1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
4424952

Besoekers aanlyn

Ons het 37 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Afrikaner

WEES VERSIGTIG, MAAR NIE STIL NIE

BybelEfésiërs 4:17-32

“Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” (:29).

Soms is dit lekker om net opsy te staan en luister. ‘n Mens kan partymaal nie anders as om te glimlag wanneer jy luister na twee kleuters wat met mekaar kommunikeer nie. Dit is vir my te kosbaar om soms die kinderlike onskuld te merk in kleuters se gesprekvoering met mekaar.   Dinge kan só eenvoudig wees in ‘n kind se gedagtewêreld waar daar óf reg óf verkeerd is en geen tussenin nie. Dit gebeur ongelukkig ook dat daar somtyds uit kleuters se gesprekke krake van gebrekkige opvoedig deurslaan. Dit sal ook oneerlik wees om te ontken dat daar soms uit kleuters se monde dinge kom wat jy beswaarlik sal verwag om uit ‘n volwassene se mond te hoor.

‘n Uitdrukking wat sedert my kinderdae holrug gery is, is natuurlik dat ‘n mens tweemaal soveel moet luister as wat jy praat. Die samelewing sou dalk heelwat anders daaruitgesien het as ons hierdie raad ter harte geneem het, of sal ek eerder sê - as ons maar net geluister het.

Ons kan soveel kosbare inligting deur gehoor inwin. Dink maar hoeveel beter die verhouding tussen ouers en kinders sou wees as die televisie se rumoer in die aand stilgemaak word sodat ‘n gesin onder die geklank van die Woord gebring kan word rondom die huisaltaar. U sal verstom staan oor hoeveel hegter ‘n gesin saamgesnoer word wanneer daar rondom die tafel saam geëet word eerder as tussen die geblêr van ‘n beeldradio. Alhoewel daar ook rondom die etenstafel meningsverskille kan voorkom, sal ouers met ‘n noukeurige oor oplet waaroor die meningsverskille gaan en dienooreenkomstig leiding in hul kinders en gesin se lewens kan bied.

Wanneer ons noukeurig na mense se woorde luister kan ons ook te wete kom wat baie diep in hul harte aangaan.   So sal ‘n persoon wat daadwerklik ‘n verhouding met God het en Sy wet dag en nag in sy hart koester en oordink, onwaarskynlik praat oor sy drinkpartytjies, losse verhoudings of selfs bedenklike saketransaksies. Dit is eweneens ondenkbaar dat ‘n nederige en ootmoedige persoon die hele dag sou loop en praat oor sy uitsonderlike prestasies. Menigmaal onwetend, verraai mense deur hul woorde dit wat waarlik in hul harte aangaan. “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.” (Luk. 6:45).

So gepraat van ‘n gepratery. So beleef ons toe mos verlede jaar (2016) een van die ergste droogtes in ons land sedert ek geleer het om te onderskei tussen goed en kwaad. Daar trek mense d.m.v. e-posse, artikels, koerantberigte en elke denkbare sosialemediakommunikasiemedium los met ‘n wekroep om biddae vir reën te hou. Te midde van al hierdie wekroepe is hier en daar ‘n stemmetjie uit die stof van mense wat voorspraak maak dat ons asseblief nie moet vergeet van die dankdae, sou God ons gebede beantwoord nie. Nodeloos om te sê dat die voorblaaie van die nuusmedia wel beskikbaar was vir biddae om reën, maar ons sal dalk nog ‘n entjie na die artikels oor die dankdae moet soek. So was daar sekerlik tien monde wat uitgeroep het om hulp, maar was daar darem een wat in dankbaarheid neergekniel het?

Net soos wat die verkeerdheid wat in die vorige paragraaf beskryf word ooglopend is, is die besorgdheid oor wat in ons volksgenote se harte aangaan nie ongegrond nie (maar weliswaar ongehoord). Asof die Afrikaanse taal nie ryk genoeg is aan beskrywende woorde nie is daar blykbaar deesdae net vier of vyf kru woorde wat aangewend word om “krag” aan menige spreker se sinne te gee. Hierdie is ‘n verskynsel wat die geestelike armoede onder ons nog duideliker as die gebrekkige taalkennis uitbasuin.   

Die vermaning in ons gelese gedeelte van vandag is wel tweeledig. Eerstens is dit om te waak daarteen om onversigtige woorde van vernietiging te spreek. Daarnaas word ons ook aangespoor om in versigtigheid die regte woorde te spreek om mense tot inkeer te bring en in liefde te berispe. “...maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” Hierdie verborgenheid om mense met goeie oorleg tereg te wys deur verstandige lering is ‘n les wat die wysste menslike heerser van alle tye, koning Salomo, wel ter harte geneem het. Hy het ook gemeen om hierdie kosbare les met die nageslagte te deel. “Die tong van die regverdige is uitgesoekte silwer;... Die lippe van die regverdige help baie mense reg;... “ (Spreuke 10:20&21).

Ons leer nie verniet uit Jakobus 3 dat een van die grootste uitdagings vir die mens hier benede weliswaar is om te leer om verstandig met sy woorde om te gaan nie. “Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.” (:2).

Só dikwels hoor ons die vrae gons rakende die onsekere toekoms van die Afrikaner. Hoe lyk die toekoms van die Afrikaner? Is daar hoop vir die Afrikaner? Waar begin ons in ons vryheidstrewe om te ontkom aan ‘n heidense juk wat ons opgelê is? Dit is dalk nodig om sommer by hierdie groot uitdaging wat vir ons in Jakobus 3 gestel word te begin. As ons dalk kan leer om met die tong die ongeregtigheid aan die brand te steek en te vernietig en mekaar op te bou en te bemoedig eerder as om ongeregtigheid te vermeerder en mekaar te belaster en te beswadder, neem ons dalk meer beheer oor ons omstandighede en toekoms as wat ons nou besef.

Dit is waarskynlik dat ek en u nog menigmaal in woorde gaan struikel. In ons strewe na volmaaktheid volgens die voorbeeld van ons Leidsman, Jesus Christus, kan ek en u egter vandag die keuse maak om ons woorde voortaan meer versigtig te weeg. Dit is dalk ‘n goeie begin om deur ons woorde die aangename verskil rondom ons te bewerk wat ons en ons hemelse Vader graag sal wil sien. “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.” (Kol. 4:6).

Wie weet of die sout in ons woorde nie die wondergeneesmiddel vir ‘n swaargewonde volk is nie? Ek kan daarvan getuig dat Sy Woorde al menigmaal vir my genesing gebring het selfs in die mees ondenkbare omstandighede. Ek sal daarom nie verbaas wees as die pad van ons volk se herstel dalk eerder by ‘n suiwer en welgesproke woord as by die eerste tree begin. Waar beter sal ons dan ook soek na die regte woorde as juis in die Woord van God? “Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.” (Ps. 12:7).

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie