1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7446676

Besoekers aanlyn

Ons het 225 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

ONS IS DUUR GEKOOP

Bybel1 Kor. 6:12-20

Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort. (:20)

Ons hoor gereeld in die moderne musiek en lees gereeld in die nuusmedia van die sogenaamde reg wat die mens oor homself het. Daarenteen leer die Woord van God vir ons dat ons in liggaam en in gees nie aan onsself behoort nie, maar aan God wat ons duur gekoop het.

Die siening van die wêreld is dat die mens aan homself behoort. Hierdie siening leen die mens daartoe om aan elke begeerte van die vlees toe te gee. Die mens moet hiervolgens eintlik maar net aan homself gehoorsaam wees. Hierdie humanistiese siening verhef die mens tot sy eie god en as een of ander begeerte jou beetpak, moet jy dit bevredig. Dit is blykbaar die resep vir n gelukkige lewe. Jy kan n tatoeëermerk op jouself aanbring as dit jou gelukkig sal maak. Jy kan uitlokkende klere aantrek en probeer om soveel mans as moontlik te betower sodat jou selfbeeld gestreel kan word. As jou eggenoot jou begin verveel en n nuwe, opwindende verhouding met n ander persoon jou belangstelling prikkel kan jy maar aan die vleeslike hartstog toegee solank dit jou gelukkig maak. Jy kan selfs selfmoord (of deesdae moet ons dit mos self dood noem) pleeg as die gier jou sou beetpak (asof dit jou kan gelukkig maak).

n Ware gelowige wat sy lewe aan die Here Jesus gegee het, sal hierdie humanistiese lewensuitkyk verfoei. Ons glo juis dat die mens deur die ongehoorsaamheid van Adam en Eva aan God aan die mag van die sonde uitverkoop is. En God het in Sy ryke barmhartigheid en goedertierenheid Sy Seun, Jesus Christus, in die vlees gestuur om ons van hierdie sondemag vry te koop. Die Here Jesus Christus het die losprys vir ons ten volle vereffen. omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van n lam sonder gebrek en vlekkeloos, (1 Pet. 1:18&19). En daarom behoort ons nie aan onsself nie, maar aan die Here wat ons duur gekoop het.

Dit is dan juis uit n diepe dankbaarheid vir hierdie verlossing dat n gelowige die besluit neem om sy lewe aan die Here te gee. Dit is daardie besluit wat ons neem dat ons nie meer aan die vleeslike hartstog gehoorsaam wil wees nie, maar dat ons na die wil van die Here wil leef. Ons wil nie meer aan onsself behoort nie, maar verbly ons daarin dat ons die eiendom van onse Here Jesus Christus en God die Vader geword het. En daarom is ons veronderstel om daagliks onsself toe te spits om die wil van God te probeer doen.

Dit is belangrik dat ons daarop let dat ons in vers 20 van 1 Korinthiërs 6 daarop gewys word dat ons in liggaam en gees aan God behoort. Dit is n beklemtoning van die balans wat in ons Godsdiens gehandhaaf moet word. Ons kan nie net op slaafse wyse gebooie onderhou nie, want dan verheerlik ons God dalk in die liggaam, maar nie in die gees nie.

Ons moet egter ook daarteen waak om die Skrif só vêr te vergeestelik dat ons optrede in die liggaam nie meer tot verheerliking van God is nie. Hierdie is n algemene verskynsel in ons samelewing waar mense hulself geestelike waarhede wysmaak wat lynreg teen die Woord van God indruis. Hulle is egter oortuig daarvan dat hulle God in hul optrede behaag omdat hulle die dieper, geestelike waarheid van n bepaalde onderwerp sou verstaan. Daar is uiteraard in die meeste Skrifgedeeltes baie diep en verborge geestelike waarhede opgesluit. En hierdie waarhede word op die regte tyd deur die Heilige Gees aan n gelowige openbaar. Daar is ongelukkig ook mense wat geestelike waarhede in die Woord wil inskryf wat nie bestaan nie. En dit is n vergryp teen God. Elke woord van God is gelouter;... Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy nie van jou rekenskap vorder en jy as n leuenaar openbaar word nie. (Spr. 30:5&6). Lees gerus ook in Deut. 4:2, 12:32 en Openbaring 22:18&19 wat die Here in hierdie verband sê.

Mag ons ook in die dae wat voorlê opnuut leef met die wete en diepe besef in ons hart dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan onse Here Jesus Christus wat ons duur gekoop het. En mag ons dankbaarheid ons met nuwe ywer vul om ons in liggaam en gees aan God te wy om vir Hom te leef en Hom in liggaam en gees te verheerlik.

En wanneer ons onsself dalk as vreemdelinge hier op aarde voel waar soveel mense net geen saak met God het nie kan ons rus in die wete dat Christus ook as vreemdeling behandel is toe Hy in die vlees aarde toe gekom het. Wanneer ons dan n volgende keer daardie verfoeilike musiek dalk iewers in n winkel hoor blêr dat die mens oor sy eie lewe beheer uitoefen, laat ons God in ons gees dank dat Hy ons losgekoop het en dat ons in liggaam en gees aan Hom behoort. Met die regte ingesteldheid sal selfs die verkondiging van n leuen ons aan die waarheid herinner en hopelik ook aan ons verantwoordelikheid om God in die liggaam en gees te verheerlik!

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie