Johannes 1:1-14
Dit is belangrik om tydens die lees van hierdie gedeelte ook die Skeppingsverhaal in gedagte gehou. Wanneer ons laasgenoemde doen, leer ons dat Jesus Christus nie eers “ontstaan” het tydens Sy geboorte uit die maagd Maria nie, maar dat Hy tydens hierdie gebeurtenis eerder mens (vlees) geword het en na die aarde gekom het.
Wanneer ons in vers 1 lees dat die Woord by God was, besef ons dus dat God deur Sy Seun, Jesus Christus, die aarde geskape het, want Hy het deur die Woord geskape. As Skepper van die aarde, sou ‘n mens tog verwag dat die skepsel en alles daarop en daarin Hom sou verheerlik en dien wat dit geskape het. Laasgenoemde was tog sekerlik die bedoeling, maar deur die listige slang wat genoem word duiwel en satan, is daar opstand teen God bewerkstellig.Die opstand teen God en Sy Koninkryk het tot gevolg gehad dat daar ‘n voortdurende stryd tussen God se Koninkryk en Satan en sy volgelinge en magte sou wees. Ons sien vandag hoe hierdie magte van die satan oorlog voer in volle swang en hoe geestelike oorlogvoering menige mense oorweldig in hul lewens en hul in ellende dompel. Een van die gevaarlikste taktieke wat die satan gebruik in sy oorlogvoering teen die mens hier op aarde, is om die kulkunsie van nabootsing te gebruik. Die satan doen homself voor as ‘n engel van die lig, terwyl die uiteinde van sy misleiding slegs weë van die dood is.
Dit is van kardinale belang dat ons daadwerklik sal erns maak daarmee om ons Verlosser, Saligmaker en Leidsman, Jesus Christus, te leer ken in waarheid. Sonder laasgenoemde sal ons die groot risiko loop om deur die satan se slinkse misleiding ook op ‘n dwaalweg gelei te word, omdat ons Hom nie ken nie. “Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;” (:10-12). Ware kennis van Hom sal ons opnuut tot die besef bring dat ons die voorreg het om Sy Kinders te wees wanneer ons Jesus Christus waarlik aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker.
Wat beteken dit om Hom aan te neem? Is dit om een Sondag in jou lewe voor ‘n kerk mense te staan en met jou lippe te bely dat jy glo in Hom wat jy dalk nie eers ken nie? ‘n Ydele geloofsbelydenis met die lippe wat nie uit die oortuiging van die hart kom nie, sal jou jou siel kos – wees gewaarsku daarteen! Hy deurgrond en ken ons en weet daarom of die woorde van ons mond waar is of net gespreek word om menslike aanvaarding en die eer van mense te kry; daarom dat Hy met reg kan waarsku “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matt. 7:21). Hoe kan ‘n mens Sy Wil doen wanneer jy Hom nie ken nie? Dit sal jou ook nie baat om die goeie menslike verordeninge van ander ware gelowiges wat Hom waarlik ken slaafs na te volg nie, want ons lees ook dat selfs laasgenoemde sonder die liefde van geen nut is nie. (1 Kor. 13).
Ons wat Sy eiendom en Sy kinders is, moet besef dat ons die verantwoordelikheid het om ook nie die stryd teen die bose hier op aarde gewonne te gee nie. Met ons Leidsman, Jesus Christus, moet ons as Sy volk, as Sy eiendom, ook bereid wees om saam te stry vir die Evangelie van vrede wat deur die satan en sy boosdoeners aangeval word op feitlik elke lewensterrein in ons eie vaderland wat ons verlore erfenis geword het. Ons het die verantwoordelikheid om in ons eie huise ons fondasie weer op te rig en te bou op die rotssteen van Jesus Christus, want hierdie belydenis met woord en met daad is ‘n bewys dat ons Hom waarlik aangeneem het. Wanneer ons Hom waarlik ken en aangeneem het, sal ons weer voor Sy aangesig kan leef as Sy eiendom met erkenning van Sy gesag as die hoogste gesag in ons lewens. Waarlik sal ons dan weer kán wees – knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry!
As knegte van die Allerhoogste, sal ons die verantwoordelikheid hê om die bose die stryd aan te sê, toegerus met die wapenrusting van God (verwys na Efesiërs 6). Ons sal weer leer om ons kinders in die weë van die Here te onderrig, ons sal die waarheid liefkry en leuens verag! Ons sal ons kinders met alles probeer beskerm teen die leuens wat in die skole aan hulle opgedring word en seker maak dat hulle die waarheid ken! Ons sal ons kinders beskerm teen die misleiding en bose breinspoeling van skadelike televisieprogramme en –speletjies wat vir menige kinders ontvlugting van die werklikheid bied. Ons sal ons kinders baie liefhê en opvoed in die wete dat hulle ons Vader se stryd as Sy kinders moontlik moet voortsit na ons en derhalwe behoorlik toegerus moet wees daartoe. Ons sal egter nie ons kinders verafgod en toelaat dat hul ons huishouding regeer nie, want dit is nie die voorskrif van ons Leidsman nie.
As knegte van die Allerhoogste sal ons optrede gedryf word deur liefde vir Hom en sal die geld- en sportgod nie ons knieë swik om voor hulle te buig nie. Die Sabbat van onse Vader sal nie ter wille van geld en sport ontheilig word nie. Ons sal nie ter wille van sport en geld, vermaak en genot ons beginsels oorboord gooi nie, maar weer as kinders van Hom leer om ‘n verantwoordelike lewe van vergenoegdheid te leef. ‘n Lewe waarin ek nie net my eie selfsugtige begeertes wil bevredig nie, maar ‘n lewe waarin ek Hom dien deur ook aan my naaste liefde te betoon, asof ‘n daad aan Hom. Dit sal ons volk weinig baat as ons gedurig tot ons God roep om verlossing, sonder om die verkeerde uit ons midde weg te ruim. Sy Hand is nie te kort om te help en Sy Oor nie te swaar om te hoor nie, maar ons ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen ons en onse God.
Ek word toenemend daarvan oortuig dat daar ‘n ontwaking onder volksgenote is om na God terug te keer in waarheid – om ons as ‘n volk tot Hom te bekeer met ons hart en siel en dat Hy ook getrou is om ons hart tot Hom te bekeer. Ek is oortuig dat die trane van ware gelowige kinders van God saam met hulle gebede opklim tot God se Aangesig en se Oor en dat die klein kooltjies deur Sy Gees weer aangeblaas word om die vurigheid in ons harte om Hom te dien en lief te hê, weer hoog te laat brand. As u saam met my oortuig is hiervan, laat ons saam arbei om af te breek aan die muur van ongeregtigheid wat skeiding maak tussen ons en ons God. Laat ons leer om mekaar in liefde te verdra, maar ook in liefde te vermaan en te berispe. Mag Hy ons die krag bied om die mure van ons ongeregtigheid voor Hom te laat ineenstort soos wat die versterkte mure van Jerigo deur Sy Krag geval het!
Wanneer ons Hom waarlik aangeneem het, sal ons onsself onderwerp aan Sy gesag in ons lewens en sal ons daarna streef om Hom te gehoorsaam met ons hele lewe. Ons sal besef dat ons die mag het om kinders van God te wees en dat geen mag in die hemel of op aarde ons in ons stryd tussen Lig en duisternis sal kan oorweldig nie, aangesien ons Leidsman, die Onoorwinlike Jesus Christus is. Hy is die HERE ONS GEREGTIGHEID! Mag ons Hom ken wat Homself aan ons geopenbaar het – Hy wat vol is van genade en waarheid!
