Afrikaner

DIE WARE EVANGELIE?

BybelLuk. 3:1-20: “Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk verkondig.” (:18).

Daar is aan die meeste dinge op aarde maar altyd voordele en nadele aan verbonde. Die voordeel van voertuie is dat ons soveel makliker by ons geliefdes kan uitkom. Die nadeel hiervan is dat ons nou so maklik hierheen en daarheen rits dat ons al minder tyd maak om by ons geliefdes uit te kom. Die voordeel van selfone is dat ons soveel makliker met ons geliefdes kan kommunikeer, die nadeel hiervan is dat dit ook vir soveel ander doeleindes gebruik word dat ons meer tyd op hierdie toestelle as saam met ons geliefdes deurbring wat tot slegter menseverhoudings aanleiding gee. Die voordeel van tegnologie en internet is dat ons soveel makliker tot ’n bykans opbeperkte hoeveelheid inligting toegang het. Die nadeel hiervan is dat nie al hierdie inligting vir ons goed is nie omdat ons maklik hierdeur mislei kan word.

Hierdie voor- en nadele van toeganklikheid van inligting is dan ook iets wat die verkondiging van die evangelie oor die wêreld heen beïnvloed. En dit sluit ons eie lewens in. Binne sekondes het ons toegang tot ’n video op YouTube. Ons ontvang op gereelde grondslag d.m.v. sosiale media platvorms video’s van ander. En baie hiervan sal ook wees van mense wat ’n teologiese boodskap wil oorbring. Ons moet tog baie versigtig wees vir die invloed wat hierdie boodskappe op ons geloofsopvattinge het, geliefdes. Dit het tog op die einde van die dag ’n invloed op die beeld wat ons van God het en derhalwe die verhouding wat ons met Hom het. En die invloed van hierdie boodskappe kan derhalwe goed wees, maar dit kan ewe maklik sleg wees. Die feit dat iemand ’n aanhaling uit die Bybel gebruik, is nie ’n waarborg dat hulle besig is om die koninkryk van God te dien en te bevorder nie.

Die Satan het presies hierdie taktiek gebruik om Christus te versoek. “Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie. Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” (Matt. 4:5-7).

Ek is nie seker of dit net my eie ervaring is en of u dit deel nie, maar dit is dan ook asof die verskillende geloofsopvattinge, en dwalinge, boonop aan die toeneem is. Hier word die evangelie verkondig as iets wat net vir ’n sekere genepoel bestem is. Daar word die evangelie verkondig as ’n gerieflike wyse om jou eie geloofsverantwoordelikheid te verwaarloos of selfs na te laat. Op ’n ander plek word die evangelie verkondig as iets wat vir jou geweldige rykdom, voorspoed en geluk moet inhou – ’n staat waarin die mens aan God kan dikteer en Hy moet regstaan om elke opdrag gehoorsaam uit te voer. En hoe langer die lys, hoe vreemder sal sekere opvattinge raak.

’n Logiese vraag wat by die mens in hierdie warboel sal ontstaan, is natuurlik – “Wie sê die “weergawe” van die evangelie verkondiging waarby ek aanklank vind, is suiwer?” Daar is net een ware maatstaf, geliefdes – die suiwer Woord van God waaraan dit gemeet moet word. En daarom dat ek vandag u aandag wil vestig op die wyse waarop Johannes die Doper die evangelie van God verkondig het. Het hy aan mense verkondig dat die evangelie net vir hierdie of daardie genepoel is? “...en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.” (Joh. 3:8). Het hy aan mense verkondig dat as hulle in Christus glo hulle verder hul

geloofsverantwoordelikheid kan afskeep of nalaat? “Dra dan vrugte wat by die bekering pas,...” (Joh. 3:8). Het hy aan mense verkondig of beloof dat die aanvaarding van die evangelie vir hulle oormatige hoeveelheid materiële welvaart tot gevolg sal hê? “En hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen. En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom gesê: Meester, wat moet ons doen? En hy antwoord hulle: Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie. En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy.” (Joh. 3:11-14). Het hy vir mense verkondig dat hulle maar in hul sonde kan voortleef en hulself kan troos met die woorde dat Christus vir die sonde van die wêreld gesterf het? “Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome.

Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

(Joh. 3:9). Het hy vir Herodes gaan sê dat hy maar kan voortgaan met sy

ongeoorloofde verhouding, want Christus is darem hier om aan die kruis te sterf?

Beslis nie! Hy het selfs die magtige Herodes hieroor aangespreek al het dit beteken dat dit tot sy dood sou lei. “Maar toe Herodes, die viervors, deur hom bestraf is oor Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, en oor al die slegte dinge wat Herodes gedoen het, het hy by alles nog dít gevoeg, dat hy Johannes in die gevangenis opgesluit het.” (Joh. 3:19&20). En dít is hoe Johannes die Doper die evangelie van God verkondig het, geliefdes – met vermaninge. Hy het die mense vermaan om hulle van hul verkeerde weë te bekeer en hulle met God te versoen, geliefdes. Dít is die ware evangelie, geliefdes! Die evangelie van versoening. Die evangelie dat Christus gekom het om die straf vir ons sonde te dra sodat ons met God versoen kan word – ja dat ons onsself van die sonde sou wegkeer en na ons God en Vader terug keer om in Hom, eerder as in sonde, te leef.

Die evangelie van vrede – dat ons met God vrede sou sluit eerder as dat ons met sonde en die wêreld sal vrede maak. En hierdie wyse waarop Johannes die Doper die evangelie verkondig het, is deur Christus self as die regte wyse vir verkondiging van die evangelie, m.a.w. as die ware evangelie, bekragtig. “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die

kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.” (Matt. 11:11). Ek glo dat hierdie suiwer verkondiging van die evangelie deur Johannes die Doper vir ons ’n duidelike maatstaf vir die beoordeling van teologiese leringe wat tot ons gebring word, gee. Ons behoort dit ernstig op te neem en ook in ons harte in te sluit aangesien hierdie toestand nie sal verbeter nie, maar eerder met verloop van tyd verder sal versleg. Daarteen het die HERE deur ons lankal reeds gewaarsku. “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal

wend tot fabels.” (2 Tim. 4:3&4).

Amen.