Deur Joseph Secreve
Die verwikkelinge van die laaste paar dae om die rewolusie te voltrek, is 'n belangrike indikasie waarheen die Westerse wêreld as geheel oppad is. Dit is iets wat nie net toevallig en oornag gebeur het nie, maar is jare gelede al vooraf beplan, en ons sit nou op 'n belangrike keerpunt. Dinge begin nou te versnel en die masker van beskawing en beskaafdheid het nou afgeval. Waar Suid-Afrika vandag is, volg die Westerse wêreld more.
Sedert verlede week sien ons hoedat Dan Roodt 'n hofsaak verloor het oor die verband tussen ras en geweld. Dit is nogal vreemd aangesien Trevor Manuel op Sondag 12 Maart 2006 op die e-tv program "Judge for Yourself" sy mond verbygepraat het oor die "increasing homicide amongst young black males".
Die voormalige redakteur van die Sowetan, Aggrey Klaaste het ook destyds - ek dink iewers in 2003 - gewaag om die tergende vraag te vra waarom swart mense babas verkrag. Hierdie kommentare was ongestraf gelaat en sou waarskynlik beskou word in die konteks van 'n 'verantwoordelike intellektuele debat'. Slegs mense wat tot die regte politieke groep behoort mag sulke vrae vra.
Dan kry ons die geval van sommige DA raadslede wat deur sy party in beskerming geneem word as hy Afrikaners as Nazi's uitkryt. Hy sal hoogs waarskynlik vervolging vryspring of met 'n ligte tik op die vingers daarvan afkom. Ons moet immers nie vergeet nie dat die oorspronklike stigter van hierdie party, Helen Suzman, ook geen liefde gehad het vir Afrikaners nie, hoewel sy 'n paar maande voor haar dood verbaas gevra het hoekom Afrikaners niks doen om die ANC te stuit nie. Waar die skille van Suzman se oë geval het, bly haar partynasate heimlik hunker na die Suid-Afrika van Rhodes en Milner. Hulle mag dan wel linkser as links wees om hul superryk meesters te paai, maar onderliggend hieraan skuil die gedagte: "Solank ons aan die mag is, sal ons sê wat ons wil".
Dan kry ons die opwellende aggressie vanuit swart rewolusionêre, met Julius Malema as die belangrikste gesig hiervan. In 'n onlangse berig in Beeld het selfs Winnie Mandela hom geprys as die groot nuwe leier van Suid-Afrika en as 'n tweede Mandela omskryf. Daar moet nou genasionaliseer word sonder vergoeding, en nie net die plase nie, maar ook die myne en gewone huise in die stede. Die wettige middele om Malema se grypsug te stop word ook steeds minder effektief en begin ook nou die knie te buig vir die wil van die rewolusionêre. Afrikaners wat nog glo in die beginsel van geregtigheid word gedwing om hulself na die Internasionale Strafhof in Den Haag te wend, aangesien geregtigheid in hul eie geboorteland nie meer gewaarborg kan word nie.
Die internasionaliste se doel met Suid-Afrika is so te sê bereik. Die Suid-Afrika van Verwoerd, wat berus het op die beginsels van integriteit, harde werk en soewereiniteit is 'n skim van die verlede. Waar mielieboere in die Vrystaat destyds genoeg voedsel kon produseer om groot dele van die wêreld van mieles te voorsien, kan Suid-Afrika nie eens sy eie bevolking meer voed nie. Hiermee intensifiseer die klimaat van woede van "ryk wittes" en "arm swartes", sodat die wittes nog verder tot 'n staat van hulpeloosheid gedwing word.
En wat is die rede hiervoor? Suid-Afrika, met al sy minerale reserwes, goeie industrie en Protestantse werksetiek was 'n belangrike speler op die wêreldtoneel gewees. Ek onthou nog hoe die Rand die Amerikaanse Dollar die loef afgesteek het en die Nederlandse Gulden 'n vyfde soveel werd was. Dit was die jare toe Verwoerd sy vingers na die Verenigde Nasies kon klap en homself aan geen internasionale speler hoef te steur nie. Selfs sy vyande kon sy sukses nie ontken nie.
Die belangrikste oorsaak van Suid-Afrika se suksesverhaal was ongetwyfeld sy bogenoemde Protestantse werksetiek gewees, wat 'n fundamentele onderdeel van Afrikanernasionalisme gevorm het. Vandaar het die rewolusionêre van vroeg af aan ingespeel op die kleinburgerlike Boerehaat van die ander groeperinge, met name die Engelse elite, sodat hierdie nasionalisme wat die Afrikaner bindingskrag en rigting gegee het, onklaar gemaak kon word. Deur vals, onsinnige krete soos "krag in diversiteit" by die publiek te indoktrineer, is hulle in werklikheid besig om krag en rigting af te swak en Suid-Afrika te verlam om geen kompetisie meer te kan vorm vir die superrykes nie. En solank daar nog Afrikaners is met 'n nasionale gevoel en geloof in hul eie krag, is die stryd nog nie verby nie. Hul grootste vrees is dat hierdie krag weer gaan opvlam en Suid-Afrika weg gaan stuur van sy huidige verlamde toestand.
Die Hongaars-Britse ekonoom Peter Tamas Bauer het in die sestiger jare al hierdie gevare raakgesien. Sy woorde hiervoor was dat daar 'n "onverklaarde, eensydige burgeroorlog teen die Weste" aan die gang was. Hoe waar is hierdie stelling nie.
Vir diegene wat hieraan twyfel, onthou wie se belastingbydrae na Julius Malema gaan.