1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7591970

Besoekers aanlyn

Ons het 14 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

VREES GOD!

BybelSpr. 1:7-19: “DIE vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.” (:7). Ons is almal bekend daarmee dat koning Salomo ’n besonderse wyse man was. “So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde, in rykdom en wysheid.” (1 Kon. 10:23). En deur sy mond het God ook aan sy volk ontsettend baie lewenswysheid geleer. Die eerste ding waarvan ons in Spreuke lees, is wat die grondslag van kennis is. Die vertrekpunt, die fondasie van kennis en wysheid is ’n vrees vir God. “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis;...”. Dit word vir ons ook in Spr. 9:10 bevestig. “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand.”

Ons weet natuurlik dat die vrees vir God nie vreesbevange beteken nie. Dit is nie om so vreesbevange te wees dat ons geen vrymoedigheid het om met eerbied tot Hom te nader nie. Hierdie vrees vir God verwys na die ontsag wat ons aan Hom verskuldig is. Dit is hierdie ontsag, hierdie vrees vir God wat dan aan die gronslag van kennis en wysheid lê. Hierdie ontsag in ons harte wat ons rig om die Woorde van God met ootmoed en ontsag te aanvaar. Ja in so ’n hart met ootmoed en ontsag gevul sal die Woord van God ingang vind. ’n Mensehart daarenteen waarin daar geen ontsag of vrees vir God is nie sal vir Sy Woord nie ontvanklik wees nie.

Ek dink net soos wat selfsug as die teenpool van liefde gestel kan word, kan verwaandheid teenoor vrees vir God gestel word. Hierdie ontsag, vrees vir God, is derhalwe ’n deugde wat enige kind van God met ywer moet nastreef. Ons leer uit verskeie gedeeltes uit God se Woord van die behae wat God in die nodige vrees vir Hom het. Luister na die duidelike getuienis in Ps. 147:11. “Die Here het ’n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.” En dink maar met hoeveel welgevalle God hierdie gesindheid van die nodige vrees vir Hom in die vroedvroue in Egipte se harte raakgesien het. “En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk.” (Ex. 1:21). Hierdie vroedvroue se ontsag vir God was groter as hul ontsag vir die Farao. En dit is hoe dit behoort te wees.

God se totale afsku van hulle wat nie die nodige vrees en ontsag aan Hom betoon nie is vir ons uit Sy Woord ewe duidelik. Dink maar aan Sy opdrag dat Ámalek, wat God nie gevrees het nie, se gedagtenis onder die hemel uitgedelg moet word. Die opdrag was nie dat hulle maar net gestraf moes word nie, maar dat hulle gedagtenis van die aarde af uitgedelg moes word. “DINK aan wat Ámalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie. As dan die Here jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van Ámalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.” (Deut. 25:17-19). En die erns hiervan word later weer vir ons beklemtoon wanneer Saul, as koning van Israel, opdrag ontvang om Ámalek met die banvloek te tref en hy dit nie doen nie. Hy voer teen hul oorlog, maar verdelg hulle nie volgens God se opdrag onder die hemel uit nie. Die gevolg hiervan was dat God hom as koning verwerp het. “En die Here het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is. Waarom het jy dan nie na die stem van die Here geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here? Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” (1 Sam. 15:18,19 &23).

Die gebrek aan vrees vir God in die wêreld is ook in hierdie tyd waarin ons leef duidelik waarneembaar, geliefdes. En ons eie volk se hande is ongelukkig ook nie skoon t.o.v. hierdie onreg nie. Hierdie feit is baie hartseer, maar ongelukkig waar. Dink maar aan die verwaandheid wat selfs in kerklike kringe te bespeur is waar die Woord van God nie alleen bevraagteken word nie, maar sommer ook onder die dekmantel van “vertalings” doelbewus verander word. Getuig hierdie optrede van ontsag teenoor God of onderstreep dit nie duidelik ’n verwaandheid van mense wat hulself die reg aanmatig om God se ordening en insettinge te verander nie? So ’n optrede is mos ’n blatante minagting vir God se Woord! “Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die Here julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.” (Deut. 4:2).

Die normale verloop van sake op die Sabbat is ’n verdere getuienis van die gebrek aan ontsag vir God in ons volkshart. “My heilige dinge het jy geminag en my sabbatte ontheilig.” (Eség. 22:8). ’n Mens verniel mos nie iets van ’n ander vir wie jy ontsag het nie? So ’n optrede getuig dan juis daarvan dat jy geen respek en ontsag vir ’n ander het nie. Wanneer ons God se insettinge en gebooie en dit wat Hy self geheilig het, bv. die Sabbat en die huwelik as ’n heilige instelling, verniel, getuig dit nie van ons gebrek aan vrees vir Hom nie? Sou u hierdie wou ontken, antwoord eenvoudig die volgende vrae - is handel op die Sabbat ’n ongewone gesig onder ons volk? Is egskeiding ’n ongewone gesig onder ons volk? Die woorde uit Eség. 22:26 lewer ’n duidelike getuienis in hierdie verband, geliefdes. “Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie; daarby maak hulle hul oë toe vir my sabbatte; ja, Ek word onder hulle ontheilig.” Ons lees in Romeine 3 waar die sondige optrede van die mens in geen onduidelike taal uitgedruk word. “Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is ’n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet.

Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie.” (Rom. 3:12-17). En wat lê aan die grondslag van hierdie verkeerde, verrote lewe? ’n Gebrek aan vrees vir God! “Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.” (Rom. 3:18). Geliefdes, die mens se erkenning van God se Woord, Sy insettinge en verordeninge verander niks aan die egtheid, die wese, die onverandelikheid of die duur daarvan nie. Die mens se ontkenning of erkenning hiervan getuig alleen van sy eie ontsag vir God of dan die gebrek daaraan. Feit bly staan dat God se gebooie vir alle mense geld ongeag of die mens dit met ontsag aanvaar of in verwaandheid verwerp.

Hiervoor sal elkeen vir homself eendag voor God verantwoording doen. Mag ek en u ons met ootmoed aan God se Woord en insettinge onderwerp en mag ons lewens getuig van die vrees van God in ons harte! “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.” (Pred. 12:13&14).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie