Afrikaner

HOE VER IS ONS VAN DAARDIE DAG DAT DIE STOOMTREIN TOT STILSTAND KOM?

LEON SCHOEMANJaap Marais het in sy heel eerste toespraak ná 27 April 1994 hierdie belangrike woorde gesê: "Die enigste werkbare resep vir enige regering om suksesvol te wees rus op twee belangrike pilare. Eerstens, respek vir wet en orde in die samelewing; en tweedens 'n gesonde, groeiende ekonomie. Hierdie terroristebende wat nou ons nuwe regering geword het is gebore nie in staat om enige van dié twee voorwaardes te laat realiseer nie. Daarom sal hulle misluk en uiteindelik sal die nuwe bestel in duie stort. Wanneer dit gebeur, sal dit gepaard gaan met geweld, anargie en sosiale chaos..."

Toe hy later gevra is hoe lank dit sal duur vir die ineenstorting om te realiseer, het hy soos volg met die metafoor van 'n stoomtrein op vol spoed geantwoord: "Ons moet onthou dat Suid-Afrika 'n baie groot en sterk ekonomie het". (Dit was Mei 1994 en die rand was steeds op sowat R3.50 teen die VSA dollar. SA se ekonomie was die grootste in Afrika.)

Marais vervolg: "Die plundering van ons ekonomie sal werk soos 'n stoomtrein wat op vol spoed is. Hoe minder kole hy kry, hoe stadiger sal hy ry, maar ons moet onthou dat 'n groot stoomtrein baie momentum het. Dit vat tyd om hom tot stilstand te kry..."

Die heel belangrikste aspek waaroor Marais in sy laaste dae oor en oor gewaarsku het was sy visie oor wat sal gebeur die dag as die nuwe bedeling in duie stort. Hy het gesê: "So seker as wat die son môre-oggend sal opkom, is die feit dat die ineenstorting van hierdie nuwe onwerkbare stelsel uiteindelik sal kom. En net so seker is die feit dat wanneer dit gebeur, dit gepaard sal gaan met geweld en anargie. Dit is dán dat ons as Boere gereed moet wees om onsself en ons land te verdedig en terug te vat, want dit is in tye soos dié dat nuwe grense getrek word en die sogenaamde 'onomkeerbare' weer omgekeer sal word..."

In die lig van die anargie en chaos wat ons tans in die land ervaar en in die lig van die wankelende Suid-Afrikaanse ekonomie móét ons nou die vraag vra - hoe ver is ons van daardie dag dat die stoomtrein tot stilstand kom?