2 Kor. 13:1-13: “Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.” (11). Vrede, iets só kosbaar waarvan ons minder-en-minder in die wêreld sien. En die rede hiervoor? Dit is tog sekerlik omdat daar minder-en-minder van God in die mens van ons tyd te bespeur is – die mens wat meer-en-meer van God afvallig raak. Vrede is immers een van die karaktereienskappe van God – Hy is ’n God van vrede. “En die God van vrede sy met julle almal. Amen.” (Rom. 15:33). “want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.” (1 Kor. 14:33).
Daarenteen is die Satan voortdurend besig om daar waar vrede is, onmin, verdeeldheid en twis te probeer bewerk want hierdeur word sy vernietigingswerk met welslae uitgevoer. Vrede is iets waarvan ons gedurig in God se Woord leer, geliefdes. Alvorens ons verder op hierdie onderwerp ingaan, is dit dalk goed om eers die definisie van vrede aan te raak. Vrede word as ’n toestand van rus, stilte en harmonie omskryf. Dit is ’n toestand waarin konflik afwesig is. Myns insiens is vrede terselfdertyd ’n toestand van vergenoegdheid en tevredenheid. Dit is dan ook God se wil dat die mens teenoor Hom in ’n toestand van vrede sal leef en verder ook teenoor alkander vrede sal hê. Derhalwe die opdrag dat ons die weg van vrede sal bewandel. “en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.” (Efés. 6:15).
Die Satan het egter sedert die begin van die skepping probeer om hierdie vrede tussen God en die mens te vernietig. Hy het daarom vir Adam en Eva oorgehaal om teen God te sondig en op die wyse die vrede tussen hulle en God verbreek. En hierna het hy met hierdie vernietigingswerk voortgegaan om ook die vrede tussen mense te vernietig sodat Kain eindelik vir Abel doodgeslaan het. En hy was nie hierna tevrede nie, maar sit tot vandag sy werk in die vernietiging van vrede op flukse wyse voort. Satan wil vyandskap bring om sodoende skade en verwoesting in God se skepping te veroorsaak.
Ons lees in Matt. 5:9 dat die vredemakers kinders van God genoem sal word. “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Dit onderstreep weer vir ons die belangrikheid van vrede in God se oë geliefdes. ’n Man van vrede is ’n man wat een van die kosbare eienskappe van God openbaar en daardeur word getuienis van Sy Vader gelewer. Hy sal ’n kind van God genoem word - wat ’n voorreg en eretitel. Dit laat my dink aan die grootste Vredemaker in die geskiedenis van die mensdom, onse Here Jesus Christus. “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.” (Efés. 2:13-18).
Ons moet mooi verstaan dat vrede met God (en derhalwe met ons naaste) nie moontlik is terwyl ons in vrede met sonde leef nie. Christus het gekom om die vyandskap tussen ons en God die Vader tot niet te maak en ons met Hom te versoen. Hy het gekom sodat ons vrede met God die Vader mag hê – nie met sonde nie. Hy het nié gekom om te sterf sodat ons daarna vrede met die ongeregtigheid en sonde kan sluit en rustig daarin kan voortleef nie! “Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.
En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” (Rom. 6:10-13). Daar kan nóóit vrede tussen God en die ongeregtigheid wees nie. “Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!” (Jes. 57:21). ’n Lewe van vrede met God is ’n lewe van vyandskap met Satan en die ongeregtigheid. En ’n lewe van vrede met die ongeregtigheid is ’n lewe van vyandskap met God. As die voorbeeld uit Romeine 6 nie vir ons duidelik genoeg is nie is daar nog talle ander wat laasgenoemde vir ons onderstreep. Die vyandskap tussen God en diegene wat teen Hom en Sy insettinge en verordeninge in opstand kom word vir ons in Psalm 2 duidelik uitgebeeld.
“Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:2&3,9-12). Ons lees ook in Romeine 3 van die lewenswandel van hulle wat onder die mag van sonde staan (in vrede met sonde leef). “Hul keel is ’n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie.” (Rom. 3:13-17).
Geliefdes, daar waar vrede is, sal voorspoed in die omtrek wees. En daar waar vrede ontbreek, sal ellende en swaarky sy verskyning maak. En hoe sigbaar is dit nie in ons samelewing van vandag nie – ’n samelewing met weinig vrede en volop swaarky, teëspoed en ellende. Hierdie toestand moet ons as God se kinders nie moedeloos maak nie, maar herinner aan ons verantwoordelikheid as God se kinders om vredemakers te wees. Ons is kinders van Hom wat besig moet wees om vrede tussen mense en God te bewerk en vrede tussen mense met mekaar te bevorder terwyl ons die ongeregtigheid met mag en mening bestry. “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien.” (Rom. 14:19).
Amen.
