1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
5466102

Besoekers aanlyn

Ons het 22 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Media

DIE GELOOFSBELYDENIS VAN ‘N NASIONALIS IN 2011

Nasionalisme was ‘n groot faktor gedurende die twintigste eeu. Dit sal in alle waarskynlikheid weer die geval wees in die een en twintigste eeu. Die vraag is waarom nasionalisme die verbeelding van mense aangryp. Die rede is, by nadere beskouing, eintlik voor-die-hand-liggend. 

Richard Weaver het gesê dat dit wat uniek is eintlik nie definieerbaar is nie. Aristoteles het gesê dat definisie eintlik ‘n geval van aanvoeling is. Walker Connor het gesê dat die essensie van ‘n volk nie iets tasbaars is nie, maar iets geesteliks, ‘n ingesteldheid eerder as ‘n feit.

In ‘n mate kan dit ook van nasionalisme gesê word. Emerson het gestel dat nasionalisme, soos ander sterk emosies soos liefde en haat, meer is as die som van sy onderdele. Dit is nie moontlik om so-iets aan koue en rasionele oordeel te onderwerp nie. Tog het Jaap Marais nasionalisme pragtig beskryf:

 

Nasionalisme is binne ‘n volk die ongeskrewe kontrak tussen die wat dood is, die wat leef en die vir wie die lewe wag.

 

So het Langenhoven gesê dat die verskil tussen die persoon en die volk is dat die persoon terugkyk en ‘n wiegie sien en vorentoe kyk en ‘n graf sien.  By ‘n volk is dit egter omgekeerd.  ‘n Volk kyk terug en sien ‘n graf en kyk vorentoe en sien ‘n wiegie. Reeds hieruit kan gesien word waarom nasionalisme ‘n bewegingsmag is; dit gee immers sin en waarde aan ‘n volk se bestaan. 

 

By nasionalisme gaan dit om die werklikheid van die volkereverskeidenheid. Omdat nasionalisme in die werklikheid gevestig is, is dit ‘n mag om deurlopend mee rekening te hou. Nasionalisme is nie ‘n ideologie soos byvoorbeeld die Liberalisme of die Kommunisme nie. Kommunisme is in wese internasionalisties en daarom die natuurlike vyand van die nasionalisme. Die nasionalisme stel dat die volkereverskeidenheid tot stand gekom het as ‘n skeppingsdaad van God.  Dit glo in die onoorwinbare grootheid van die menslike gees en die ondergeskiktheid daaraan van alle ekonomiese en materiële oorwegings.  Dit berus op die natuurlike geneigdheid van die mens en nie op aangeleerde houding wat indruis teen die lewenswette van die natuur nie.

 

Elemente van nasionalisme

 

Wanneer nasionalisme ontleed word, word dit gou duidelik waarom dit ‘n magsfaktor is. Dit omvat die totale volkwees van ‘n volk. Die grondbeginsels, eienskappe, waardes of aksente van die nasionalisme verklaar die belangrikheid daarvan. 

 

  • Grondgebied

 

Nasionalisme het as oorsprong die geografiese begrensing waarin ‘n groep mense van enerse afkoms afgesonder is. In die natuur is grondgebied waarskynlik die primêre vereiste vir voortbestaan van ‘n spesie. By mense is dit ook die geval. Oorloë het meestal gegaan oor volke se begrensing van hulle gebied.

 

As gevolg van hierdie begrensing van ‘n groep ontstaan ‘n gevoel tussen hulle na gelang van tyd en ‘n afhanklikheid van hierdie grondgebied. Hierdie gevoel word verwoord met die begrip “patriotisme” wat beteken dat hierdie groep mense ‘n gevoel ten opsigte van die land, wat mettertyd as “vaderland” beskou word, ontwikkel. Territoriale begrensing is die laaste woord in die strewe na behoud van rasse-identiteit, kulturele voortreflikheid en nasionale selfbetuiging.

 

Mense word verknog aan ‘n bepaalde grondgebied en word gepraat van die “historiese aanspraak” op ‘n bepaalde gebied. Daarom dat ander gebiede vir nasionaliste geen bekoring inhou nie, selfs al word sodanige gebiede as afgeleë (en derhalwe nog onbeset) beskou en selfs al word dit vir hulle aangebied as ‘n “volkstaat”, want ‘n volk groei in en uit ‘n grondgebied; die volk aard daar. Sy wortels kan nie sonder meer uitgetrek word en op ‘n ander plek  ingeplant word nie.

 

Die grondgebied van ‘n volk kan onbeskryflike emosie opwek by die lede van daardie volk. Die Russe praat met trots van “Mother Russia”, in Oesbekistan word gedig oor die grond (die land) wat beskou word as die opgegaarde stof van die voorvaders, in Wallis weergalm Land of our Fathers uit die volk se kele en Afrikaners sing O Boereplaas en Die Hoogland is ons woning meermale met ‘n knop in die keel.

 

*        Gemeenskaplike verlede

 

Omdat mense in ‘n bepaalde gebied woon vir ‘n tydperk, ontwikkel daar ‘n geskiedenis van gebeure wat so ‘n groep deelagtig word.  Hierdie gemeenskaplike ervaring en lesse wat uit die verlede geput word en waaruit inspirasie verkry word, voed sodanige groep en ontstaan daar ook ‘n trots ten opsigte van dinge wat bereik is en ‘n wil om na hoër dinge te strewe.

 

Daarom word die geskiedenis van so ‘n groep sy geheue en verhef dit die groep sodat die somtotaal van die groep veel meer is as die totaal van sy individuele lede. Die geskiedenis van die groep mense in ‘n bepaalde grondgebied word algou as die sage van die volk se heldedom beskou. Hierdie gemeenskaplike verlede van so ‘n groep wortel derhalwe in die gemeenskaplike grondgebied wat deur sodanige groep bewoon word.

 

Geskiedenis is die skakel en bindingsmag tussen die geslagte wat op mekaar volg, wat aan elke geslag perspektief, identiteit en ‘n gevoel van grootheid gee, en wat hulle in staat stel om hulle posisie teenoor ander te evalueer. Geskiedenis gee krag en leer eer en waardigheid.‘n Volk se band met sy geskiedenis mag nie gebreek word nie. Soos die patriotisme onontbeerlik is vir die nasionalisme van ‘n volk, so is geskiedenis onontbeerlik vir die geheue van ‘n volk.

 

Richard Weaver het gestel dat die effektiewe mense van ons tyd nie “cheerful forgetters” is nie, maar “painful rememberers”. Dit kan eweneens van volke gesê word. Die verlede gee diepte aan ‘n mens en ‘n volk se bestaan, anders as die hede wat nog nie eers wydte het nie en die toekoms wat ons nog nie eers kan bepaal nie.

 

Edmund Burke het gestel dat as jy geen respek vir jou voorvaders het nie, sal jy ook geen respek vir jou nageslag hê nie.

 

*        Kultuur

 

As gevolg van die saamwoon van ‘n groep mense in ‘n bepaalde gebied vir ‘n bepaalde tydperk en ten aansien waarvan ‘n sekere gemeenskaplike geskiedenis bestaan, ontwikkel sekere gebruike, tradisies, sedes, sentimente en reëls waaruit ‘n kultuur tot stand kom en wat gedra word deur ‘n taal waarin daardie mense die lewe aan hulleself vertolk en hulleself kenbaar maak aan ander groepe.

 

Kultuur ontwikkel dus na gelang van tyd binne ‘n groep wat as gevolg van hulle afgesonderdheid binne ‘n bepaalde gebied woonagtig is. Daarom is grondgebied, geskiedenis en kultuur so afhanklik van mekaar aangesien die een se voortbestaan afhanklik is van die ander se bestaan.

 

*        Identiteit

 

Deur die gemeenskaplikheid van historiese ervaring en uit hoofde van die begrensing binne ‘n gebied en die gemeenskaplike kultuur wat as gevolg daarvan ontwikkel, verkry hierdie groep mense ‘n identiteit wat hom as onderskeidende groep en later as volk kenmerk.

 

Die identiteit as volk spruit voort uit die identiteit van die rassegroep wat hom vir ‘n bepaalde tyd in ‘n bepaalde gebied afgesonder het. Trou aan die identiteit van ‘n volk is ‘n onderskeidende kenmerk van die nasionalisme.

 

*        Kontinuïteit

 

‘n Ontwikkelde volk se bestaan is aaneengeslote, naamlik ‘n verlede wat die hede bepaal en ‘n toekoms wat weer die verlengstuk van die hede is. So ontstaan ‘n kontinuïteit wat algaande as ‘n basiese reg van sodanige volk ontwikkel. 

 

Soos ‘n mens ‘n reg het op voortbestaan as individu, en aangesien die mens se kontinuïteit afhanklik is van sy kontinuïteit as lid van ‘n volk, is die reg op kontinuïteit die mees basiese reg wat ‘n volk kan hê. 

 

Connor Cruise O’Brien het gesê dat ons voorvaders hulle geheue in ons geheue geplant het totdat ons ‘n kontinuïteit as gevolg daarvan besit wat ons eie individuele bestaan verbygaan en oortref. Daardie bestaan is opgesluit in die volk waarvan die individu lid is as die plus en die surplus van saamgevoegde individue.

 

Die veiligheid van die individu is opgesluit in die saamgevoegdheid van volksgenote en die volk se voortbestaan is afhanklik van die samehorigheid van die individue.

 

*        Vryheid

 

Samelopend met die kontinuïteit wat ‘n volk het, is daar die reg op vryheid wat ‘n volk het om sy identiteit uit te leef, sy kontinuïteit voort te sit, sy kultuur te beoefen, sy geskiedenis te koester, te bewaar en te onderrig en sy grondgebied te beskerm. Wanneer gevolglik oor die vryheid van ‘n volk gepraat word moet deeglik besef word waarvan gepraat word.

 

Vryheid lewe vanuit integriteit en waarheid; en integriteit is gesetel in selfstandigheid, selfrespek, selfvertroue en die wil tot selfbeskikking. ‘n Volk wat selfrespek en selfvertroue het, is gesteld op selfbehoud.

 

*        Selfbehoud

 

Selfbehoud is die eerste vereiste vir vryheid.  ‘n Volk kan nie vry wees as hy nie gesteld is op sy selfbehoud nie. ‘n Mens kan God nie dien as hy homself nie behou nie. Die reg op selfverweer en die reg op selfbehoud is primêr. 

 

As ‘n persoon homself mag liefhê veronderstel dit tog selfbehoud.  ‘n Volk kan nie sê dat hy lewe volgens ‘n Godsplan en glo aan sy bestemming as hy nie sorg dat hy behoue bly nie.

 

Selfbehoud is, soos mnr Jaap Marais dit gestel het, ‘n magtige lewenswet wat nie opgehef word deur teologiese bespiegelings en politieke vroompratery nie.  Dit is net so ‘n lewenswaarheid dat wat lewe skep en lewe wil behou moreel is.  Selfbehoud is moreel en is nie net versoenbaar met die Christelike godsdiens nie, maar is ‘n eis daarvan omdat elke godsdiens in dié lewenswerklikheid wortel.

 

*        Selfrespek

 

‘n Volk wat gesteld is op sy selfbehoud het selfrespek. Geen volk en geen mens kan werklik moreel lewe as hy nie selfrespek en trots het nie.  Dit beroep hom op ‘n volk se waardes en geskiedenis en op die plek wat ‘n volk naas ander volke beklee. Wanneer ‘n volk geen selfrespek meer het nie, takel dit sy selfbehoud af, takel dit sy identiteit af en uiteindelik sy reg op kontinuïteit.

 

As ‘n volk skaam is oor wat hy was en wat hy is, is sy selfrespek tot aan sy wortels aangetas. Daarom moet ‘n volk gesteld wees op sy selfrespek en sy selfrespek deurgaans behou en indien dit aangetas is, dit herstel ten einde as volk behoue te bly.

 

*        Selfbetuiging                                                       

 

n Volk wat gesteld is op sy selfbehoud wek nie alleen selfrespek en selfvertroue nie, maar betuig homself.  Dit is die lewenswyse en lewensbeskouing waardeur ‘n volk hom onderskei van ander; die uitlewing van sy eienaardigheid en die gehoorsaamheid aan ‘n innerlike dwang om trou aan homself te wees. 

 

Daarom is die vermoë om nee te sê nie net ‘n kenmerk van die nasionalisme nie, maar ‘n noodsaaklike vereiste. ‘n Volk wat ander klakkeloos napraat en geen selfstandige besluite neem nie, het geen selfrespek nie en is hoe later hoe meer totaal magteloos om homself te betuig en dwing geen respek by ander af nie, maar word trouens algaande al meer uitgebuit.

 

*        Gesag

 

Uit hoofde van ‘n volk se sin vir sy kultuur en tradisies, dit wil sê die konvensies, voorskrifte en vooroordele wat ingebou is in so ‘n volk en waardeur die verhouding tussen die lede van sy volk bepaal word, ook tussen manlik en vroulik, tussen jeug en ouderdom, en tussen mense van verskillende range en beroepe, ontstaan ‘n gesagsverhouding wat noodsaaklik is vir die ordelike bestaan binne so ‘n volk en vir die sement en binding binne daardie volk.

 

*        Gesin

 

Sonder die gesin kan daar geen volk wees nie omdat ‘n volk se voortbestaan afhanklik is van die voortsetting van ‘n volk deur voortplanting en as gevolg van die binding wat bestaan binne so ‘n volk is die gesin die noodsaaklike onderdeel van ‘n volk.

 

Die gesin is die volmaakte voorbeeld van ongelykheid: Daar is ongelykheid in voorkoms en funksie van man en vrou; ongelykheid in ouderdom en funksie van ouer en kind; ongelykheid van geslag van man en vrou en dogter en seun; ongelykheid van verantwoordelikheid en ongelykheid van gesag.

 

Die erkenning van ongelykheid as ‘n onveranderlike lewensbeginsel en van die geldigheid van die hiërargiese orde in menslike verhoudings is ‘n hoë waarde van die nasionalisme en word reeds in die gesin gekweek en vertroetel.

 

*        Godsdiens

 

Vir die gesin om sinvol as komponent van die volk te bestaan en waarbinne gesag behoorlik uitgeoefen word, moet daardie gesin in geloof lewe.

 

‘n Volk lewe in geloof en sterf as die geloof sterf. Vir die nasionalisme is die geloof bowe al die geloof aan ‘n bestemming waarna graadsgewys beweeg word deur inspanning, opoffering en toewyding. 

 

*        Voorkeur vir die eie

 

Binne die gesin en uit hoofde van die gemeenskaplike verlede wat ‘n volk het en die kultuur wat hy uitleef binne ‘n bepaalde grondgebied en identiteit wat hy aanneem, ontwikkel die voorkeur vir die eie. Daarvoor hoef geen mens verskoning te vra of ‘n verduideliking te gee nie.

 

‘n Mens het die reg om ‘n voorkeur te hê vir sy eie, of dit sy taal, sy godsdiens, sy volk of sy land is.  Dit word gedoen bloot omdat dit sy eie is.  Dit word instinktief gedoen deur die onnaspeurlike wet van genetiese pre-seleksie: soort soek soort, wat die grondslag vorm van die natuurlike verskeidenheid.

 

As kontinuïteit ‘n basiese reg van ’n volk is, dan is die reg op voorkeur ook ‘n basiese reg van ’n volk. Kontinuïteit kan trouens net verseker word as voorkeur deurlopend uitgeoefen word.

 

Om onderskeid te tref is soos Richard Weaver gesê het om waarde te bevestig. Vooroordeel is ingeboude beginsels wat mense voortdurend noop om onderskeid te tref. So tref mens onderskeid tussen goed en sleg, mooi  en lelik, reg en verkeerd, duur en goedkoop, tussen verskillende vrouens om een te kies as lewensmaat, tussen verskeie mense om ‘n paar as vriende te vertrou, tussen talle beroepe om een as roeping uit te bou, tussen duisende gelowe om een as die ware godsdiens aan te hang.

 

  • Begrensing

 

          Omdat volksgenote voorkeur vir die eie uitoefen, is daar die volgende element wat daaruit voortspruit, naamlik die begrensing van die eie.  Begrensing vind plaas nie net omdat voorkeur vir die eie geskied nie, maar ook om die eie te beskerm. Begrensing is die voorwaarde vir afsondering, hetsy geestelik of kultureel.  Grense behou en gee vorm. Om die grense van ‘n volk se identiteit te beskerm, is ‘n daad van selfverweer uit selfbehoud.

 

In die Suid-Afrikaanse geskiedenis en veral die geskiedenis van die Afrikaner vind ‘n mens telkens opnuut die poging byvoorbeeld deur trek en afsondering om die grense suiwer te kry, sodat die eie onderskei en beskerm kan word.  Hierdie trek hoef nie altyd fisiek te wees nie, maar kan ook ‘n kulturele of geestelike trek wees om opnuut grense vas te stel.

 

*        Diskriminasie

 

Dit spreek vanself dat wanneer voorkeur vir die eie uitgeoefen word en grense getrek word, dit gepaard gaan met diskriminasie.  Diskriminasie is maar net die teenkant van voorkeur.  Elke volk en elke mens in die wêreld diskrimineer elke dag tussen goed en kwaad en tussen mooi en lelik. 

 

Daar word gediskrimineer ten gunste van een en ten koste van ‘n ander. Daar word gediskrimineer tussen dit wat vir jou aanvaarbaar en dit wat vir jou verwerplik is. Elke voorkeur wat betuig word is uiteraard diskriminasie of verwerping van ‘n ander. As ‘n volk nie diskrimineer ten gunste van sy eie taal, sy eie godsdiens, sy eie kultuur, sy eie geskiedenis of  sy eie land nie, sal so ‘n volk verdwyn van die aardbodem. 

 

Nasionalisme bring volke in beweging

 

Schleiermacher het gesê dat ‘n vriendskap wat nie ook oor volksake praat nie, ‘n nuttelose vriendskap is en dat ‘n vrou moet besef dat sy ‘n kind nie slegs vir haar gesin baar nie, maar vir die volk.

 

Die keuse van ideale van ‘n volk vereis dat daar meelewing in ‘n volk se kontinuïteit sal wees, omdat ideale eweseer deel is van die verlede as van die toekoms. Omdat nasionalisme die ongeskrewe maar onbreekbare kontrak is tussen die geslagte wat verby is, dié wat tans leef en dié wat sal kom, spreek dit vanself dat dit ‘n lewenslange verbintenis is, wat ook deurentyd vertroetel en versterk moet word.

 

Die wortels van nasionalisme is volksgebondenheid, volkstrots en geskiedenis en die trompetwoorde wat die nasionalisme se wil en gees aanwakker, vaderland, vryheid en heldedom.

 

Vryheid is dan ook die hoogste doel van ‘n volk, want dan kan die volk homself wees. Vir die Afrikaner kan daar gevolglik geen meer uitdagende, meer opwindende oproep as nasionalisme wees nie.

 

Bewegingsmag

 

Nasionalisme is vanweë sy aard en die doel wat dit nastreef, ‘n onstuitbare mag. Vir ‘n volk om hom deurentyd te beroep op sy volkskap, sy vryheid, sy vaderland en sy heldedom, is om daardie volk onbreekbaar te maak. Want ‘n volk is om daardie rede meer as die totaal van sy getalle, juis omdat nasionalisme geeskrag oproep.

 

Die nasionalisme se geldigheid rus op ‘n volk se reg op voorkeur vir die eie en elke voorkeur impliseer diskriminasie. Dit is twee kante van dieselfde munt, wetmatig en onafskeidelik verbonde aan mekaar. Die tyd waarin ons leef waarin die vyande van die Afrikaner die Afrikaner wil verneder, stel hoë eise aan elke Afrikaner se selfvertroue. Daarom is sterk leiding nodig wat die Afrikaner sal begeester hom besiel met die besef dat sy eie aard en waardes sy kosbaarste besit is waarvoor geen prys te hoog is om te betaal nie.

 

Die Bittereinders van die Anglo-Boereoorlog is deur nasionalisme besiel en het daarom hardnekkig geweier om die stryd te staak. Hulle het geglo aan die reg van hulle saak, in die onberedeneerde besef van plig teenoor hulle volk, in die onbevraagde verbintenis tot trou aan hulle volk, in die wil tot handhawing van sy eer, in die moed om te volhard ten spyte van teëspoed en die durf om te doen wat gewaagd en gevaarvol was.

 

Solank ‘n volk vervul is met selfrespek, met eerbied vir sy geskiedenis en met trots op sy heldedom sal sy koers op die regte weë bly. Maar wanneer die leiers en beleidmakers die grondslae van ‘n volk vernietig, word nasionale selfrespek vernietig, saam met die wil om die vyand te stuit.

 

Ook suggestie speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van ‘n volk se nasionale selfrespek.  Daarom, indien voortdurend aan ‘n volk vertel word hoe sleg hy is, sal daardie volk geneig wees om sy lewe te slyt met skaamte vir homself en die volk sal mettertyd sy selfrespek verloor.  Nasionalisme vorm die karakter van ‘n hele versameling van mense. Dit is nie slegs ‘n saak van nasionale lewe en dood nie; dit werk ook mee om ‘n geestelike lewe of dood te veroorsaak. ‘n Egte nasionalisme is een van die kragtigste dryfvere tot onselfsugtigheid aan die kant van die individu wat lid is van daardie volk.  In belang van sy volk leer hy om ‘n selfopofferende lewe te lei.  Sy volk is vir hom die aangewese kring waarin hy in die eerste plek sy roeping moet vervul.  Die moed, die bereidheid tot stryd, die bereidheid om te sterf vir dit waarin jy glo, dit word saamgevat in die geloof waarin ‘n volk lewe. Daarom het Jaap Marais dit soos volg saamgevat:

 

‘n Volk wat in geloof lewe, is onvernietigbaar. ‘n Volk wat gedurig sy ideaal graad vir graad nastreef, met ‘n bewustheid van sy herkoms en God en ‘n bestemming anderkant die lewe self, so ‘n volk kan deur geen mag vernietig word nie.

 

NP van Wyk Louw het gesê dat die geskiedenis nie treur oor ‘n volk wat ondergegaan het nie. Daarom moet elke nasionalis met onverpoosde ywer werk om die Afrikaner daaraan te herinner  en tot stryd aan te moedig. Nie ter wille van die een of ander party of organisasie nie, maar ter wille van die Afrikaner. Want die Afrikaner se bestaansreg is nie op onbreekbare tafels geskrywe nie, maar iets wat daagliks deur wil en daad geskep moet word. Bestaansreg is nie iets waarmee ‘n volk gebore word nie, maar iets wat voortdurend bewaar herskep en behou moet word.

 

Waar Suid-Afrika nou beskryf word as ‘n “industriële rommelhoop, beestelik, bloedig en bankrot”, is daar die vuur en die drif van volksgenote wat deur nasionalisme begeester word om weer dit, wat tans as onomkeerbaar beskou word, om te keer.

 

Slot

 

DJ Opperman skryf in Joernaal van Jorik:

 

“Afrikaners ...

 as ek na julle kyk en dan bedink

 dat ons onterf is van ‘n Republiek

 en saans beledigings en pyn wegdrink.

 

Raak in verset teen hul verowering

en bly getrou net aan ons ouer staat

miskien moet jy met bloed jou bydrae bring ...”

 

Nasionalisme wat opbloei moet noodwendig in verset gaan teen die onderdrukking daarvan. Nasionalisme is soos kole op ‘n vuur. Wanneer as die kole bedek, is die vuur rustend, selfs sterwend. Wanneer die as afwaai, dan kan die kole weer gloei; die vuur opvlam. So is dit ook in ‘n volk se lewe. Wanneer dit goed gaan met ‘n volk, is dit of die nasionalisme sluimer; dit kan selfs versaak word, afwater en verdwyn. Wanneer dit egter sleg begin gaan met ‘n volk, ontwaak nasionalisme uit hierdie sluimering; is daar ‘n opbloei.

 

En waar woorde soos dié van Opperman miskien min betekenis het in tye van voorspoed, het dit beslis ‘n verheffende uitwerking vandag. Die Afrikaner is ‘n volk wat deur sy ganse bestaan baie pyn en baie onreg in die naam van geregtigheid moes verduur. Hy is trouens baie keer vir die gek gehou en verneder. As volk was hy geduldig en het hy selde offensief opgetree. Maar die Afrikaner se nasionalisme, wat diep ingegrif is in die Afrikaner, het as bewegingsmag elke keer na vore getree as die onstuitbare mag in Suid-Afrika. So was dit in 1881 en ook in 1948 die geval.

 

Verset was die wagwoord van hierdie nasionalisme en het hierdie Boere en Afrikaners getrou gebly aan die hoogste ideale van ons volk. Hierdie band tussen trou en verset het uiteindelik die oorwinning verseker. En hierdie band sal weer die oorwinning verseker. Want verset (opstand) teen onreg (die verknegting van ‘n trotse volk) is ‘n volk se reg, soos NP van Wyk Louw dit gestel het.

 

Dit is verheffend om te weet dat nasionalisme in die wêreld se geskiedenis nog altyd die botoon gevoer het soos die Amerikaner Michael Lind aangetoon het, en dat dit elke aanslag te bowe gekom het; dat dit inderdaad die magtigste faktor in die wêreldpolitiek is.

 

Vir Afrikaner-nasionalisme om weer dié bewegingsmag in Suid-Afrika te word, sal hierdie onaanvaarbare toestand van “willoos eet en drink en stem en sit en kyk en praat” gestaak moet word. En ons sal moet ophou om toe te laat dat ons rus alleen deur smart aangetas word. Want so word ons ook deel van die gepeupel!

 

Afrikaner-nasionalisme sal ‘n bewegingsmag word wanneer die magtige dreuning van die ontwakende Afrikaner gehoor word, gesien word en beleef word.

 

Ons volk het nie skuld te bely nie, maar wel soos prof Tobie Muller dit in 1918 gedoen het, moet hierdie volk vandag weer sy nasionalisme bely!

 

 

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie