KOERS IN DIE KRISIS SEPTEMBER 2011
Dit is Septembermaand. Die maand waarin al baie groot politieke gebeure in die Afrikaner samelewing plaasgevind het.
“In die Suid-Afrikaanse politiek, wanneer dié maand aankom, moet jy jou oog op die Parlement hou as daar ‘n sitting is”, het mnr. Jaap Marais gesê.
- Ons lys ’n paar belangrike gebeure wat in September maande plaasgevind het.
- Op 14 September 1795 verower Engeland die eerste keer die Kaap en die Hollands-Afrikaanse nedersetting. Reeds dáár het die verknegting van die Afrikaner al begin!
- Op 2 September 1848 beset sir Harry Smith die Vrystaatse dorp, Bloemfontein.
Op 26 September 1899 rig pres Kruger ’n ultimatum dat die Britse troepe van die Transvaalse grens onttrek moet word. Toe Brittanje weier begin die Anglo Boere-oorlog op 11 Oktober 1899. - Op 5 September 1900 word die Afrikaner held, Danie Theron, by Gatsrand doodgeskiet.
Op 15 September 1914, bedank generaal CF Beyers as hoof van Verdediging tydens die Gewapende Protes, en word generaal J H de la Rey wat langs generaal Beyers in ‘n motor gesit het, “ per ongeluk” op dieselfde dag doodgeskiet by Langlaagte, en verdrink generaal Beyers ook “per ongeluk” in die Vaalrivier. - In September 1919, na die afsterwe van generaal Louis Botha, word generaal Smuts die eerste maal Eerste Minister van Suid-Afrika.
- Op 22 September 1920 is daar ‘n versoeningspoging tussen generaal Hertzog en generaal Smuts. Die poging slaag nie en die SAP van generaal Smuts en die Unioniste van sir Thomas Smart smelt saam.
- Tien jaar later, op 21 September 1931 wil Tielman Roos as gevolg van Brittanje se handeling, die Hertzog-regering van die goudstandaard afdwing, en agtien maande later loop dit uit op koalisie tussen generale Hertzog en Smuts, ‘n jaar later op samesmelting, en toe op skeuring.
- Op 3 September 1939 was die Parlement in sitting toe generaal Hertzog se neutraliteit mosie verslaan is en generaal Smuts die tweede maal Eerste Minister van Suid-Afrika word.
- Op 4 September 1939 word daar onder leiding van generaal Smuts nog ‘n keer oorlog teen Duitsland verklaar ten koste van die Afrikaner.
- Op 3 September 1958 word dr HF Verwoerd tydens ‘n parlementêre sitting Eerste Minister en volg wyle advokaat Strijdom op.
- Op 6 September 1966 tydens ‘n parlementêre sitting, ly Suid-Afrika die grootste verlies in ons geskiedenis toe dr HF Verwoerd vermoor word deur die Kommunis Tsafendas.
- Op 9 September 1969 skeur die Nasionale Party tydens die Transvaalse kongres met John Vorster en Ben Schoeman wat afwyk van nasionalisme, en kom die Herstigte Nasionale Party tot stand.
- Op 13 September 1966 word John Vorster Eerste Minister as opvolger vir dr. Verwoerd en lui dit die begin van die aftakeling van apartheid as staatsbestel in.
In September 1979 verklaar P W Botha dat “met die militêre stryd tyd gewen word, sodat op die diplomatieke, ekonomiese en politieke gebied, oplossings gevind kan word.” Die begin van onderhandeling met die vyand, met die oog op een-mens-een-stem. - Op 20 September 2008 het ‘n twintigtal van beswaarde HNP-lede in Kempton Park bymekaargekom en die Afrikaner Volksparty gestig, wat op 18 Oktober in die historiese Ou Raadsaal op Kerkplein, bekendgestel is.
Voorwaar ’n pad van stryd en oorwinning, maar terselfdertyd bewys van eienaarskap, onteiening en verowering, van besetting en bevryding. Die groeipyne van ’n volk tot hegte saambinding deur die loutering van stryd. Stryd wat nie gister begin het en nie môre gaan ophou nie.
Die stryd is die stryd tussen lig en duisternis. ’n Stryd waarin ons Hemelse Vader ons telkens tot oorwinning gelei het. Kom laat ons in ootmoed ons knieë voor Hom buig en in aanbidding ons skuld bely en bekeer. Terugkeer na die huisaltaar en ons kinders en kindskinders van Hom leer, want in Sy lig, sien ons die lig wat ons pad na vryheid helder sal verlig, soos wat Hy dit deur ons hele geskiedenis nog altyd gedoen het.
Daar ís koers in ons krisis, mits ons op Hom vertrou en in geloof nie verskrik word vir getalle en moondhede nie.
Hartlike Afrikaner groete
Danie Varkevisser.
Leier
