Spr. 15:1-33: “Die offer van die goddelose is vir die HERE ‘n gruwel, maar die gebed van die
opregtes is Hom welgevallig.” (:8). Ek het mense al meermale ‘n ding hoor sê wat ons duidelik nie mooi oordink nie. Wanneer daar gepraat word oor iemand wat in baie moeilike omstandighede verkeer, hoor ‘n mens maklik die volgende – “Al wat ons nou kan doen, is om vir die persoon te bid.” En die probleem hierin is dat dit gewoonlik só gestel word dat dit nou werklik die laaste opsie is wat oorbly. Indien daar m.a.w. nog ander maniere was om die persoon te probeer help, sou ons dit ook eers wou probeer alvorens ons vir iemand begin bid. Hierdie ingesteldheid is baie verkeerd geliefdes.
Die vertrekpunt behoort te wees om mekaar in gebed aan God op te dra. Ek kan nie aan ‘n enkele ding dink wat ek self beter vir iemand kan doen as wat God hulle daarmee sal kan help nie. Derhalwe is daar in my lewe absoluut niks beter wat ek vir ‘n ander kan doen as om hulle in gebed tot die troon van ons Almagtige Vader te bring nie. Geliefdes, die Woord van die HERE gee aan ons die opdrag om vir mekaar te bid. “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.” (Jak. 5:16). En natuurlik word die belangrikheid hiervan vir ons onderstreep deur die voorbeeld in die lewe van onse Here Jesus Christus. Hy wat self ook vir Sy dissipels gebid het. “Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.” (Joh. 17:9). En ons lees selfs meer spesifiek in Lukas 22:32 waar Jesus vir Petrus sê dat Hy vir hom spesifiek (en nie net vir die dissipels in die algemeen nie) gebid het. “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.”
Ons lees dan ook in Kolossense 1:3 hoedat Paulus en die ander dissipels hierdie opdrag van God nagekom het en so vir ons ook hierin ‘n voorbeeld gestel het. “ONS dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid,”. En uit die woorde van Fil. 1:3 & 4 word dieselfde vir ons bevestig. “EK dank my God elke maal as ek aan julle dink – en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap – “. En so het Paulus ook hierdie opdrag en versoek aan die gemeentes van onse HERE Jesus Christus gerig om vir hulle te bid. “Broerders, bid vir ons.” (1 Thes. 5:25).
Hierdie praktyk het natuurlik nie in die Nuwe Testament eers ontstaan nie, geliefdes. Dink maar hoe gereeld Moses nie vir die volk Israel gebid het nie. En is hierdie nie vir ons so ‘n duidelik voorbeeld in hierdie verband nie. Moses het nie eers allerhande oplossings deur sy eie krag probeer vind en dan as laaste uitweg besluit om hom vir die heil van die volk tot God te wend nie. Dink maar aan die gebeurtenis in die woestyn waar die volk die goue kalf gemaak het. En wat Moses gedoen het om hierdie probleem te beredder. “En die volgende dag het Moses aan die volk gesê: Júlle het ‘n groot sonde begaan; maar nou sal ek na die HERE opklim: miskien kan ek vir julle sonde versoening doen. En Moses het na die HERE teruggegaan en gesê: Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak.
Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het!” (Ex. 32:30-32). Ons leer uit ons oordenking vandag uit Spreuke 15 dat die HERE ‘n behae in ons gebede het. Ons leer egter verder uit die Woord van die HERE dat Hy ook ‘n behae daarin het en dit aan ons as ‘n opdrag gee om vir mekaar te bid, geliefdes. Wanneer ons met opregtheid vir ons naaste bid, soek ons nie alleen die aangesig van God nie, maar dra ons ook die belang en welstand van ons naaste aan God op. En dit lewer tog getuienis daarvan dat ons naaste vir ons belangrik is en dat ons vir hulle omgee en hul liefhet, nie waar nie? Ons maak dalk in ons tyd verskonings dat ons te min tyd aan mekaar afstaan en te min by mekaar uitkom. Maar op hierdie punt moet ons onsself die vraag afvra of ons darem nog daarby uitkom om vir mekaar te bid, geliefdes. Daar is gewoon net geen geldige verskoning dat ons dit nalaat nie, geliefdes. Die enigste eerlike antwoord hiervoor sal wees dat dit nie vir ons belangrik genoeg is nie. En volgens die standaard van God se Woord is dit net gewoon onaanvaarbaar.
Geliefdes, laat ons hierdie opdrag en vermaning uit God se Woord om vir mekaar te bid nie op dowe ore laat val nie. Dink daaraan dat ons gebede vir God welgevallig is en dat ons gebede vir mekaar ‘n oprag uit Sy Woord is. En laat ons daarom met volharding ook vir mekaar bid. “ “Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig” (Kol. 1:9).
Amen.