1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8529321

Besoekers aanlyn

Ons het 63 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Media

STRATEGIE IN STRYD

Kinders word vandag wysgemaak dat ons in ‘n toestand van vrede leef, terwyl die wêreld om ons gekenmerk word deur konflik. Hierdie konflik is orals aan die orde van die dag - 'n opponent wat jou wil uitoorlê, 'n mededinger van jou besigheid, 'n afgunstige kollega of skoolmaat, ‘n vyand van jou volk, ja om elke hoek en draai is stryd en konflik, eerder as vrede die reël.  Dan is daar ook nog diegene in eie geledere wat maak asof hulle aan jou kant is – “ons eie mense” - maar wat jou om elke hoek en draai ondermyn.  Kinders behoort voorberei te word vir die konflik in die lewe en nie, soos wat tans die geval is vir “vrede”, wat maar niks anders as ‘n skynvrede is nie. Van kindsbeen af behoort die jeug in die fynere kunsies van strategie onderrig te word.

Die probleem is dat kinders glad nie voorberei word vir die konflikte van die lewe nie, aangesien hulle heeldag wysgemaak word dat ons in 'n “demokrasie” lewe, dit wil sê, een waarin konflik ontbreek.  Onthou u nog die belofte: Vrede, veiligheid en voorspoed? Robert Greene skryf in sy boek The 33 Strategies of War oor strategie – ‘n waardevolle boek in tye soos hierdie.  Hy stel dit dat die woord strategie afkomstig is van die Griekse woord strategos wat letterlik beteken “die leier van die weermag”. Strategie in hierdie betekenis is die kuns van generaalskap of om in bevel van die totale oorlogspoging te wees.  So sluit strategie in die formasies wat gebruik sal word, die terrein waarop geveg word, die maneuvers wat aan jou 'n voordeel sal gee, die taktiek wat van tyd tot tyd gebruik sal word, en dies meer.  Napoleon word beskou as die grootste strateeg van alle tye.  Sun-Tzu wat die boek The Art of War geskryf het, was die eerste persoon wat strategie omvattend beskryf het.

 

Van die 33 strategieë wat Greene behandel is die volgende:

 

  • Verklaar oorlog teen jou vyande.  Jy kan nie in vriendskap met 'n geïdentifiseerde vyand leef nie.  Die lewe is 'n eindelose stryd en konflik en ten einde in hierdie stryd die botoon te voer, moet jy in staat wees om jou vyande te identifiseer.

 

  • In enige oorlog moet 'n veldslag nie beskou word as die laaste een van daardie oorlog nie.  Leer uit elke veldslag en uit elke fout wat gemaak is.  Wees aanpasbaar in jou strategie vir die volgende veldslag.

 

  • In die hitte van die stryd, moet die groter prentjie nooit uit die oog verloor word nie.  Moet nie oorreageer of in vrees of uit emosie optree nie.  Bly koelkop in alle omstandighede.

 

  • Groepsdenke in 'n oorlog werk nie.  Die leier moet die finale besluit neem en sy bevele moet duidelik en inspirerend wees.

 

  • Die kritiese elemente in 'n oorlog is spoed en aanpassing veral om vinniger besluite te neem as die vyand.  Kleiner gevegseenhede wat vlugvoetig en aanpasbaar is by veranderde omstandighede is te verkies bo 'n onbeweeglike statiese gevegsmag.

 

  • Soldate word gemotiveer deur 'n “kruistog” (“crusade”).  Hulle moet glo in die saak en bereid wees om hulleself vir die groep en die saak op te offer. Entoesiasme is meer aansteeklik as défaitisme.

 

  • Toets die gevegsterrein waarop die veldslag gevoer sal word.  As dit jou nie pas nie, bly weg daarvan.  Moet nooit die terrein kies wat deur die vyand gekies word nie.

 

  • Wees aggressief in jou benadering, maar vermy onnodige veldslae. Bou 'n reputasie van onoorwinlikheid. Indien die oorwinning op 'n ander wyse as deur middel van 'n veldslag behaal kan word, is die demoraliserende effek op die vyand selfs groter.

 

  • Kleiner veldslae kan verloor word, dit is die oorlog wat gewen en op gefokus moet word.  Die uiteindelike doel moet in gedagte gehou word, eerder as onbelangrike veldslae wat jou aandag aftrek en kragte tap.

 

  • Indien jou vyand huiwer, moet genadeloos op hom toegeslaan word.  Jy moet nooit te midde van 'n vyand wat huiwer en skarrel terugdeins nie.  Die blitzkrieg saai terreur en paniek by die vyand en inspireer jou eie ondersteuners.

 

  • In enige oorlog gaan dit oor beheer en kontrole.  Daarom moet die vyand se strategie bestudeer word sodat jy in beheer kan wees van die bewegings van die vyand.  Intelligensie is van wesensbelang.

 

  • Elke vyand het sterk en swak punteOm die vyand se sterk front binne te dring, verseker bykans altyd die oorwinning.  Moet nooit deur jou vyand se postuur geïntimideer word nie.

 

  • Nog voor 'n veldslag begin moet jou vyand twyfel oor jou strategie en oor sy eie vermoë.  Daarom moet die vyand deurentyd aan die raai gehou word oor jou volgende skuif.

 

  • Hou die vyand aan die raai oor jou werklike motiewe jou werklike krag en die omvang van jou steun.  Die gewone en die ongewone moet deel van jou strategie wees en wanneer die ongewone gedoen word, moet dit met brute krag gedoen word om die vyand in 'n staat van paniek te stel.

 

  • Die saak waarvoor geveg word moet vir jou eie mense en vir buitestaanders moreel geregverdig blyk.  Die morele hoë grond moet betree word.

 

  • Indien daar twyfelaars in eie geledere is, moet hulle bedenklike motiewe vinnig en effektief aan die kaak gestel word.

 

  • Moet nooit die belang van klein oorwinnings onderskat nie.  Dit gee aan jou 'n reputasie van onoorwinlikheid.

 

  • Wees in beheer van jou vyand se denke.  Dit laat hom twyfel oor sy eie vermoë.  Indien enigsins moontlik, vernietig die vyand van binne.

 

  • Wanneer jy sterk is, moet jy maak asof jy swak is en wanneer jy swak is moet jy maak asof jy sterk is.  Die vyand moet deurentyd aan die raai gehou word.

 

  • Veroorsaak onsekerheid en paniek in die geledere van die vyand deur te konsentreer op diegene in die vyand se geledere wat maklik beïnvloedbaar is.

 

Die boek is aan te bevel en lees lekker.  Elke strategie word aan die hand van verskeie voorbeelde uit die geskiedenis gemotiveer.  Bekende generaals, politici, besigheids lui en andere se strategieë word bespreek.  Vandag kan die Afrikaner veel put uit hierdie boek.  Ons verkeer ook in 'n staat van oorlog met 'n vyand wat ons wil vernietig. 

 

Wanneer kinders onder die besef gebring gaan word dat hulle nie in 'n staat van “naasteliefde” leef nie, maar in 'n staat van voortdurende en eskalerende oorlog, konflik en stryd, sal hulle in staat gestel word om hulleself te verweer teen die talle aanslae wat vandag teen hulle geloods word. Maar dan moet ouers hulle hiervan vertel!  

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie