afrikaner Suid Afrika tot een van die mees vooruitstrewende lande in die wêreld opgebou het vanuit ʼn ongerepte wildernis, sal dit goed wees om weer te kyk na die grondslag wat ons daartoe instaat gestel het en nie net die Afrikanervolk bevoordeel het nie, maar ook elke ander volk in Suid Afrika.

Nasionalisme, het wyle mnr. Jaap Marais verduidelik, is deur die teenstanders daarvan ook as ʼn ideologie bestempel omdat dit ook soos ʼn ideologie op ʼn “isme” eindig. Hy verwys hier na die Humanisme, Sosialisme, Kommunisme ens. Anders as die bo-staande ideologieë, gaan Nasionalisme om die werklikheid. Nasionalisme erken die basiese feit van die bestaan van Volkere verskeidenheid. Die miskenning daarvan soos die politieke versinsel van nierassigheid misken die werklikheid en dwing ʼn abstraksie af wat die werklikheid moet verander na iets wat nie bestaan nie.

Wanneer ʼn mens gaan stilstaan by hierdie begrippe, word die Bybelse terme dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die magte, die owerhede, die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu en die bose geeste in die lug, ʼn sigbare werklikheid as die ongelowige mens sy eie waarde en norme bepaal wat dié van God moet verdring sodat die ongelowige in sy gelykstelling met die gelowige, sy sondige doelwitte kan bereik. Dit is deur die geskiedenis bewys dat dít telkens op anargie en chaos uitloop soos wat ook nou hier by ons en in talle lande van die wêreld sigbaar is. In die bestaan van die Afrikanervolk was Nasionalisme nog altyd die skeppende, drywende mag wat Suid Afrika tot die sterkste staat in Afrika gevorm het. ʼn Bewys van die krag van Afrikanernasionalisme wat Bybelgefundeerd die werklikheid van God se skeppingsorde erken en daarby bly omdat dit die groot bewegingsmag van volke is en ook die grondslag vorm van goeie verhoudings tussen volke deur vir ander te gun wat jy vir jouself eis.

Nasionalisme erken die grense tussen volke terwyl die ander “ismes” dit wil uitwis. Nasionalisme erken die verskeidenheid van beskawings terwyl die ander “ismes” strewe na een beskawing, een godsdiens, een kultuur, een wêreldregering en een taal soos by Babel. Nasionalisme erken die werklikheid van volkeverskeidenheid as skeppingsdaad van God en neig nie soos die ander “ismes” om deur ʼn abstrakte politieke bestel norme en waardes aan die werklikheid op te dwing soos deur die liberalisme en humanisme nie. ‘n Vooraanstaande sielkundige het tot die gevolgtrekking gekom dat liberaliste kranksinnig is en die ideologie van liberalisme as ‘n geestelike afwyking gediagnoseer. ʼn Vooraanstaande sielkundige, dr. Lyle Rossiter het die stelling gemaak dat die ideologie wat hulle aanhang as ʼn gevaarlike afwyking getipeer kan word.

“Gebaseer op totale irrasionele geloof- en emosionelesisteme, ondermyn moderne liberaliste die belangrikste beginsels waarop ons vryheid gevind is,” sê hy in sy boek: The Liberal Mind: The Psychological Causes of Political Madness: Hy sê dat liberaliste is soos woedende kinders wat teen alle normale verantwoordelikhede van volwassenheid rebelleer en eis dat ʼn vaderlike regering in al hulle behoeftes van geboorte tot die graf moet voorsien. Dit is eienskappe wat die konserwatiewe vleuel lankal raakgesien het. Dr. Rossiter egter beskik oor die professionele kwalifikasies en het ʼn lewe vry van enige vorm van “regse” aktivisme gelei.

Rossiter, ‘n kliniese en forensiese psigiater met 35 jaar ondervinding sê dat die liberalisme wat deur Obama en die Clintons geopenbaar word, slegs as sielkundige disfunksie verstaan kan word. “ʼn Sosiale wetenskaplike wat die menslike natuur verstaan sal nie die noodsaaklike rol van vrye keuses, vrywillige samewerking en morele integriteit negeer nie – soos wat liberaliste maklik doen,” sê hy. ‘n Politieke leier wat begrip het vir mense sal nie die verskille in talente, dryfkrag en werksetiek ignoreer en dan ekonomiese en sosiale gelykheid op die bevolking afdwing – soos wat liberaliste doen nie. En ‘n wetgewer wat begrip vir sy mense het sal nie wette en reëls maak wat die bevolking oor-reguleer, oor-takseer en sodoende hulle karakter verwring en hulle na voogdyskap van die staat laat daal nie.

ʼn Tasbare bewys van wat hierbo gesê is, is te lees in die boek: Die NG-Kerk en Apartheid, uitgegee in 1986 deur die Britse uitgewers Macmillans. Daarin skryf Johan Kinghorn: “Die eerste tree op hierdie weg is om vir eens en vir altyd die ideologie van volkere verskeidenheid af te sweer. Mnr. Jaap Marais het dit destyds as ʼn verstommende stelling beskryf en verklaar dat as volkereverskeidenheid ʼn ideologie sou wees, moet dit ʼn ideologie van die Skepper wees en kerklui dus teologiese beswaar hê teen ʼn verskynsel wat op skeppingswette berus!

Die Noodsaaklikheid van Nasionalisme

In die handhawing van grondgebied, sê Robert Ardrey in twee boeke, “African Genesis” en “The Territorial Imperitive”     setel die oorlewing van die spesie. Hy wys aan die hand van natuurwetenskaplike gegewens oor die wildlewe dat dit ʼn primêre voorvereiste vir voortbestaan is. Oorloë het in die verlede oorwegend gegaan oor volke se landsbegrensing waar patriotisme vereis het dat jy nie jou vaderland prysgee en dan soos die volkstaters in ons land weer ʼn stukkie land by die veroweraar gaan terugpleit nie, het mnr. Jaap Marais by geleentheid gesê. Dit vernietig Nasionalisme.

Ook die samehorigheid oor ʼn gemeenskaplike verlede en afkoms en die lesse wat daaruit geleer is, is n bron van inspirasie wat sy oorsprong in Nasionalisme het. Wanneer enige van die “ismes” daarin slaag om dit te verwater of selfs te vernietig, word die werklikheid opsy gestoot en die ideologie aangehang, meermale sonder besef van die inherente gevaar van selfvernietiging. Diskriminasie word nou die vloekwoord waarmee jou voorkeur vir die eie in die doofpot gestop moet word. As die Afrikaner nie meer bereid is om te diskrimineer ten gunste van sy God, sy taal, sy kultuur en sy eie land nie, sal ons tot niet gaan!    

Laat ons dus ophou om persone en instansies te ondersteun wat nie meer bereid is om te diskrimineer ten gunste van die Afrikanervolk se voortbestaan en terwille van ons geloof in ons lotsbestemming in Afrika wat ons nie gesoek het nie maar deur God gewil is en sigbaar is in Sy wonderbaarlike reddende genade en beskerming dwarsdeur ons geskiedenis.              

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie