1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7441685

Besoekers aanlyn

Ons het 15 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

Veteraan-kultuurgees Hans Fransen (86) in Pinelands oorlede

Hans FransenDr. Hans Fransen was ʼn voorvegter vir die bewaring van die Ou Kaapse argitektuur. Hierdie foto van hom is in Maart 2011 in Kaapstad geneem toe hy saam met Marie-Lou Roux ʼn protesveldtog teen die ontsiering van die historiese Lutherse Kerk in Strandstraat deur onvanpaste ontwikkelings gelei het. Fransen het toe duisende handtekeninge van mede-beswaarmakers ingesamel en dit saam met ʼn beswaarskrif by die Kaapse stadsraad ingedien. Foto: MARTHINUS VAN BART 

 

"Die dood van dr. Hans Fransen is ʼn groot verlies vir Suid-Afrika. Hy was ʼn onvervangbare kundige en boekstawer van die Suid-Afrikaanse argitektuur, kultuurgeskiedenis en die kunste."

So het dr. Dan Sleigh, historikus, skrywer en jare lange vriend van Fransen gesê nadat dit  bekend geword het dat Fransen op Maandag 11 Desember 2017 op 86 jaar in ʼn versorgingsoord in Pinelands oorlede is.

Die enigste dogter, Kari Longman, van hierdie wêreldbekende museum-argivaris, skrywer, lektor, bewaringsaktivis en adviseur, het gesê haar  pa het die middag omstreeks 16h25 met aandete aan ʼn toebroodjie gestik, en kort daarna gesterf. Hy was die afgelope anderhalwe jaar sorgbehoewend na ʼn onsuksesvolle breukoperasie in April 2015. Sy vrou, Marie Aneen (van Zyl), word by dieselfde oord versorg. Die egpaar was 54 jaar lank getroud.

Fransen is op 14 Junie 1931 in Amsterdam, Nederland, gebore. En hoewel hy vanaf die einde van 1955 die res van sy lewe lank ʼn Suid-Afrikaner was, het hy nooit sy Nederlandse uitspraak en Dietse patriotisme prysgegee nie. Hy het argitektuur studeer voordat hy na Pretoria gekom en ʼn betrekking by die departement van waterwese as landmeter bekom het. In 1968 het hy ʼn BA-graad in kunsgeskiedenis aan Unisa behaal, en in 1989 ʼn doktorsgraad in kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Natal met ʼn verhandeling: “Styl-tydperke in Kaapse argitektuur en versiering”.

In 1959 was hy ʼn pers- en kulturele assistent en tolk by die Franse ambassade in Pretoria en in Kaapstad. In dieselfde tyd het hy ʼn betrekking van drie jaar as proefleser en redaksionele assistent by Die Burger in Keeromstraat, Kaapstad, beklee.

Sy lang loopbaan in die museumwêreld het in 1962 begin toe hy aangestel is as waarnemende kurator van die Michaelis-kunsversameling in die Burgerwaghuis op Groentemarkplein, Kaapstad. Van 1990 tot 2001 was hy ononderbroke direkteur van hierdie versameling. Van 1965 tot ’69 was hy agtereenvolgens kurator van die Stellenbosch Museum, van die Groot Constantia Museum (1970- 74), en assistent-direkteur van die SA Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad (1975-’80).

Van 1981 was hy nege jaar lank senior lektor in kunsgeskiedenis aan die destydse Universiteit van Natal in Pietermaritzburg, voordat hy in 1990 na Kaapstad teruggekeer het om sy kuratorsloopbaan by die Michaelis-versameling te voltooi. Ná sy aftrede in 2001 was hy onder meer adviseur én aktivis vir die bewaring van die Kaapse argitektuur en die kunste. Hy was byvoorbeeld nou betrokke by die Boerneef-kunsversameling in Welgemeend op die terrein van die Hoërskool Jan van Riebeeck, en het meegewerk aan die restourasie van Tulbagh se historiese Kerkstraat. Ook was hy bevriend met die kunsafslaer wyle Stephan Welz en het hom dikwels van advies oor kunswerke op veilings bedien.

Fransen se grootste nalatenskap is ongetwyfeld die monumentale boekeskat uit sy pen. Die meeste hiervan word deur akademici en beroepslui as standaard handleidings vir die volksboukuns en die kunste van Suid-Afrika beskou. Die veertien werke, waarvan etlike mettertyd bygewerk en heruitgegee is, is:

The Old House of the Cape - saam met Mary Alexander Cook (1965)

Architectural Beauty of the Old Cape as seen by Arthur Elliott (1969)

Gids vir die Museums van Suider-Afrika / Guide to the Museums of Southern Africa (1969)

The Cape Chair (1971)

Groot Constantia (1972)

Ontdek Stellenbosch - saam met die fotograaf  Christo Botha  (1979)

Old Buildings of the Cape (1980)

Drie Eeue Kuns in Suid-Afrika (1981)

Three Centuries of South African Art (1982)

A Cape Camera (1994)

A Guide to the Old Buildings of the Cape (2004)

Old Towns and Villages of the Cape (2006)

Erik Laubscher - ʼn biografie (2009)

Cape Baroque and the Contribution of Anton Anreith (2015)

Fransen was lid van talle beroepsorganisasies, soos  die SA Association of Art, die Stigting Simon van der Stel, die Volksboukundige Vereniging van Suid-Afrika, die SA Vereniging van Kultuurhistorici, die SA Museumvereniging, en die Orde van den Prince (afdeling  Kaap de Goede Hoop).

Onder die talle toekennings wat hy vir sy gehaltewerk ontvang het, is die Stigting Simon van der Stel se goue medalje (1984); die Cape Times Centenary -toekenning vir bewaring (1993); ridderskap van die Nederlandse Orde van Orange-Nassau (2001); ʼn ere-doktorsgraad van die Stellenbosch Universiteit (2008)

en die ere-medalje van die Stigting VOC (2016). By dieselfde plegtigheid is nog ʼn voorvegter vir bewaring van die argitektuur, Marie-Lou Roux, wat vroeër vanjaar oorlede is, ook met die VOC se medalje en ere-lidmaatskap vereer.

Fransen was ʼn knap fotograaf wat die meeste van die foto’s vir sy gesaghebbende boeke self geneem het. Hy het meer as 5 000 km per fiets afgelê om sy foto-opnames te doen. As fiksheidsgeesdriftige het hy as atleet 45 marathons afgelê - waarvan ses in die Comrades marathon, en as kranige fietsryer het hy aan 21 Argus fietstoere in die Skiereiland deelgeneem.

ʼn Huldigingsdiens vir hom word op Vrydag 15 Desember om 11h00 by die Huis der Nederlanden (Sasnev) aan Centraal Plein in Pinelands gehou.

* Rig huldeblyke aan Longman by selfoon 079 515 5557 of e-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie