Dit is onwillekeurig dat ’n mens die gedagtegang van diegene wat hulle be-ywer het vir die “Nuwe” Suid-Afrika, sal probeer verstaan, veral as alles rondom jou besig is om in duie te stort. Die lig het opgegaan toe ek Kroes Kras Kordaat, die nalatenskap van wyle Willem de Klerk, ouer broer van F.W. de Klerk, ter hand geneem het omdat George Claassen op die agterblad daarvan skryf dat elke Afrikaner dit behoort te lees.
Met sy demonisering van nasionalisme en vergoeiliking van die liberalisme deur dit te vervang met die benamings verlig en verkramp, het hy ‘n grys gebied tussen die twee begrippe geskep wat vêrreikende gevolge sou hê. Die onderstaande artikel oor hom verskyn op die internet.
“Dr. Willem Johannes de Klerk (1928 - Johannesburg, 7 Augustus 2009) was 'n Afrikaanse akademikus, predikant, redakteur van die oggendblad Die Transvaler en Sondagkoerant Rapport, stigterslid van die Demokratiese Party, die oudste broer van voormalige president F.W. de Klerk en seun van oudminister Jan de Klerk.
Redakteur van Die Transvaler
Carl Nöffke het in sy laaste hoofartikel as redakteur van Die Transvaler op 13 Augustus 1973 geskryf staatkundige afsonderlikheid is 'n beginsel wat voor elke vierskaar van moraliteit en regverdigheid verdedig kan word. Verdedig dit net gereeld en sonder enige toegewings. Die volgende dag skryf Willem de Klerk, wat van die Potschefstroomse Universiteit vir CHO Johannesburg toe gekom het om redakteur van Die Transvaler te word, die verwantskap van die koerant met die Nasionale Party is 'n vrywillige vennootskap op die raamwerk van basiese beleidstroom. Dis nie napraat nie, maar saampraat - en as dit verantwoord is, teenpraat. De Klerk is as redder van Perskor se vlagskip verwelkom wat die aanslag uit die Suide (van Nasionale Pers) moes afweer. Van hom skryf Dirk Richard: "Willem de Klerk het 'n skerp brein en aanpassingsvermoë, hy weet hoe om te werk en hy het 'n innemende geaardheid wat mense na hom toe aantrek." Hy het in 'n politieke huis grootgeword. Sy vader, sen. Jan de Klerk, het as partysekretaris van die N.P. in Transvaal begin en later minister geword. Sy oom was adv. J.G. Strijdom en sy jonger broer, F.W. de Klerk, was vroeg reeds op 'n politieke koers wat uiteindelik tot minister- en presidentskap gelei het.
De Klerk het dikwels in stryd met sy vader gekom oor sy verligte uitkyk, maar sen. De Klerk was later een van sy grootste ondersteuners toe hy dikwels omstrede standpunte ingeneem het as Transvaler-redakteur. Voor sy aanstelling het De Klerk baie toesprake gehou en 'n verligte standpunt ingeneem in die Calvinistiese maandblad Woord en Daad. In 1966 was hy in die oog van die storm toe hy met die benamings "verlig" en "verkramp" vorendag gekom het tydens 'n toespraak voor die Sabra-jeugkongres op Warmbad. Hy het albei soort Afrikaners bygekom en die gematigde voorgehou as die positiewe, ideale Afrikaner. Die toespraak het by die koerante uitgekom en De Klerk is as liberalis uitgeskel. Die Transvaler onder Nöffke was een van die platforms vir sy verguising. In Die Vaderland het A.M. van Schoor in 'n hoofartikel 'n gek van hom probeer maak deur hom as die "nuwe verlosser" voor te stel - die wyse man en redder wat deur sy nek praat en Afrikanerskap beledig het. Hierna is hy oorval deur uitnodigings om toesprake te lewer en sodoende het die derde begrip - die ideale Afrikaner - heeltemal verdwyn weens die bohaai oor "verlig" en "verkramp".
De Klerk se eerste dag was 14 Augustus 1973. Met een slag is die koerant uit sy ou weë en knegskapverbintenis aan die Nasionale Party geruk. Dit het hom gereeld in stryd met die eerste minister, mnr. B.J. Vorster, gebring, wat geglo het sy kommentaar is te verlig, geleerd en teoreties. Oor verskeie vraagstukke het diep meningsverskille ontstaan. De Klerk was byvoorbeeld ten gunste van grys gebiede en dat die deel van openbare geriewe voorsiening moes maak vir wit, swart en grys vlakke. De Klerk het ook aangedring op die ontwerp van 'n grondwetlike grondplan met 'n verklaring van voorneme en perspektief op sekere basiese ontwikkelinge vorentoe. Vir Vorster was dit 'n belediging omdat die grondplan volgens reeds daar was en uit afsonderlike ontwikkeling bestaan het. Nog 'n haakpunt was die posisie van stedelike swart mense. Die koerant se standpunt onder De Klerk was dat hulle nie net tydelike stadsbewoners was nie. Vorster het by sy bekende standpunt gehou: "Oor die stedelike swart man is klaar gedink." Hulle was ook haaks oor geskille in die Nasionale Party, want Vorster het geglo Die Transvaler gee te veel aandag aan "aksentverskille".
So het De Klerk se stryd om Die Transvaler 'n beter koerant, vry van die ou lojaliteitsjoernalistiek te maak, die wind van voor gekry. Sy standpunt was dat hy 'n "lojale vriend" was, maar geen "propagandis" nie. Dr. Connie Mulder, Transvaalse leier van die N.P., het op 23 Januarie 1975 op Naboomspruit in 'n toespraak gewaarsku dat geen koerant in Suid-Afrika die voorreg het om die N.P. se standpunt te verkondig nie. Die Transvaler het dit verwelkom, maar Mulder was omgekrap oor die redakteur se astrantheid en beplan 'n vergadering vir 25 Augustus 1975 met die vier dagbladredakteurs van Perskor: Willem de Klerk van Die Transvaler, Harald Pakendorf van Oggendblad, Arthur Lake van Hoofstad en Dirk Richard van Die Vaderland. Beeld is van die gesprek uitgesluit. Die voorwendsel was 'n vriendelike gesprek tussen pers en party, maar eintlik was dit, volgens Richard, 'n slim set om die redakteurs bloot te stel aan 'n saal vol politici wat van die seldsame vergunning gebruik gemaak het om die persmense by te kom.”
Die besef dat by baie akademici, geleerdheid wysheid opsy gedruk het en met ’n arrogante selfvoldaanheid die ervaring uit die belewing van die geskiedenis van die tafel afgevee het, nuwe vastigheid in die anker van beleid en beginsel soos vanuit die geskiedenis se ontplooiing geformuleer, maar ook veral in geloof kom vestig namate die geleerdheid se gevolge begin “vrug” dra.
Op bladsy 11 van sy boekie sê Willem de Klerk die volgende: “Die voortvlugtendes, verstrooi in ander lande en soekende na ’n ander geborgenheid in die vreemde, is deel van die groot stroom nuwe groot trekkers. Daar word baie gerasionaliseer deur hierdie emigrasie Afrikaners. Dit gaan oor ’n toekoms vir hulle kinders, want alle beroepsdeure sal gesluit wees vir hulle. Die land gaan verval in chaos van geweld, etniese diskriminasie, agteruitgang van standaarde en uiteindelik ontwikkel nog ’n mislukte Afrikastaat.
Om hulleself te regverdig, konsentreer hulle op alles wat negatief afsmeer op die land en blaas dit dan ten barstens toe op. Waar die ontleedmes diep sny, word die sweer blootgelê as ’n verwerping, ’n ontkenning dat ’n swart bewind in staat is om Suid-Afrika te bestuur. Ras, Afro-pessimisme en angs laat hulle oppak. Lafhartige touopgooiers.
Hulle het ’n verleentheid geword vir Afrikaners. Hulle doen die Afrikanerbeeld groot skade aan. Hulle laat die land in die steek, want meesal is hulle kundige mense wat ’n groot bydrae kon lewer in die nuwe Suid-Afrika. “ Vir enige nasionalis is kommentaar oor dié boek oorbodig.
By die worsteling om deur de Klerk se dubbelslagtigheid en skeefgetrekte skuldgevoel waarmee hy die hele Afrikanerdom wou besmet , te lees, het ’n standpunt van wyle mnr. Jaap Marais by my opgekom: Sommige Afrikaners sal eers moet uitsterf, hulle nageslag mag dalk regkom. In die de Klerks se geval is ons gelukkig darem al amper daar.
