1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
5836219

Besoekers aanlyn

Ons het 40 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Afrikaner

UIT DIE RIOOLPUT VAN DIE LIBERALISME

Antjie KrogMax du PreezDie AVP plaas hierdie ontleding van Antjie Krog op die webblad van Praag, met erkenning aan Praag. Dit sluit aan by die verwarde denke van die sestigers wie se gif ‘n stroom van besoedeling geword het tot vandag en waarskynlik nog vele môres ook! Wie daaraan teug word terminaal vergiftig en in selfopgelegde kwarantyn geplaas, afgesonder van hulle Afrikanerskap, volk en vaderland.

LEON LEMMER: ANTJIE KROG EN MAX DU PREEZ: UIT DIE BEEK OF MODDERPOEL?

Antjie Krog, die digteres, en Max du Preez, die joernalis, is al lank geesgenote. Hulle kon nie wag dat die ANC uit ballingskap na Suid-Afrika terugkeer nie. Daarom het hulle hierdie terreurorganisasie in die buiteland gaan opsoek. Daar word vertel dat Krog in snot en trane was toe sy van hierdie vryheidstryders afskeid geneem het omdat sy bevrees was dat die ANC-kamerade deur die apartheidsregime se bomme en koeëls afgemaai sou word. Inskrywings op die internet toon dat trane net so sinoniem met Krog as met Kenneth Kaunda is. Daar is nie sprake van emosionele stabiliteit nie. Tydens die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) se sittings het Krog en Du Preez dag na dag oor die radio en televisie gal teen die blankes gebraak en oordrewe simpatie vir die swartes probeer wek. Geen poging is aangewend om die publiek gebalanseerd in te lig nie.

Ek het redelik onlangs oor Du Preez geskryf (Praag 21 Maart). Die beste insig in Krog is myns insiens te vinde in Daniel Hugo se gesprek met haar (LitNet 28.11.2000). Haar hoofkramp is in Afrikaners en Afrikaans. Ten einde Standaardafrikaans te ondermyn, gebruik sy doelbewus onnodige Engelse woorde in haar gesproke en geskrewe Afrikaans. Hugo noem dit “Strugglekaans”. Geen rasionele sterfling behoort Krog se onverantwoordelike uitlatings ernstig op te neem nie. Sy het egter ‘n mate van bekendheid en selfs aansien in literêre kringe verwerf. Die gevolg is dat haar periodieke emosionele uitbarstings sensasionele publisiteitswaarde het, des te meer omdat sy met buitensporig oordrewe stellings vorendag kom. Iemand wat by sy sinne is, sal nie in so ‘n mate oorboord gaan nie.

Orakel Krog het onlangs met hierdie voorstel vorendag gekom: “Almal wat klaar gestudeer het of pas afgetree het, moet sonder vergoeding ‘n jaar gemeenskapsdiens in hul geboortedorp of -stad doen” (Die Burger, 29 Junie, p 8). Hoekom? Omdat Krog die benadeelde swartes wil help. As haar oproep ook op haar van toepassing is, sal sy haar welsynswerk 365 dae lank gratis in Kroonstad moet gaan verrig. Is sy en haar kinders bereid om so iets te doen? Nee, die verpligting word aan ander mense opgelê. Is dit prakties uitvoerbaar? Nee, want mense funksioneer nie sonder kos, water, klere en skuiling nie. Waarom dan die voorstel doen? Omdat daar Krogsgewys nie gedink is nie, so ‘n uitlating publisiteits- en sensasionele waarde het, haar beeld as morele hoëpriesteres daarmee opgebou word, ens. Die naaste wat Krog kom aan prakties dink, is om te pontifiseer: “Die dorp moet kos en slaapplek verskaf.” Sy weet waarskynlik nie dat die gedwonge gemeenskapsdiens wat die ANC aan al hoe meer graduandi opdring ‘n kommunistiese idee is nie; uit hoofde van die veronderstelling dat burgers in lyf en eiendom aan die staat behoort.

Hierdie voorgestelde jaar van gemeenskapsdiens is deel van ‘n groter Krog-projek: “‘n Twee jaar lange ‘radikale heropbou-periode’ om grootskaalse strukturele veranderings in die land te bewerkstellig.” Krog kan tog so pragtig en idealities dig. Reeds in haar prille jeug was haar versugting: “Gee vir my ‘n land waar swart en wit hand aan hand / vrede en liefde kan bring in my mooi land.” Daardie utopie het in 1994 werklikheid geword. Krog noem dit “die wonderlike politieke transformasie.” Hoe kan daar dan na skaars twee dekades sprake van heropbou wees? Dit impliseer tog dat daar intussen afgebreek is, anders sou heropbou mos onnodig gewees het. Krog swyg oor wie die brekers is. Met haar lank al begraafde Boere-agtergrond weet sy egter wie kan regmaak wat verbrou is.

“Krog het ook gesê elke voorstedelike huis moet gekonfronteer word met wat dit beteken om in ‘n township te woon. Elke park moet gevul word met plakkers en elke straat moet straatverkopers hê … Krog het die moontlikheid geopper dat [in] alle voorstede en [op] plase vrye teuels gegee word om hulself te vermeng. Elke huis- en grondeienaar, elke voorstad en plaas moet vry wees om te onderhandel oor ‘n lewensruimte vir enigiemand wat daar woon.” Sou haar man, wat ‘n argitek is, bv esteties genoeë daarmee neem dat elke woonbuurt in ‘n landskap van plakkers en straatsmouse getransformeer word? Is dit die aangewese manier om die land weer op te bou? Moet krotbuurte nie veel eerder opgeruim word nie? Moet onontwikkeldheid, onbeskaafdheid, misdaad, armoede, ellende, ens, uitgebrei of eerder bekamp word? Moet die plakkers na die gevestigde woonbuurte kom of moet Krog eerder probeer om eerstehandse leefervaring op te doen deur met voorbeeldstelling haar in ‘n krotbuurt te vestig? Meelewing in ‘n plakkerskamp kan ‘n doeltreffende toetsterrein vir haar oortuigings wees.

“Het wit mense werklik gedink dat die verlede reggemaak gaan word deur liefdadigheid, filantropie, beter betaling vir huiswerkers en om toe te laat dat ‘n middelklas groei?” Dit klink nogal asof Krog besef dat daar blankes is wat hartgrondige goeie dinge doen, maar vir haar is wat van wittes afkomstig is nooit goed genoeg nie. Daarom is “ware radikale transformasie” nodig, wat seker eintlik daarop neerkom dat blankes heeltemal boedel moet oorgee; alles wat hulle het op ‘n skinkbord aan die benadeeldes moet oorhandig. Sal dit die probleme oplos? Kortstondig sal daar jolifikasie gehou word. Op langer termyn sal die ellende eksponensieel toeneem. Krog, daarenteen, voorsien “‘n behoorlike, regverdiger mengsel.”

Max du Preez

Hoe reageer die orakel van Riebeeck-Kasteel (ja, nie Khayelitsha nie) hierop? In ‘n onlangse skrywe gaan dit vir Max du Preez grootliks om ‘n bladsy- of eintlik rubriekvuller. Hy stel strooipoppe aan die politieke linker- en regterkant op en probeer die armes van gees wysmaak dat hy die salige middeweg bewandel. “Hoe meer negatief Suid-Afrikaners oor die toekoms word, hoe laer word die vlak van openbare gesprekke oor wat verkeerd loop en wat gedoen behoort te word … Ons Grondwet belowe menswaardigheid, gelyke regte en moonlikhede en sekuriteit aan alle burgers. Ons moet besorgd wees dat dit nie gebeur het nie en onsself afvra hoe ons nóú inhoud daaraan kan gee – hoe ons radikale ekonomiese transformasie teweeg kan bring wat ons almal veiliger gaan maak” (Die Burger, 11 deser, p 11). Die frase “radikale ekonomiese transformasie” dui daarop dat Du Preez onder meer aan ubuntu (medemenslikheid, hulpvaardigheid, barmhartigheid) dink, wat in die praktyk (gewoonlik) beteken dat blankes die gewers en swartes die ontvangers is en dat daar geen dankbaarheid of erkentlikheid is nie omdat sulke gawes/aalmoese nooit genoeg is nie; die bodemlose-put-sindroom.

Du Preez erken dat daar tans nie menswaardigheid, gelyke regte, moontlikhede en sekuriteit of veiligheid vir almal in Suid-Afrika is nie. As tweedeklasburgers is blankes seker aangenaam verras dat hierdie belowende erkenning uit so ‘n onwaarskynlike oord kom. Hulle hoop word egter dadelik beskaam, want die manier waarop Du Preez die vlak van openbare gesprek wil verhoog, is deur aansluiting by sy geesgenoot Krog te soek: “Dit is presies wat die digter Antjie Krog onlangs in ‘n belangwekkende [!] toespraak gevra het … Krog het die brandalarm geaktiveer. Suid-Afrika is in ‘n krisis, en net ingrypende verandering kan ‘n ontploffing keer, sê sy, en stel ‘n radikale rekonstruksieperiode van twee jaar voor.” Kan wat oor meer as twee dekades verbrou is in twee jaar reggestel word? Watter bevolkingsgroepe het hulle by uitnemendheid reeds as bekwame bouers en ontwikkelaars bewys? Sal hulle in landsbelang toegelaat word om (permanent) tot hulle reg te kom en onbelemmerd hulle bydrae tot op die hoogste vlak te lewer?

“Wit Schadenfreude [leedvermaak] oor die ANC se mislukkings is onvanpas en teenproduktief. Ons wit burgers sal uit ons [!] gemaksone moet uit. Ons sal ons wit hande moet vuilmaak ‘met die taktieke van die soort kommunaliteit [kommunisme?] wat nodig is om openings te maak waardeur nuwe ritmes, nuwe taal en nuwe maniere van menswees geskink kan word’, soos Krog vra.” Nóg Krog nóg Du Preez kan hierdie beeldspraak tot ‘n sinvolle, praktiese program konkretiseer. Waarom die verbod op kritiek op die ANC? Moet daar nie juis kompromisloos uitgewys word waar die kamerade drooggemaak het nie? Is daar steeds werklik ‘n blanke gemaksone waar hulle veilig voel en nie die slagoffers van rassediskriminasie is nie? Blankes word nie eens die geleentheid gegun om hulle wit hande vuil te maak nie omdat hande-arbeid, soos iedere ander werk, by voorkeur vir swartes gereserveer word. Is die “nuwe ritmes” en “nuwe maniere van menswees” wat deur die “openings” kom die woongebiedwye verspreiding van krotbuurte en straatsmouse? Moet hierdie openinge nie liewer toegehou of toegemaak word nie? Watter soort nuwe taal gaan Krog “skink”? Myns insiens ongetwyfeld ‘n mengeltaal.

Uit die Beek is ‘n Afrikaanse Bybeldagboek wat sedert 1929 gepubliseer word. Daar het reeds 89 uitgawes verskyn. ‘n Beek is ‘n stroompie of riviertjie. Jaarliks word 365 oordenkings, een vir elke dag, aangebied; dus ‘n stroompie. Die bedoeling is dat hulle ter religieuse stigting moet dien. Krog kom soos ‘n vulkaan periodiek met emosionele politieke uitbarstings vorendag. Du Preez skryf om den brode, gevolglik lewer hy weekliks meerdere bydraes, veral van ‘n linkse politieke aard; hoogstens ‘n vlak riviertjie wat lesers se dors na kennis en die waarheid nie les nie. Die geskrifte van sowel Krog as Du Preez dien nie ter stigting nie; veel eerder ter moedswillige bemoering van Afrikaners. Linkse uitgewers, waaraan daar geen tekort is nie, kan dit oorweeg om jaarliks ‘n bundel van die jongste Krog- en Du Preez-tekste te publiseer; nie dat die verwagte aanvraag groot sal wees nie. Na analogie van Uit die Beek stel ek hierdie titel voor: Uit die Modderpoel.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie