1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9519587

Besoekers aanlyn

Ons het 118 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

SOU ENIGE DING VIR HOM TE WONDERBAAR WEES?

BybelJer. 32:1-44:“Kyk, Ek is die Here, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?” (:27)
In hierdie gedeelte word die egtheid van Jeremia se geloof deur sy optrede bevestig, geliefdes. God gee aan Jeremia die opdrag om teen Israel te profeteer en hulle te waarsku dat God hul land aan die Chaldeërs sou oorgee a.g.v. hul afvalligheid van Hom. Dit raak dan ook duidelik dat hierdie profesie in vervulling gaan wanneer die koning van Babel Jerusalem beleër. En dan kom die opdrag van God in hierdie tyd na Jeremia om ’n stuk grond in die land Benjamin te koop!
Dit is opvallend dat Jeremia nie in ’n worsteling met God tree oor hierdie onverstaanbare opdrag voordat hy dit uitvoer nie. Hy voer die opdrag van God sonder huiwering uit – nieteenstaande die feit dat hy glad nie verstaan hoe God te werk gaan nie. Laasgenoemde is duidelik uit sy optrede nadat hy die stuk grond gekoop het soos wat God aan hom die opdrag gegee het. Hierna wend hy hom tot God om met Hom oor hierdie saak te worstel. “Kyk, die walle het gekom tot by die stad, om dit in te neem; en die stad is oorgegee in die hand van die Chaldeërs wat daarteen veg, vanweë die swaard en die hongersnood en die pes. Ja, wat U gespreek het, het gebeur; en kyk, U sien dit! En tog het U, Here Here, self aan my gesê: Koop vir jou die stuk grond vir geld en neem getuies, terwyl die stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee is!” (:24&25).
 
Ja, met groot respek en opregtheid wend hy hom hierna tot God om te probeer uitmaak hoe God aan hom so ’n vreemde opdrag kan gee om ’n stuk grond in die land te koop wat God dan aan die hand van die koning van Babel oorgegee het! Hoekom sou God so iets doen? Dit is tog nie in Sy aard om Sy kinders met moedswilligheid skade te berokken nie? Hy probeer tog nie vir Jeremia hierin straf terwyl hierdie man Hom met soveel ywer dien en in sy gelowige optrede volhard nie?
Inderdaad is hierdie optrede nie om Jeremia leed of skade te berokken nie, maar dien as bewys van Sy Goddelike Almag. Hý besluit en verkondig nog selfs voordat die koning van Babel Jerusalem inneem dat Hy weer Sy volk na hulle land sal terug bring. Hy verkondig die vryheid nog voor die gevangenskap! En dit bevestig dat hierdie koning van Babel Israel nie verower omdat hý so buitengewoon goeie of magtige heerser is nie, maar omdat God dit so toelaat. En hierdie koning wat
Israel nou verower, sou God ook nie verhinder om hulle weer na hul land terug te bring nie. God stel dit ook in soveel woorde in Jer. 27:5-7. “Ek het die aarde, die mens en die diere wat op die aarde is, gemaak deur my grote krag en deur my uitgestrekte arm, en Ek gee dit aan wie dit reg is in my oë.
 
En nou het Ék al hierdie lande gegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, my dienaar; ja, selfs die wilde diere van die veld het Ek aan hom gegee om hom te dien. En al die
nasies sal hom dien en sy seun en sy seun se seun, totdat die tyd van sý land ook kom, dat dit diensbaar gemaak sal word deur magtige nasies en groot konings.” Hierdie gebeure moet ook vir ons volk dien om opnuut perspektief in ons omstandighede te kry, geliefdes. Ons moet dalk ophou dink dat ons self ons treurige toestand in ons Vaderland moet of sal beredder. En ons moet dalk ophou om ons trane oor ons toestand voor die voete van prinse te gaan stort wanneer ons ons lot voor hulle gaan bekla. Ja, hierdie prinse se asem en tye is ook in God se hand. Ons moet ook nie
in sak-en-as gaan sit en boedel oorgee asof daar vir ons geen verlossing moontlik is en asof ons geen God het nie.
 
Ons moet ophou om op onsself en ons toestand te fokus en opnuut begin om ons fokus op Hom te rig – die God by Wie geen ding onmoontlik is nie. Geliefdes, die hele Woord getuig van toestande wat eenvoudig uit ’n menslike oogpunt onveranderlik en derhalwe onmoontlik gelyk het. Die verlossing van Israel uit Egipte het sekerlik onmoontlik gelyk. En hoe moes dit nie na elke plaag waarna Farao sy hart net opnuut verhard het gelyk het asof God se Hand nie hierdie heerser sal kan omstoot nie? Dat daar ’n weg deur die see gevind kon word waarlangs Israel sou kon trek toe hul
vyande hul uit Egipte agtervolg het, het onmoontlik gelyk.
 
Die situasie van ’n volk in die woestyn wat na voedsel gevra het, het totaal onmoontlik gelyk. “Toe sê Moses: Seshonderdduisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: Ek sal aan hulle vleis gee, en hulle sal 'n hele maand lank eet! Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag
word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is? Maar die Here sê vir Moses: Sou die hand van die Here te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.” (Núm. 11:21-23). Dat water uit ’n rots kon vloei, is menslik onmoontlik.
 
Om iemand uit die dood op te wek, is menslik onmoontlik. Om vir duisende mense met vyf brode en twee vissies tot versadiging te voed, is menslik onmoontlik. Dit is menslik onmoontlik om op water te loop. En so kan ons hierdie lys van onmoontlike situasies aanvul om telkens tot die slotsom te kom dat God hierdie toestande wat menslik onmoontlik was juis gebruik het om Sy Almag te toon. Hy het in elkeen van hierdie situasies getoon dat daar geen probleem of toestand is waarvoor Hy nie uitkoms kan skenk nie. Hy het in al hierdie verskillende situasies getoon dat daar niks in hierdie
heelal is wat vir Hom ’n grens stel of waar Sy Hand te kort is of nie kan uitkom om te help en te red nie. Hy het ook in al hierdie situasies getoon dat Sy werk volbring word waar Sy kinders in geloofsvertroue die oog op Hom gevestig hou en Hom gehoorsaam, geliefdes.
 
Daar waar die geloof ontbreek, is Sy kragtige dade afwesig. “En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.” (Matt. 13:58). Geliefdes, daar waar die geloof ontbreek, word Hy verloën – hetsy dit is deur ’n verklaring van ongeloof in Sy vermoë, hetsy dit is deur ’n vertroue op iets of iemand anders wat eerder as Hy uitkoms of redding sou kon skenk. Laat ons in die geloof die oog op Hom gevestig hou wat enige toestand kan verander, geliefdes – nieteenstaande dat ons geensins kan sien of verstaan hoedat Hy dit sou kan doen nie. Onsself gaan of kan ons toestand nie verander nie, maar ons geloof in Hom kan wel.
 
“DIE geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb. 11:1,6).
Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie