Lukas 1:26-38
“En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan.”(:38).
Hoor ons nie by herhaling hoe ons geleer word dat ons volk ons sal moet verootmoedig voor God alvorens daar vir ons verlossing sal wees nie? Dit laat die vraag egter ontstaan – wat is ootmoed? Is ootmoed dan nie die vergadering van ‘n groep mense wat skuld bely op een plek deur die gebed van ‘n leier nie. . . ?
Die moeder van onse Heer, Jesus Christus, was vir ons die toonbeeld van ootmoed met haar woorde in vers 38 van die gelese gedeelte. Nadat die engel van God die boodskap van haar groot begenadigde uitverkiesing verkondig het, dink sy nie verskonings uit waarom sy nie die geskikte diensmaagd van God kan wees nie. Sy probeer nie wegkruip dat sy maar net die verloofde van ‘n skrynwerker is nie en boonop verhef sy haarself nie om hoogmoedig te raak weens hierdie uitverkiesing van haar om die moeder van Christus te word nie. Sy onderwerp haar in nederige onderdanigheid aan God se Wil deur die woorde “Laat dit met my gaan volgens u woord.” Sy bely dus dat sy haarself en haar lewe onderwerp aan God se gesag en berus daarby dat dit met haar moet toegaan soos wat Hy dit wil.
‘n Lewe van ootmoed beteken om jouself in nederige onderdanigheid aan God se Wil te onderwerp. Dit beteken die teenoorgestelde as die humanistiese dwaling wat die mens oorbeklemtoon en vir die mens die idee skep dat God gereed staan om die mens te dien wanneer en hoe dit die mens pas. ‘n Lewe van ootmoed is egter om in ons eie lewens gereed te staan om God te dien en gehoorsaam te wees soos en wanneer Hy dit van ons vra. Dit beteken om in liefde vir God diensbaar vir te wees en gehoorsaam aan Hom te leef. Dit beteken dat jy Sy Wil vir jou lewe sal soek en dit ook nastreef eerder as om jou eie begeertes en strewes aan Hom te probeer voorskryf en opdwing.
Hoe sal ek dan weet wat God se Wil vir my lewe is? ‘n Mens leer God se Wil vir jou lewe ken deur daarna te vra, te luister wanneer Hy praat en gehoorsaam te wees. Jy sal moeilik God se wil vir jou lewe leer ken as jy nie self daarna soek nie. Dit is goed om tydens ‘n erediens te luister na God se Woord wanneer dit in waarheid verkondig word, maar elke gelowige het verder die verantwoordelikheid om self ook aan sy/haar persoonlike verhouding met God aandag te skenk. Jy moet nooit die gevaar loop om ‘n predikant of enige voorganger se wil vir jou lewe te volg nie, maar wel God se wil vir jou lewe. Dit is onteenseglik waar dat God gesante en diensknegte op aarde gebruik om in diensbaarheid Sy Woord te verkondig, te vermaan, te leer, te onderrig, te bemoedig, te versterk en te vertroos, maar in al hierdie dinge mag die individu nie die persoonlike verantwoordelikheid nalaat nie. Die leraar mag jou vermaan en waarsku, maar hy kan jou nie maak luister nie, want oortuiging kom deur die werking van die Heilige Gees. Die individu moet dus die Gees van God in sy/haar lewe in nooi en daar in sy/haar lewe koester sodat Hy in u lewe kan werk en u op Sy weë kan lei.
Wanneer elke individu sy/haar persoonlike verantwoordelikheid teenoor God besef en ons elkeen ons onderwerp om in nederige ootmoed aan God onderdanig te wees, sal ons die pad na herstel van ons verlore erfenis kan begin stap in onselfsugtigheid met ‘n gesindheid van nederige gehoorsaamheid. Elke huishouding sal begin om in sy eie geledere sake aan te spreek wat nie na die Wil van God verloop nie en sodoende sal ons begin soek na Sy Wil vir ons elkeen se lewe, vir ons gesinslewens en derhalwe ook vir die lewe van ons volk.
‘n Volk (en individu) wat homself in nederige onderdanigheid onderwerp (verootmoedig) aan die Drie-Enige God van hemel en aarde, mag dalk ook uitvind dat hy ‘n begenadigde volk is in die oë van God. So ‘n volk sal bes moontlik verstom staan wanneer hy deur die oë van sy siel aanskou dat die Wil van God vir sy lewe veel beter en groter is as wat hy ooit kon besef. . .
