1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7037356

Besoekers aanlyn

Ons het 43 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

WAAK TEEN VERWAANDHEID

Bybel2 Tim. 3:1-9 “MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.” (:1-5).

Ons lees in Paulus se briewe aan Timotheüs van ‘n karaktereienskap wat skerp aangespreek word. Hierdie eienskap is dan ook een wat ongelukkig nie alleen in die breë samelewing meer algemeen word nie, maar ook onder ons eie volk raak dit ‘n meer algemene verskynsel. Ja, verwaandheid is ongelukkig ‘n onkruid wat ook in ons volksakker wortelgeskiet het.

Ons lees elders in die Woord van trotsaards wat ook skerp veroordeel word. Hierdie is myns insiens ‘n ander term vir die veroordeling van dieselfde oortreding. ‘n Troste mens, ‘n hoogmoedige, ‘n verwaande mens is een wat in sy eie krag en vermoë roem en met weinig tot geen ootmoed teenoor God leef. Dit is ‘n mens wat deurgaans op sy eie krag, prestasie en vermoë fokus eerder as om die oog op God gevestig te hou. Dit is ‘n mens wat in sy eie oë só geweldig groot en kragtig geraak het dat sy beeld van homself tussen homself en God staan. Ja, hierdie beeld van homself is al waarop hy kan fokus en daar word vir geen oomblik meer die oog op God gerig nie. En God het ‘n afsku van hierdie eienskappe.

“Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en n slegte wandel en  huigelagtige mond haat ek.” (Spr. 8:13). Ewe duidelik word God se afsku hiervan in Amos 6:8 gestel. “Die Here Here het by Homself gesweer, spreek die Here, die God van die leërskare: Ek het  'n afsku van die trotsheid van Jakob en haat sy paleise; daarom lewer Ek die stad oor en al wat daarin is.” En dan lees ons in Spr. 21:4 ook van die reguit en duidelike veroordeling hiervan. “Hoogheid van oë en trotsheid van hart — die glans van die goddelose is sonde.”

Ons beskou onsself allerweë as ‘n gelowige volk, geliefdes. Indien ons hieroor ernstig is, behoort die feit dat hierdie eienskap van verwaandheid en trotsheid onder ons voorkom ons te kwel aangesien dit vir ons duidelik is hoe groot die afkeur is wat God hierin het. Die groot gevaar van hierdie oortreding is dat ‘n mens wat hoogmoedig, trots en verwaand raak eindelik homself tot sy eie god verhef. So ‘n mens gee nie meer erkenning aan God se gesag nie. Dit klink dalk vir ‘n gelowige mens verskriklik, maar dit is die werklikheid, geliefdes. Dink maar aan die bekende Nebukadnéser van wie ons in Daniël 4 lees.

“Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel, het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot 'n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie? Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar 'n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê — die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.” (Dan. 4:29-32).

Ons wil nie vandag al ons tyd gebruik om die vinger uit te steek en almal wat ek as verwaand beskou te identifiseer nie, geliefdes. Ons wil hierdie vermaning van God ter harte neem en ons eie lewens beoordeel of hierdie smet nie dalk ook iewers aan onsself kleef nie. Dit is natuurlik maklik (en eintlik verwaand) om bloot te ontken dat onsself dalk ook hieraan skuldig is. En dit sal weinig verbeter. Andersyds kan ek en u dalk ook dink aan gevalle in ons lewens waar ons soms verwaand en hoogmoedig optree en dan vandag besef dat ons God daarmee hoegenaamd nie tevrede stel nie.

Ons kan van hierdie punt ook ons skuld in hierdie saak voor God bely en vergifnis vra en onsself sodoende voor Hom verootmoedig en verneder. Laasgenoemde is ‘n kragtige bestryding van verwaandheid, geliefdes. “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jak. 4:10). Indien ons verder teen verwaandheid wil waak en stry behoort ons onsself daarop toe te spits om deurgaans ons oë op die HERE onse God gevestig te hou. Ons moet daarteen waak om nie ons fokus op ons eie krag, prestasies en eer te laat val nie, maar om deurgaans ons verantwoordelikheid teenoor God en ons afhanklikheid van Hom te bedink. Ons moet met ywer daarna streef om in nederigheid voor God te leef, geliefdes. Nederigheid en verwaandheid is teenoorgestelde pole wat mekaar afstoot.

Derhalwe, wanneer ons onsself met nederigheid beklee, sal ons die verwaandheid afstoot. En terwyl God ‘n afsku aan verwaandheid en trotsheid het, het Hy darenteen ‘n groot behae in nederigheid. Ja, Hy maak woning by die nederiges van hart. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, ...” (Jes. 57:15). Ek groet u vandag met die woorde uit Spreuke 16:19 wat ook vir ons hierdie teenoorgestelde pole van nederigheid en verwaandheid/trotsheid duidelik onderstreep. Dit is tog kristalhelder wat vir ons tussen verwaandheid en nederigheid die beter keuse is, geliefdes.

“Dit is beter om nederig van gees te wees saam met die ootmoediges as om buit te verdeel met die trotsaards.” (spr. 16:19).

AMEN

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie