1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8334912

Besoekers aanlyn

Ons het 36 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

OM NABY HOM TE LEEF

BybelPs. 24:1-10: “Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van die Here en geregtigheid van die God van sy heil.” (:3-5). Ons word in hierdie gelese gedeelte aan ’n baie belangrike waarheid herinner. En dit is dat ons nie kan verwag om naby aan God te leef, om in ’n gesonde verhouding met Hom te staan sonder om met erns op ons lewenswyse te fokus en heiligmaking na te streef nie.

Ons kan nie verwag om ’n lewe van sondigheid te lei en terselfdertyd verwag dat die verhouding tussen ons en God gesond sal wees nie.

En dit beteken nie dat ons sondeloos moet wees om in ’n verhouding met Hom te staan nie, want geen mens wat leef is sonder sonde nie. Maar dit beteken wel dat ons nie in gerustheid in sonde moet leef nie. Ons moet die verkeerde en sonde in ons lewe bestry en die heiligmaking najaag. “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;” (Heb. 12:14). Ons moet daarna streef om in ons handel en wandel rein en heilig te wees.

“Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die Here julle God.” (Lev. 20:7). Die Woord van die HERE is daaroor duidelik dat God ’n weersin in sonde en goddeloosheid het. “DAAROM, manne van verstand, luister na my: Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg!” (Job 34:10). Daarom sal die sonde wat ons doen en waarvan ons nie in ons lewe afstand doen nie ons verhouding met God skade berokken. Daardie sonde bring skeiding tussen ons en Hom. “KYK, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.

Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg.” (Jes. 59:1-3). En is hierdie boodskap nie ook uit Job 22:23 & Job 11:13-15 duidelik nie? “As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent.” (22:23). “AS jý jou hart berei en jou hande uitbrei na Hom— as daar ongeregtigheid in jou hand is, verwyder dit, en laat geen onreg in jou tente woon nie — ja, dan sal jy jou aangesig kan ophef, vry van smet; en jy sal vasstaan sonder om te vrees.” (11:13-15).

Wanneer ons kyk na die mense wat in ’n besonderse hegte verhouding met die HERE geleef het, sal ons ook telkens oplet dat dit mense was wat erns daarmee gemaak het om heilig, vroom en regverdig voor God se aangesig te leef. Luister maar na die beskrywing van Noag se lewe uit Gén. 6:9. “Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.” En is die getuienis van Job se lewe uit Job 1:1 nie pragtig nie? “DAAR was ‘n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad.”

Ons lees verder in Lukas 2:25 van die getuienis van Símeon se lewe. “EN daar was ‘n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom.” Onse HERE Jesus Christus onderrig ons ook in hierdie opsig uit Joh. 15:14. “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.” Indien ons verhouding met die HERE vir ons werklik belangrik is, moet ons dit ‘n prioriteit maak om genoeg tyd vir Hom in ons lewens in te ruim, geliefdes. Ons moet genoeg tyd inruim om in gebed met Hom te praat. Ons moet genoeg tyd inruim om deur Sy Woord onderrig te word. Dit is juis deur Sy Woord wat ons geheilig en gereinig word, geliefdes. “...soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,” (Efés. 5:25&26). En as ons die HERE waarlik liefhet, sal ons mos graag Sy nabyheid wil ervaar en naby aan Hom wil leef, nie waar nie?

Ek sluit vir ons af met die vermaning van onse HERE Jesus Christus in Joh. 15:4 wat ons beveel om met hierdie saak erns te maak – wat ons beveel om baie, baie naby aan Hom te bly en te leef. “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.”

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie