DIESELFDE “SLUIPPOLITIEK” WAT DEUR DIE NP, DIE KERKE EN KULTUURORGANISASIES OP DIE AFRIKANER VOLTREK IS , IS NOU OOK BY RADIO PRETORIA SIGBAAR!
AFRIKANERS SAL SUID-AFRIKA MOET AFLEER SOOS ONS DIT AANGELEER HET SÊ RADIO PRETORIA
Daar het weinig oorgebly van: “ die vierkleur sal weer wapper” waarmee goedgelowige Afrikaners ingesleep is om Radio Pretoria te befonds en met swaarverdiende geld aan hulle vasbytprogramme deel te neem. ʼn Radiostasie wat met goedgelowige Afrikaners se geld begin is en instand gehou is, maar waarvan die bestuur en beheer se verskuilde doelwitte nie vir die bydraers sigbaar was nie.Wyle mnr. Jaap Marais het telkens gewaarsku dat as jy wil weet waarheen iemand in die politiek op pad is, moet jy dit wat hy in die verlede gesê en gedoen het, in die toekoms in projekteer en dan sal jy weet waarheen hy op pad is.
Die geleidelike verandering in aanbieders en programmateriaal, dui op ʼn tendens wat deur vandag se nuuskommentaar, sommer in die aanhef bevestig word terwyl die res van die kommentaar deurspek is van “sluipterme”, wat soos in die kerke, die Broederbond en NP regering se aanslag op die Afrikaner se nasionalistiese inslag, negatief moet inwerk.
As dít die beleid van Solidariteit en AfriForum is wat nou in Radio Pretoria tot uiting kom, is daar nie te kies tussen hulle, die FW Stigting en die DA nie.
Die begrippe Suid Afrikaners, Nasionalistiese Afrikaners het nie ʼn duidelike ideaal voor oë gehad nie, Die rebellie van 1914 het nie op ʼn uitgesproke doel afgestuur nie, Generaal Hertzog se oproep “Suid-Afrika Eerste” het nie vanselfsprekend inslag gevind nie, want Suid-Afrika was ʼn nuwe staat wat nog nie in mense se harte gevestig was nie; nasiebou het nog nie plaasgevind nie, dit het teen die veel aantrekliker oproep om deel van die Britse ryk, die grootste ryk in die wêreldgeskiedenis, te staan gekom. Om Suid-Afrika voor die Ryk te stel het sektaries en kleingeestig voorgekom, is alles terme en stellings wat in die taal van die filantrope en Jingo’s van daardie tydgreep en in die finale aanslag na die moord op dr. Verwoerd tot voor 1994 voorgekom het.
Waar Radio Pretoria se duister motiewe duidelik na vore gekom het, was in die botsing tussen dr. Sydney Gregan en Clem de Klerk, wat uiteindelik uitgeloop het op die skeuring in die HNP in 2008 en die gevolglike stigting van die Afrikanervolksparty. Radio Pretoria se standpunt in daardie botsing was dat hulle verkies het om die DA se persverklarings voorkeur te verleen teenoor die van die HNP omdat die DA se verklarings nuuswaardig is. Dr. Gregan se vraag aan de Klerk of Radio Pretoria dan nuus bo beginsel verkies en de Klerk se antwoord daarop, het n botsing in HNP geledere tot gevolg gehad wat op skeuring uitgeloop het.
Hierdie nuuskommentaar van Radio Pretoria dui op aanvaarding van die huidige toestand waaraan die Afrikanervolk onderwerp is deur verraad en ook in lyn met die standpunt van wyle ds. Mossie van den Berg, toe hy nog voorsitter van Radio Pretoria was! Ek haal aan uit sy publikasie getiteld: TOEKOMS vir SUID-AFRIKA. 6 APRIL/31 MEI 2002 .
..” daar kan ook nooit nog.... of weer.... gedroom word van herstel van ‘n “Blank SA” waar die “witman” weer sal “baas wees” nie.”
Op bladsy 21: Die herowering van die staatsgesag in die “Nuwe SA” langs konstitusionele weg is alles behalwe ‘n onmoontlike taak! Wat nodig is, is alleen dat Afrikanervolkspolitiek sal uitmond in SA volkerepolitiek. (‘n Broederbond breinkind soos by geleentheid aan my verduidelik deur die voormalige minister van landbou in die de Klerk kabinet, Greyling Wentzel) Die Afrikaner het nie die stemvee om ʼn stembusoorwinning oor die ANC te behaal nie. Maar 11 volke wat boonop nou die dag nog glo uit 70% “Christene” bestaan het, het wel die nodige getalle.” Aldus ds. Mossie.
Hierdie nuuskommentaar van Radio Pretoria is nie net verwerplik nie maar uiters gevaarlik in ‘n klimaat waar die Afrikanervolk broos en vuisvoos van alle kante af aangeval word. Met “vriende” soos Radio Pretoria, het die Afrikanervolk nie vyande nodig nie! Lees self die volledige kommentaar hieronder en heroorweeg u waardering van Radio Pretoria as ʼn Afrikaner Volksradio.
Die AVP doen ʼn beroep op die bestuur van Radio Pretoria om die geleentheid wat daar bestaan en vir hulle geskep is, positief te gebruik om die Afrikaner kragtig te versterk en op te bou tot eendragtige verset teen die onreg wat ons volk aangedoen is. Dat ons in ‘n toestand verkeer waar ons noodwendig sekere veranderde omstandighede sal en moet verdra, moet u nie daartoe bydra om dit aanvaarbaar te maak nie. Dit werk net verdere verdeeldheid in die hand en maak geen bydrae tot ons vryheidstrewe nie.
DIE GEWRAAKTE NUUSKOMMENTAAR:
19 MAART 2013 – AFRIKANERS SAL SUID-AFRIKA MOET AFLEER SOOS ONS DIT AANGELEER HET
Om Suid-Afrikaners te wees, het nie vir Afrikaners vanself gekom nie. Daar was voor die Tweede Vryheidsoorlog republikeine wat van ʼn republiek van die Kaap tot by die Limpopo, of selfs die Zambesi gedroom het, maar die meeste was in die eerste plek Vrystaters of Transvalers. Daar was Engelse en Engelsgesindes wat van ʼn verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag gedroom het, maar vir hulle sou dit eerstens deel van die Ryk wees.
Die oorlog het die droom van ʼn verenigde, Britse Suid-Afrika moontlik gemaak, ʼn staat waarin Afrikanerskap vanself in die groter eenheid van die glorieryke Britse ryk sou opgaan. Generaals Botha en Smuts het dit as hoogs voordelig vir Afrikaners aangegryp.
Nasionalistiese Afrikaners het nie ʼn duidelike ideaal videaal voor oë gehad nie. Die rebellie van 1914 het nie op ʼn uitgesproke doel afgestuur nie, terwyl die “Vryheidsdeputasie” nog in 1919 gepoog het om die Boererepublieke te herstel.
Generaal Hertzog het nuwe rigting met sy oproep om “Suid-Afrika Eerste” gegee. Tog het dit nie vanselfsprekend inslag gevind nie, want Suid-Afrika was ʼn nuwe staat wat nog nie in mense se harte gevestig was nie; nasiebou het nog nie plaasgevind nie. Dit het teen die veel aantrekliker oproep om deel van die Britse ryk, die grootste ryk in die wêreldgeskiedenis, te staan gekom. Om Suid-Afrika voor die Ryk te stel het sektaries en kleingeestig voorgekom. Op simboliese vlak was daar geen vlag, volkslied of geskiedenis om die hartsnare te roer nie.
ʼn Suid-Afrikaanse gees het stadig opgebou. Historici het die Afrikaner se geskiedenis as die geskiedenis van Suid-Afrika aangebied. Afrikaans is as inheemse taal van Suid-Afrika ook tot amptelike taal verhef. ʼn Nasionale vlag is te midde van groot stryd en onenigheid aanvaar. Die Stem van Suid-Afrika is deur CJ Langenhoven geskryf en ML de Villiers gekomponeer as teenvoeter teen God save the King wat toenemend deur Afrikaners as hulle volkslied aanvaar is. De Villiers het regdeur die land gereis en by skole, debatsverenigings en elke moontlike geleentheid die lied vir mense aangeleer. Dit het stadig inslag gevind en het eers vir baie mense kunsmatig gevoel.
Mettertyd het Afrikaners Suid-Afrika aangeleer. Toe die NP in 1924 aan bewind gekom en Suid-Afrika sistematies op ekonomiese, politieke en simboliese gebied eerste gestel is, het Afrikaners in hulle toewyding aan Suid-Afrika gegroei. ʼn Halfeeu na die staat gevestig is, het dit ʼn onafhanklike republiek geword. Suid-Afrikanerskap het ʼn ruimer sinoniem vir Afrikanerskap geword en Suid-Afrikaners het ʼn toenemend vyandige wêreld eensgesind teengestaan.
Die Suid-Afrikaanse staat waaraan Afrikaners so verknog geraak het, is intussen deur die getalle-oormag van swartmense oorgeneem. Die staat verteenwoordig nou die twee kragte wat voortbestaan van die Afrikaner se identiteit oor die jare bedreig het: Die getalle-oormag van Afrika en die kulturele oormag van die Engelssprekende wêreld.
Vir vandag se Afrikaner is Suid-Afrika wat die Britse ryk vir ʼn vorige geslag was. Die verskil is dat verbintenis aan Suid-Afrika veel meer diep gewortel is as wat dit ooit aan Brittanje was.
Die stryd wat eens gevoer is om Suid-Afrika eerste te stel, moet nou gevolg word om die Afrikaner eerste te stel. Ons sal Suid-Afrika moet afleer soos ons dit aangeleer het.