Jos. 1:1-18:“Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.” (:8). Ek dink nie ons besef aldag die groot taak wat op Josua se skouers gerus het nie, geliefdes. Hierdie man moes die skoene van Moses volstaan – beslis nie iets waarvoor enigiemand opgewasse is nie. Daarbenewens was daar nog groot en gedugte vyande teen wie oorlog gevoer moes word en Josua sou die volk hierin moes lei. Wanneer God vir Josua as Moses se opvolger aanwys, verseker Hy hom dan ook dat Hy met hom sou wees en hom vir hierdie belangrike en groot taak sou toerus. Ons lees dan waar God aan Josua raad gee, hom toerus, vir hierdie groot taak voorhande.
En ’n belangrike instruksie wat God aan Josua gee, is dat hy die wet van God dag en nag moet bepeins. Hy moet m.a.w. sy gedagtes hiermee vul. En God motiveer boonop waarom Hy hierdie instruksie gee – “...sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan;...”. Dit wat in jou gedagtes omgaan, het ’n groot invloed op jou uiteindelike besluite en optrede. En daarom is dit so ontsettend belangrik dat ons oor ons gedagtes moet waak en ons ook daarop toespits om die regte dinge te bedink.
Die word vir ons in Spreuke 4:23 & Markus 7:21 duidelik onderstreep. “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” (Spr. 4:23). “Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord,“ (Mark. 7:21). Ons sien op verskeie plekke uit God se Woord dat mense wat in ’n goeie verhouding met God geleef het hierdie saak duidelik verstaan het. Luister na die mooi woorde uit Ps. 119:11,15&16. “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie
vergeet nie.” En die wyse koning Salomo het in hierdie verband die verskil tussen die regverdige en goddelose se gedagtegang ook mooi verwoord. “Die gedagtes van die regverdiges is wat reg is, die slim planne van die goddelose is bedrog.”
So is die belangrikheid van hierdie saak ook in die vermaninge van verskeie profete se woorde onderstreep. “Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle paaie.” (Jes. 59:7). “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef
menigvuldiglik.” (Jes. 55:7). En hoe reguit was die berisping van Christus nie gerig op die verkeerde gedagtes van mense waarvan ons in Matt. 9:4 lees nie? “En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy: Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte?”
Geliefdes, ons vind in Fil. 4:8 ook die opdrag van God deur die diens van Paulus om ons gedagtewêreld met die regte inhoud te vul. “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” En ewe duidelik die woorde uit Kolossense 3:2. “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Dit is dan ook uit Paulus se brief aan die Romeine duidelik dat die oorsprong van die regte gedagtes die Heilige Gees binne ons is. Dit is daarom só belangrik dat ons in Hom sal bly sodat Hy in ons sal werk wat welbehaaglik is voor Hom. “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat
die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.” (Rom. 8:5-7).
Geliefdes, die belangrikheid van ’n gesonde en rein gedagtewêreld is nie alleen in die lewe van Josua vir ons onderstreep nie – dit word regdeur die Woord van God vir ons beklemtoon. ’n Gedagtewêreld wat met rein en Godvresende gedagtes gevul is, laat nie ruimte vir die onrein gedagtes, twyfel en vrees waarmee die Satan graag ons gedagtes wil vul nie. Dit is waarom ons aktief hieraan moet werk om ons daarop toe te spits om die regte
gedagtes te koester en terselfdertyd die verkeerde gedagtes moet bestry en weerstaan. Mag ons liefde vir God en Sy Woord só groot word dat dit al is waarna ons harte hunker en waarmee ons ons gedagtes wil vul.
“Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.” (Ps. 119:97).
Amen.