TUKKIES KLA OOR DOSENT SE AFRIKAANS
Deur Alet Rademeyer – www.beeld.com
Meer as die helfte van die eerstejaars groep wat Afrikaans as hoofvak aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer, bly weg van dié klasse omdat hul dosent se taalvermoë hulle glo frustreer.
Beeld het vandeesweek klagtes van studente en hul ouers ontvang wat meen dié klasse is ’n vermorsing van tyd en studiegeld. Hulle beweer hul dosent, dr. Suzan Thembekwayo, se klasaanbieding is ’n pyniging omdat sy taal blapse maak waarop hulle haar gereeld moet wys.
Sy het glo byvoorbeeld onlangs na werk inhoud verwys wat “belaglik” is, terwyl sy eintlik “belangrik” bedoel het. “Dit het nie sin om in ’n klas te sit waar tot 15 minute daaraan bestee word om die woord ‘argumentasie’ te verduidelik nie.
“Baie van ons het ophou klas toe gaan omdat die werk hoofsaaklik woord vir woord aan ons voorgelees word,” het ’n student gesê.
Beeld het verneem die klagtes is onder die betrokke departementshoof se aandag gebring en daar is gevra hoe iemand Afrikaans as hoofvak kan aanbied as dit die dosent se derde taal is. Niks het egter nog gebeur nie.
Die UP het by navraag gesê Thembekwayo beskik oor ’n meestersgraad in Afrikaans wat sy in Afrikaans geskryf het. “Sy het ook ’n doktorsgraad in toegepaste linguistiek, wat haar ’n spesialis kenner van linguistiek maak. Sy bied onderrig op dié vakgebied aan.”
Sy bied die betrokke eerstejaarskursus in Afrikaans reeds die afgelope vyf jaar aan en is op die hoogte van die vakinhoud. Die UP het gesê die idee dat iemand ’n taal (as hoofvak) kan aanbied wat nie sy/haar eerste taal is nie, is nie vreemd nie.
“Talle moedertaalsprekers van Afrikaans is dosente in Engels, Zoeloe, Sotho, Duits of Frans. Ook vir hulle is dit ’n derde taal.”
Die universiteit het gesê daar word van Thembekwayo verwag om spesifieke werk oor Afrikaanse taalkunde aan te bied. “As foutiewe inligting oor die taalkunde aan die studente oorgedra word, sal dit gehanteer word.”
Een klagte het net oor haar uitspraak gegaan.