Afrikaner-meningsvormers en Afrikaner-raadgewers
Moet nou nie verbaas wees as daar geen raad in die volgende skrywe voorkom nie. En die skrywe met vrae eindig.
Want daar moet so 'n slaggie bors skoon gemaak word oor die Afrikaner se raadgewers.
Dit sal gedoen word op die vraag af wie vandag die Afrikaner se raadgewers is (Een van die hoog aangeslaande raadgewers van ons tyd, Tim du Plessis, iemand wat 'n jaar of drie gelede gesweer het by die woord “Afrikaanse”, sê “Afrikaanse” is/was sommer politieke lugspieëling, hy skryf nou eerder oor “Afrikaners”.)
Vir eers moet gevra word waar die Afrikaner, dis nou behalwe die Bybelse 7 000 wat op behoudende webwerwe rondswerwe op soek na die waarheid, sy raad vandaan kry. Die antwoord daarop is hoofsaaklik die ANCBC-radiostasie RSG en die verskillende Naspes-publikasies. Tot 'n mate ook hoofstroom-kerkdenominasies soos die NG Kerk en die AGS. Daar word die hoofstroomprofete gevind. Ja, ook Du Plessis (miskien moes sy naam Tim Duplicity gewees het!).
Twee groot hoëpriesters in die raadgewerkader is egter die buite-kerklikes Pieter-Dirk Uys en Nataniël.
Hierdie twee kêrels (!) is hoog gereken in die hoofstroomnuusmedia. Kyk, as Nataniël (hy voer aan hy kan om die dood nie op Afrikaans sing nie) raad gee oor goeie maniere op RSG in die nuwe, oue en toekomende land van melk, vonkelwyn, goue stroop en gratis kondome, se sit, lê en staan, dan is dit met 'n hoëpriesterlike gesag, 'n toon in sy stem, jy kan sommer in jou verbeelding sien hoe Amoreuse Bekker daar in die RSG-ateljee agter die mikrofoon kneukel. En dan vertel Nataniël ook in 'n vrouetydskrif kaalkop die waarheid.
Uys is die kêrel wat as Evita en Klasie Bezuidenhout al van doerie tyd vir PW en Pik Botha in sy Adapt or Dye (of so iets) vertel waar Dawid die wortels gegrawe het. Maar nou, kort voor “die”, (die Engels vir soos in sterwe aan die hand van 'n panga/masjiengeweer/kanon - die kanon ANC-leier Zuma se resentste vorm - voor 'n MK-saamtrek in Bloemfontein), is Julias Malema Uys se satiriese teiken. En dalk ook Jacob Zuma self.
Op kerklike vlak is die stem van die voormalige redakteur van Die Kerkbode dr. Fritz Gaum ook nog nie stil nie. Uit sy pen stroom steeds 'n klomp, as die leser wil, geestelike diarree. Een daarvan 'n deursigtige poging om homoseksualisme te regverdig nou dat sy seun (steeds 'n NG predikant?) uit die kas geklim het.
By al die kreune oor Gaum se nuwerwetse kerklike ontboeseminge moet daar darem hierdie een woordjie van dankbaarheid gespreek word. Hy het vir die eerste keer die sluier gelig oor wie nou eintlik vir die Belhar-belydenis, daardie dokument wat pleks van die NG Kerk bymekaar te maak die arme drommels verder verstrooi, verantwoordelik is. Dit is toe nooit Allan Boesak, soos allerweë gegis is nie. Dit was ene ds. Dirkie Smit.
'n Ander rede waarom 'n feit soos hierdie (wie outeurskap van Belhar moet aanvaar) vermeldingswaardig is in 'n artikel oor die raadgewers van Afrikaners nou se dae, is die volgende:
Hierdie skrywer is 'n lidmaat van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK). Weens die feit dat die gemeente met 'n ander gemeente in 'n bedieningsooreenkoms was, was die leraar nie al die Sondae vir preke beskikbaar nie, dan moet die ouderlinge maar self inspring en preek.
Ek weet nie wie van die Sentrale Kerkkantoor van die APK die raad gegee het nie, maar daar is baie gereeld vir ons uit 'n bundel van hierdie ds. Dirkie Smit preke gelewer. En nie net Dirkie Smit-préke nie. Ek moes vir 'n lang tyd saam met die Bybelstudiegroep deur 'n Bybelstudiehandleiding van hierdie Dirkie Smit, outeur van die Belhar-belydenis, worstel.
Maar vir eers genoeg oor “reform by stealth” volgens die resep van Samuel Huntington...
Op RSG is daar Sondagaande ná agt 'n nuusagtergrondprogram. Gaan luister maar daar na raad en opsommings deur Piet Kopdoek Croucamp, onse eie Sylvester Stallone en politieke Rambo. Ook as u in die menings van Naspes se Kleurling-redakteurs belang stel. Sê een van hierdie redakteurs nou 'n paar Sondagaande gelede dis klaar met die Julias Malema-kees.
Die implikasie agter so 'n stelling is dat dit oor en verby is met Julias se politieke loopbaan, Kallie Kriel en Flip Buys van Solidariteit en Naspes het hul taak goed afgehandel toe hulle Malema oor sy Kill a Boer-haatgesang voor die Menseregtehof aangetree het.
Of dalk, soos hulle op Engels sê, “ge-overkill”?
Dit wonder ek toe in my enigheid. En dink daarby, ook in my enigheid: Is dit nie waarom daar so 'n skaars bedekte murmurasie in Naspes se koerante was oor Sollieforum se Malema-aksie nie?
Want hoe langer die Malema-spook kon loop, hoe langer kon hulle (met City Press vooraan), vir Zuma en Kie daarmee kasty. Dis ook die, dink ek, dat daar soos nou en dan waargeneem word, dat Naspes met so 'n laaste poging en in die doodsnikke probeer om die Julias Lasarus Malema-kadawer te laat herleef. Deur Naspes-verslaggewers tot in die verste uithoeke van die ou Cis- en Transkei agter Julias aan te stuur waar hy aan Swart ANC-kerkgangers die evangelie verkondig.
Voor 'n kort opgaaf van meningsvormers in Naspes-publikasies dalk hierdie interessante stukkie raad van ene dr. Adri, 'n huweliks- of verhoudingsvoorligter wat Huisgenoot-lesers in sulke sake van raad bedien (Huisgenoot, 3 mei 2012). 'n Klaarblyklike wit vou skryf aan haar sy is aangetrokke tot 'n Swarte en oorweeg 'n huwelik met hom. Onder meer omdat die Swarte vir haar kan sorg. Die raadsoeker skryf ten slotte sy is al moeg gehuil oor die probleem.
Dr. Adri antwoord: “Ek is ook al moeg. Moeg vir die al die vroue wat dink hulle kan nie op hul eie sinvol lewe nie... Ek gee sowaar nie om of die man in die restaurant swart of wit of bruin is nie.” Sy voeg by die vrou praat net van geld in haar brief. En oor hierdie geld is so 'n verhouding “by voorbaat gedoem”.
In Sake-Rapport hanteer Nico van Gijsen 'n geldsake-rubriek. 'n Kennis het glo aan Van Gijsen gesê hy sal in sy testament bepaal dat as sy kinders met Swartes trou sy kinders hul erfporsie verbeur. En oor hierdie houding lees Van Gijsen dan die persoon wat klaarblyklik in 'n yslike penarie sit die leviete voor. Die hele Mosaïese opgaaf.
Die rubriekskrywers
Rapport het sedert Bokkie Gerber die leisels geneem het as redakteur nuwe rubriekskrywers gekry, een Jakes Gerwel, beskermheer of iets van die Nelson Mandela-Stigting (klaarblyklik nie omdat hy op 'n welwillendheidsekskursie is nie, maar weens sy politieke voorkeure. Ons het Gerwel se opgang in die Afrikaanse joenalistiek te danke aan Harald Pakendorf, daardie laksman wat teenwoordig was by die laaste oomblikke van vele Afrikaanse koeante. Terloops: Pakendorf se artikels het ook skaars in Rapport geraak.)
Op Rapport se hoofartikelbladsy van 13 Mei paradeer Gerwel en Zelda Jongbloed as skrywers. Die boekeblad langsaan se redakteur is nog 'n Kleurling, Anatasia de Vries. Met op die bladsy advertensies dat Nataniël en Tobie Cronjé vertonings aanbied. In die Weekliks-bylae moet Afrikaners kennis neem van die Kleurling/Swarte Peter Clarke se apartheidswroeginge as kunstenaar. In Die Oop Gesprek is ene Celia Dawson aan die woord, terwyl Flip Buys en Piet Kopdoek uitwei oor hul safari of nie na die ANC-hoofkantoor Luthuli-huis, daardie safari wat Buys namens Sollieforum geweier het omdat hul kruit nog te nat is ná Solidariteit se bullebak-oorname van Radio Pretoria so reg onder die geheime regse organisasie, die Volksbond, se neus, ook die manipulasie van stemme op die Radio Pretoria-direksie ten einde die SollieForum-oorname glad te laat verloop.
Dalk by nabetragting 'n woord oor Gerber self.
Op ander webbladsye vir behoudendes word daar gegis dat Naspes se hoofartikels nou “gesentraliseer” is, sal ons maar self byvoeg, Prawda-styl, en dat Gerwel, Du Plessis of Peet Kruger dalk nou die uitverkore skrywers van hoofartikels is. Gerber self is nie in daardie gissinge onder bespreking nie.
Sedert Gerber se aanvaarding van die pos waai daar gewis nuwe winde by Rapport. Koue, onvriendelike winde vir die Afrikaner-nasionalis as die nasionalis tot nou toe gedink het Naspes het iets vir Afrikanernasionalsime oor.
Hierdie is maar my eie gissing wat ek by daardie gissinge wil voeg: Bokkie Gerber se pa was Hennie Gerber. Hulle albei was sportskrywers, met ander woorde hulle destydse politieke lojaliteit was nie juis in die kollig nie.
Hennie Gerber het 'n biografie oor Danie Craven geskryf. Craven het nooit 'n geheim daarvan gemaak dat hy 'n SAP is nie.
Ek vermoed pa en seun Gerber is/was SAPPE. Soos wat die groot kitaarslaner van Naspes, Ton Vosloo, 'n SAP was en nou nog is.
Op die oog af wil dit lyk of Gerber uit sy aftrede teruggeroep is om die sinkende Rapport-skip te red. Maar was die aanstelling van die jeugdige en politiek naïewe Albrects as vorige redakteur nie 'n berekende stap nie? Soos in wanneer die onafwendbare gebeur en Rapport lesers by die honderde duisend verloor Vosloo sy man kan instuur nie?
