1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7095895

Besoekers aanlyn

Ons het 23 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

WAT IS DIE MENS?

n Vader op sy knieëInleiding

By geleentheid het Dawid van die Bybel ook hieroor gepeins. Dit is ‘n vraag wat vlak in elke mens se gemoed behoort te lê, veral in die huidige tydsgewrig van “geslagsverandering”, homoseksualisme, selfde geslag huwelike, sedelike verval, immoraliteit en aktes van “menseregte”.

Met die Afrikanervolk as die jongste, spontaangevormde volk op aarde wat aanvanklik gelowig, Godgebonde en heg gebind, volgens ongeskrewe etiese en morele kodes, ontleen uit die bestaande Woord van God, as volk gegroei en SUID AFRIKA ontgin en beskaafd gevorm het om ‘n eerstewêreldland te word, het daar nou sekere veranderings ingetree.

Ontstaan van die mens

Genesis 1 en 2

Die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, 5 was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die Here God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie.

7 En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword.

8 Ook het die Here God 'n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, 'n plek gegee.

15 Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.

16 En die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,

17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

18 Ook het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas.

19 En die Here God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.

20 So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.

21 Toe het die Here God 'n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak.

22 En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens.

23 Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.

24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.

Riglyne uit die skeppingsverhaal

Uit hierdie paar uittreksels uit Genesis een en twee kom daar vir ons enkele riglyne na vore. Eerstens die feit dat daar aanvanklik géén mens op die aarde was voordat God die mens, soos al die diere en al die voëls, uit die stof van die aarde geformeer het, God Sy asem in die neus van die geformeerde mens geblaas het en hy toe ‘n lewende siel geword het.

Tweedens dat God vir die mens ‘n plek gegee het in die Ooste, in die tuin van Eden, wat die mens moes bewerk maar ook bewaak.

Derdens dat God self gesien het dat dit nie goed was vir die mens om alleen te wees nie en vir die mens ‘n hulp gemaak uit sy ribbebeen, wat by hom gepas het.

Vierdens dat God beperkings op die mens kon plaas en aan die mens ‘n bevel gegee ten opsigte van wat die mens mag en nie mag doen nie en;

Vyfdens dat God die mens oor Sy skeppingswerk aangestel het om dit te benoem en om daaroor te heers.

In Dawid se bepeinsing oor die waarde van die mens het hy dit só met God uitgeklaar:

“wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?

6 U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.

7 U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:

8 skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld,

9 die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see.”

Gevolge van die skepping van die mens.

Onberekenbare gevolge het voortgevloei uit God se skepping van die mens. Daar het gesinne ontstaan waaruit families gevorm het. Die mens het vermeerder en daaruit het volkere en nasies tot stand gekom. Wedywering vir grondgebied en grondstowwe het tot konflik en oorloë gelei en die meeste van God se riglyne vir die mens het in die vergetelheid geraak. Die verval van die mens in teenstrydige praktyke met die riglyne wat God vir die mens daargestel het, het tot gevolg gehad dat God in sy toorn, feitlik die hele mensdom uitgewis het met die watervloed sodat net Noag en sy gesin in die lewe behou is.

Weer het volkere en nasies gevorm nadat hulle tale deur God verander is omdat hulle by die bou van die toring van Babel teen God in opstand gekom het. Weer oorloë, afwyking van God se gebooie in die vorm van die sondige invloed van Lucifer op die denke van die mens en wedywering tussen die verskeidenheid van godsdienste wat as gevolg daarvan ontstaan het.

Selfs by die volk Israel wat God as sy volk uitverkies het tussen al die verskillende volke, het daar aan en af afwyking en bekering plaasgevind met gevolglike straf en seën, verval en vooruitgang, tot vandag toe!

Hoe sien die mens van vandag daaruit?

Die inherente behoefte van die mens aan ‘n god of ‘n mag wat groter en kundiger as hyself is, is herhaal met die gevolg van verskeie godsdienste en gode wat tot oorloë, stryd, vervolging en ‘n klein kern van gelowiges gelei het. Hierdie klein kern het weggebreek van die Roomse Katolisisme in die vorm van protestante, wat onderling ook weer verdeeld geraak het.

Om nader te kom aan ons eie volk se mense wat sedert 1652 se vestigging van Jan van Riebeeck se verversingspos aan die Stormkaap tot ‘n volk gegroei het, was hulle besef van afhanklikheid van die God van Abraham, Isak en Jakob ‘n vaste riglyn en bron van hoop en beskerming.

Na mate van groei, ontwikkeling en vooruitgang, het die Godgebonde beskaafde norme en waardes, veral sedert die sestigs ‘n aanval van die internasionale liberale sekulêre gees beleef wat gaandeweg, sienderoë en toenemmend ons Bybelse sedelike en morele waardes erodeer het tot waar ons vandag is.

Modernisme en verandering

Dit was Lucas Mangope wat by geleentheid in ‘n radio onderhoud op ‘n vraag van die omroeper oor wat hy van die Afrikaner dink gesê het; “In die verlede as ‘n Afrikaner vir jou iets gesê het, was ‘n handdruk genoeg om die waarheid en opregtheid daarvan te bevestig. Vandag egter, as president de Klerk wat ‘n Afrikaner is iets op papier skryf, kan jy dit nie eers meer glo nie”.

‘n Mens is hartseer as jy na leiers waarna die Afrikanervolk opgesien en sonder vraag gevolg het kyk en sien hoe dit wat hulle gister as beleid verkondig en verdedig het, vandag as euwel en verwerplik beskou, ongeag of hulle kiesers dit as die mandaat beskou het waarom hulle vir daardie leiers gestem het!

Droewig wanneer jy beleef dat kerkleiers wat jy vertrou het, teenstrydig met die Woord van God, nou selfs homoseksuele as predikante, selfde geslag huwelike en dinge soos aborsie onder dekmantel van “liefde” goedpraat en ondersteun.

Verbysterend wanneer laerskoolkinders seksonderrig ontvang en ouers nie in opstand daarteen kom nie.

Dat “Afrikaners” politiekebeleidsrigtings van ons vyande aangeneem en ondersteun en selfs in hulle stelsels opgaan, hulle Godlose grondwet met eedswering aanvaar en onderneem om dit te onderhou en dan voorgee om ons volk se belange te dien! Dit alles omdat die argument dat alles tog moet verander, die argument geword het om alle ander argumente van die tafel af te vee. Modernisme het die “onvermydelike” trend geword waaragter die hele wêreld moet aanhardloop om in tred te bly, om politiek korrek te wees, nie ‘n rassis genoem te word nie, al val die hemel!

WAT IS DIE MENS?

In die lig van wat vandag rondom jou sigbaar is, sou Dawid met reg kon vra: Wat is die mens dat U aan hom dink dat U hom besoek? Moet dit nie vandag óns versugting wees nie? Is ons wat kunstig geweef is in die skoot van ons Afrikanermoeders, nog ‘n weinig minder as ‘n Goddelike wese? Die antwoord is onomwonde ja! Die feit dat ons nie só optree en leef nie, is egter nie ons Skepper se skuld nie. Afrikanervolk, kyk terug na die pad wat u gekom het tot vandag en antwoord dan self die vraag of u lewe lyk soos die van iemand wat slegs ‘n weinig minder as ‘n Goddelike wese is. Kyk ook na die pad wat u kinders bewandel waarvoor u opvoeding  verantwoordelik was. Wat is die mens??

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie