Jes. 29:1-24: “Wee hulle wat planne diep verberg vir die HERE, wie se werk in duisternis plaasvind; en hulle sê: Wie sien ons en wie ken ons?” (:15). Wee die mensdom. Is hierdie nie hoe dit vandag tot ’n groot mate in die wêreld gaan nie? Mense leef asof daar nie ’n God is wat alles sien wat hier op aarde gebeur nie. En hierop kan ons soos die profeet Jesaja antwoord – “o Julle verkeerdheid!”. Geliefdes, dit is duidelik uit God se Woord dat daar op hierdie aarde géén ding vir Hom verborge is nie. Daar is niks te gering dat Hy nie daarop let nie. Daar is niks te verborge dat Hy dit nie kan ontdek nie. Hy sien alles wat in Sy Skepping plaasvind.
Hy sien hartseer, nood, verdrukking en ellende. Hy sien hoogmoed, trotsheid en sonde. Hy sien opregtheid en nederigheid. Hy sien gebrokenheid, berou en ’n soeke na geregtigheid. Ja, alle dinge is oop en bloot voor Hom. “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Heb. 4:13). Geliefdes, die verskynsel van die mens wat in sy dwaasheid dink dat hy sy verkeerde weë voor God kan verberg, is so oud as die mensdom self. Adam en Eva was die eerste wat hierdie dwaasheid begaan het. Hulle het nie alleen teen God gesondig nie, maar daarna vir Hom probeer wegkruip. Nadat God hulle opgesoek het, het elkeen hul eie verkeerde optrede agter ’n muur van leuens probeer wegsteek eerder as om dit voor God te erken. Ten spyte hiervan openbaar God hierna aan elke betrokke party sy oortreding wat daarop wys dat Hy nie van hul belydenis afhanklik was om agter die waarheid te kom nie. Hy was alreeds ten volle bewus van die gebeure, maar het die geleentheid vir die mens gebied om sy skuld teenoor God te erken en te bely.
Hierna lees ons van Kain wat ook sy oortreding van moord vir God probeer verberg. “Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?” (Gén. 4:9). En hierop God se antwoord wat dit duidelik stel dat Kain se sonde vir Hom nie verborge gebly het onder die mat van oneerlikheid waar hy dit wou verberg nie. “En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.
Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.” (Gén. 4:10&11). Ons lees ook in Gén. 6 waar God besluit het om die wêreld deur die sondvloed te verwoes. Dit het gevolg op die gedurige onreg wat die mense bedryf het asof God nie daarop let nie. Maar omdat Hy alles sien wat gebeur, het Hy besluit om ’n einde hieraan te maak. “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart. En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.” (Gén. 6:5-7).
Maar net soos wat God die ongeregtigheid van die mense aangesien het, was die regverdigheid van een man onder hulle nie te gering dat God dit nie sou aansien nie. In die see van ongeregtigheid is die regverdigheid van Noag vir God nie te gering om raak te sien nie. “Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE. Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.” (Gén. 6:8&9). Ons lees in 2 Samuel 11 ook van die owerspel en moord van Dawid. Hierdie man, koning Dawid, was ’n liefling in God se oë. Dit het egter nie tot gevolg gehad dat God die onreg van Dawid gerieflikheidshalwe nie opgemerk het of Sy oë daarvoor gesluit het nie. Dit is duidelik uit vers 27 dat God elke deel van hierdie onreg raakgesien het.
En dat Hy dit afkeur. “...Maar die ding wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die HERE.” Ons lees dan in die volgende hoofstuk waar Dawid hieroor aangespreek word. Dawid probeer egter nie soos Kain en soveel ander om sy oortreding vir God weg te steek agter ’n muur van leuens nie. Dawid erken dadelik sy oortreding voor die HERE juis omdat hy weet dat daar niks is wat vir God se oë verborge is nie. “En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die HERE! En Natan sê vir Dawid: So het die HERE dan ook u sonde vergewe: u sal nie sterf nie.” (2 Sam. 12:13).
Die oë van God is egter nie net op ongeregtigheid en sonde gerig nie, geliefdes. Hy sien ook nood, verdrukking, ellende en ons smekinge aan. Die eerste voorbeeld waaraan ons almal seker dadelik dink, is die verdrukking van Israel in Egipte. “En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk.” (Ex. 3:9). En God ontferm Hom oor Israel en verlos hulle van hierdie slawerny. Ons lees ook in Gén. 21 van die ellendige toestand waarin Hagar haarself bevind het nadat Abraham haar op Sara se aandrang verdryf het. En hier sien ons weereens hoedat God se oë nie vir hierdie slavin en haar kind se ellende gesluit is nie, maar dat Hy hierdie toestand van nood en totale moedeloosheid aansien en Hom oor hulle ontferm. “En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse neergewerp en geloop en op ’n afstand gaan sit so ver as ’n boog kan skiet; want sy het gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op ’n afstand gaan sit en haar stem verhef en geween. Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar?
Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is. Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want ek sal hom ’n groot nasie maak. Daarop het God haar oë geopen, en sy sien ’n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink.” (Gén. 21:15-19). En is die gebeure in die lewe van Hiskía nie hartroerend nie? God stuur die profeet Jesaja om aan hom te openbaar dat hy binnekort sou sterf. Hiskía verag of minag nie hierdie boodskap nie en kom ook nie teen God hieroor in opstand nie, maar wend hom in ootmoed tot God en smeek Hom om genade.
En God se oë is hiervoor nie gesluit nie. “Toe het die woord van die HERE tot Jesaja gekom en gesê: Gaan sê vir Hiskía: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, jou trane gesien; kyk, Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg, en Ek sal jou uit die hand van die koning van Assirië red en ook hierdie stad; en Ek sal hierdie stad beskut.” (Jes. 38:4-6). Ja, geliefdes. God se getuienis in 2 Kron. 16:9 is vir ons baie duidelik dat Hy ook diegene raaksien wat hul in hul nood tot Hom wend. “want die HERE – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is;...”
Ons sien uit Exodus 1 dat God se oë die regverdige dade en hulle wat God vrees net so duidelik as sonde en goddeloosheid raaksien. “Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe. Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys. ...” (Ex. 1:17,20). Ons vind ’n verdere bewys hiervan in Job 1. “DAAR was ’n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad. En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.” (Job 1:1,8). En ons lees verder in Handelinge 10:31 van nog ‘n getuienis hiervan. “en meteens staan daar ’n man voor my in ’n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring.”
Geliefdes, ons lees in Psalm 73 van koning Asaf se worsteling oor die voorspoed van die goddelose mense. Hierdie man voel ook asof God dan nie die verkeerde dade raaksien of daarop ag gee nie. En dit is duidelik dat hy die gevaar geloop het om sy Godvresende lewenswandel te verlaat a.g.v. hierdie verkeerde ingesteldheid. “Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly. Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien.” (Ps. 73:2&3). En hierteen moet ons in hierdie tye ook waak, geliefdes. Ons is omring met ’n wêreld van mense wat leef asof God nie hul werke sien nie en nie daaroor sal oordeel nie. En dit lyk dalk oënskynlik asof dit met hulle goed gaan. Maar ons fokus mag nie daarop gerig wees nie. Ons fokus moet gerig wees op die waaragtige Woord van God wat ons herinner dat God op al die werke van die mens ag gee ten einde nie agter die voorspoed van die wêreld aan te dwaal nie, maar ons voete vas in die weë van die HERE te hou.
“Op elke plek is die oë van die Here, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.” (Spr. 15:3).
Amen.
