Miga 6:1-16:“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?”(:8).Geliefdes, wat is meer nodig as die bespreking van teologiese sake? Seker dat ons aan kernwaarhede van die Woord herinner word. En is dit nie treffend hoedat juis dít by monde van die profeet Miga gebeur nie? In die woorde van vers 8 word die vereistes van God aan die mens duidelik en eenvoudig gestel – reg, liefde en ootmoed.
Hierdie hoofstuk begin waar God aan Miga die opdrag gee om die twis van die HERE met Sy volk aan die volk oor te dra. God stel dit duidelik dat Hy nie tevrede is met die verhouding wat daar tussen Hom en Sy volk bestaan nie. “My volk, wat het Ek jou aangedoen, en waarmee het Ek jou vermoei? Antwoord My!” (:3). En Miga stel homself nie eenkant van hierdie regsgeding nie. Hy verhef homself nie in sy hart tot bo hierdie ongeregtigheid waarmee God met die volk, waarvan hy ook deel is, twis nie. Hierdie twis van God met Sy volk laat Miga nadink en bring hom tot die
vraag wat hy sou doen om versoening met God te bewerk.
“Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers? Sal die HERE ’n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die
vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?” (:6&7). En dan die antwoord van God dat Hy van die mens reg, liefde en ootmoed vra.
Geliefdes, daar is soveel in die antwoord van God aan Miga se vraag opgesluit. Hy wys aan die mens sy onvermoë uit om enigiets fisies of stoflik aan Hom te bied wat Hom sou beïndruk. Hy is immers die Skepper uit Wie en deur Wie alle dinge ontstaan het. Hoe sou ’n skepsel van Hom iets kon voortbring waaroor die Skepper verslae of verleë sou staan? Daar is absoluut op hierdie aarde niks waaroor God teenoor die mens afhanklik staan nie. “Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die diere van die bos is myne, die vee op berge by
duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. As
Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.” (Ps. 50:9-12).
Die gesindheid waarin ons met Hom leef en teenoor Hom staan, is egter wat vir Hom van groot belang is. Menslik gesproke is ons liefde vir Hom, ons gehoorsaamheid aan Hom dit waarop Hy let. Ek dink aan Abraham se gehoorsaamheid aan Hom om sy seun Isak te offer. Alhoewel God vir Abraham daarvan teruggehou het om sy seun eindelik werklik te offer, was Abraham se
gehoorsaamheid aan God en sy liefde vir Hom duidelik. “Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.” (Gén. 22:15-18).
Geliefdes, is die geneentheid van God teenoor ’n mens wat Hom liefhet, vrees en gehoorsaam nie ook uit Job 1:8 vir ons duidelik nie? “En die HERE vra vir die Satan:Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad?” En wanneer die arm weduwee haar hele lewensonderhoud in liefde en ootmoedige vertroue teenoor God aan Hom afstaan, is dit vir Hom meer aanneemlik as die oorvloedige offers van die rykes. “EN Jesus het reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi. En baie rykes het veel ingegooi. En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is ’n oortjie. Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.”
Eweneens sien ons uit die optrede van Ananías en Saffíra dat ’n oppervlakkige, skynheilige godsdiens eerder Sy toorn wek as wat Hy behae daarin het. Die offer wat hulle gebring het, het hulle hul lewe gekos a.g.v. die verkeerde gesindheid waarmee hulle gehandel het. “Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. En toe Ananías hierdie woorde
hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ’n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.” (Hand. 5:3-5). En in Lukas 11:42 stel God hierdie saak aan die Fariseërs ook duidelik. “Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van die kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.”
Geliefdes, ek dink dat hierdie woorde van God aan Miga iets is waarop elkeen van ons met erns behoort ag te slaan. Ons het binne ons volkshuishouding baie teologiese debatte. En ons het baie reëls en slim planne en aksies waaroor ons gedurig kan toutrek. Maar hoeveel reg, liefde en ootmoed is daar binne ons volkshuishouding vandag? “En nou Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” (Deut.
10:12&13).
Amen.
