1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7548248

Besoekers aanlyn

Ons het 58 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

DINK GROTER EN DOEN GROTER (Deur Flip Buys)

Flip Buys beplan vir die volgende geslagHierdie brief het in die Afrikanerkoerant van die Herstigte Nasionale Party verskyn. Die AVP plaas dit met die doel om kommentaar daarop te lewer

Die verdiepende krisis in die land laat baie Afrikaners só moed verloor dat hulle meer oor die probleme kla as wat hulle iets daaraan doen. Dit geld selfs vir diegene wat al dekades gelede die komende krisis voorsien het, in ’n tyd toe hulle vir hulle versiendheid aangeval en uitgestoot is as politieke uitgeworpenes. Die gevaar bestaan dan dat mense ’n soort leë troos vind in die feit dat hulle reg was, in plaas daarvan om dit wat verkeerd is, reg te maak. Dit kan daartoe lei dat hulle in die praktyk merendeels heimweeklubs kan word wat terugdink aan ’n verlede toe dinge gewerk het, in plaas daarvan dat hulle skeppende en energieke organisasies is wat aan ’n beter toekoms bou.

Dit is so dat dit besonder sleg gaan in die land, en dat Afrikaners steeds blameer word vir alles wat verkeerd is, sonder om erkenning te kry vir dit wat nog reg is of was. Ons kan vandag weer, soos president Paul Kruger, sê dat baie van wat opgebou is, tans verval, oorgevat of verlore is. Maar die president het nie net gesê dat die beste uit die verlede behou moet word nie; hy het ook gesê dat die toekoms daarmee gebou moet word. Sy laaste boodskap het gekom tydens ’n historiese laagtepunt van die Afrikaner. ’n Wêreldmag het ons van ons vryheid beroof in ’n verwoestende oorlog, sowat 15% van ons volk het gesterf, die land was ’n verskroeide aarde, en sowat 75% van die nasionale welvaart was vernietig. Dis nie al nie. ’n Paar jaar daarna het die Rebellie plaasgevind, het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek, en het die Groot Griep van 1918 die land platgeslaan. Ons volk was geteister deur dood, armoede en ’n vyandige koloniale moondheid. Prof. David Welsh van die Universiteit van Kaapstad het die toestand van ons volk soos volg beskryf: “After 1902 the Afrikaners of the defeated Trekker republics displayed many of the symptoms of a conquered people: impoverished, defeated, despairing, low in morale, and with a powerfully internalised inferiority complex. They were facing the possible obliteration of their identity by the overwhelming power of their conqueror’s institutions and culture.” Die linkse historikus, Dan O’Meara, het hierop uitgebrei: “The structure of South African capitalism offered few opportunities to those whose home language was Afrikaans. The economy was dominated by ‘imperialist’ interests. Its language was English, and Afrikaans-speakers were powerfully discriminated against. Promotion and advancement required both proficiency in a foreign language – that of a conqueror – and virtual total acceptance of the structure of values dominant in the economy.”

In sulke omstandighede sou niemand ons voorouers kwalik geneem het as hulle so platgeslaan was dat hulle nie weer sou opstaan nie. Dink net aan die eerste twintig jaar van die vorige eeu, tussen 1900 en 1920: oorlog, verraad, verwoesting, konsentrasiekampe, oorheersing, armoede, verdeeldheid, burgeroorlog, wêreldoorlog, siekte, en ’n projek om ons te verengels. Die toekoms het met rede donker gelyk as mens na die werklikhede gekyk het. Opstaan en opbou Maar ons volk het nie destyds ondergegaan nie. Ons voorouers het uit hierdie ellendes opgestaan en weer begin opbou. Dieselfde twintig jaar wat as die donkerste in ons geskiedenis beskryf kan word, kan tereg as ’n merkwaardige ligpunt voorgehou word. Kyk wat het in hierdie twintig jaar gebeur: Ons voorouers het met ’n ongekende kulturele energie aan die werk gespring. Die Mynwerkersunie het in 1902 ontstaan. Die Vrouefederasie is in 1904 as welsynsorganiasie gestig, en die Zuid-Afrikaanse Hospitaal het tot stand gekom. Eugene Marais se “Winternag” het in 1905 bewys dat Afrikaans ’n blink toekoms het. Afrikaanse hoërskole is begin. Vier van die latere vyf Afrikaanse universiteite is in hierdie era gestig. Sakereuse soos Sanlam, Naspers en Avbob het tot stand gekom. Politieke partye, kultuurorganisasies, dorpe, stede, die Helpmekaar-beweging, en talle 6   Die Afrikaner 29 Maart 2024 ander volksinstellings het tot stand gekom. Waar die redelike waarnemer ná die Vryheidsoorlog ’n “bloei-tydperk” verwag het waarin Afrikaners as volk sou doodbloei, het dit op ’n bloeitydperk van energieke opstaan uitgeloop waartydens die grondslag vir industrialisering en die ontwikkeling van Suid-Afrika as een van die enigste moderne state in Afrika gelê is. Dit is te danke aan visionêre leiers wat midde-in ’n donker nag ’n volk kon besiel omdat hulle ’n helder dagbreek voor in die pad gesien het. Ja, almal het na die toekoms gekyk, maar hulle het verskillende dinge gesien. Dink net, om universiteite te begin in ’n tyd toe daar nog nie eers skole, studente of dosente was nie, was eintlik onmoontlik. Dit geld ook vir die waagmoed om maatskappye te begin in ’n tyd toe feitlik niemand geld gehad het nie. Vandag kan ons met die wysheid van terugskouing sien dat dit twee goue dekades was, omdat ons voorouers nie in donker pessimisme verval het nie, maar optimisties aan die toekoms gebou het. Teenstelling Afrikaners is ná 1994 in vele opsigte weer in dieselfde krisis gedompel, en baie van wat opgebou is, is weer vervalle, verlore of oorgevat. Dit kan ʼn mens tereg bitter maak teenoor diegene wat daarvoor verantwoordelik was en jou negatief oor die toekoms instel. Dit gaan egter nie ons kinders help as ons boodskap aan hulle net is dat hier nie ’n toekoms is nie, dat ander vir hierdie ramp verantwoordelik is, en dat ons al die jare reg was nie. Die verstaanbare woede en gebroke harte oor die gebeure van die afgelope dekades mag ons nie keer om net soos ons voorouers weer op te bou nie. Die teenstelling tussen die eerste twee dekades ná die Vryheidsoorlog en die eerste drie dekades ná 1994 is daar vir almal om te sien. Waar die jare vanaf 1900 tot 1920 in die teken van opbou gestaan het, staan die afgelope jare in die tekens van verval. Daar is bitter min Afrikaner-projekte in hierdie tyd opgebou. Daar is wel Afrikaner-sakelui wat reuse sakeryke opgebou het, maar hulle het dit eerstens as sakemanne gedoen, en nie as Afrikaners en vir Afrikaners nie. Daar mag baie geldige redes vir hierdie verlammende moedeloosheid onder Afrikaners wees, maar ’n volk wat wil lewe, is ’n volk wat moet bou. Daarom moet die Afrikaners van vandag meer van onsself begin dink, en groter dink en groter doen. Ons kan tog nie hierdie vervalde land vir ons kinders nalaat, en dink dat hulle hier gaan bly of oorleef nie. Die hede gaan immers nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself regkom nie. Elkeen van ons het ’n resep van ’n ouma of tannie vir ’n onfeilbare pannekoek, koeksister of bobotie. Kom ons krap weer in ons boekrak en gebruik ons voorouers se beproefde suksesresep om krisisse te oorkom: Neem een groot krisis. Meng dit met leierskap en visie. Gooi ’n paar stewige “skeute” wilskrag by. Versterk die mengsel met kinderlike geloof. Vermenigvuldig dit met Helpmekaar-energie. Klits hope harde werk by. ’n Knypie broedertwis na smaak. Versoet met ’n groot skep saamstaan. Bak nou vir sowat ’n dekade lank in ’n groot bak vol volharding en vasbyt. Dit behoort genoeg te wees vir die toekoms van ’n hele nuwe geslag.

 

Lees die AVP se kommentaar op hierdie verdwaalde standpunt van Flip Buys deur op die onderstaande skakel te klik.

 

http://www.afrikanervolksparty.org/index.php/afrikaner/8038-repliek-op-die-groter-dink-en-doenbrief-van-flip-buys-in-die-afrikanerkoerant-van-die-hnp-van-april-2024.html

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie