1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7037180

Besoekers aanlyn

Ons het 43 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

VRA ONS OOK NA SÝ LEIDING?

BybelPs. 25:1-22 “Jod. Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer.  Mem. Wie tog is die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies.”  (:9&12).

Ons lees in verse 3 en 4 van hierdie Psalm hoedat Dawid God vra om Hom in Sy weë en waarheid te lei en te onderrig.  “Dalet. Here, maak my u weë bekend; leer my u paaie. He. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag.”  Dit is dan ook opvallend wanneer ons later in hierdie Psalm lees dat daar bepaalde eienskappe by ‘n mens teenwoordig is wat na God se leiding soek.   Dit is duidelik dat die HERE die ootmoediges Sy weg leer.  En dat Hy leiding bied aan ‘n man met Godsvrees in sy hart.  Luister gerus na die woorde van God uit Ps. 32:8&9 wat hierdie waarheid vir ons bevestig.  “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.  Wees nie soos 'n perd, soos 'n muilesel wat geen verstand het nie, wat 'n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.”  Hierin bevestig die HERE vir ons twee dinge.  Die eerste is dat dit in Sy liefdevolle Vaderhart is om aan ons raad en leiding in hierdie lewe te wil gee.  En ten tweede is dat ons hierdie leiding alleen met die regte gesindheid sal ontvang en volg.

Ons onderskat en vergeet dalk te maklik hoe belangrik die regte gesindheid in ons hart voor God is, geliefdes.  Graag wil ek u gedagtes terug neem na Moses wat deur God spesifiek uitgesoek is om Sy volk uit Egipte te lei.  ‘n Man wat nie goed vir homself kon praat nie.  ‘n Man wat regtig op daardie stadium nie groot van aansien in die samelewing was nie.  ‘n Man wat nie op daardie stadium ryk en invloedryk was nie.  Maar ‘n man met die regte gesindheid – ‘n gesindheid wat volkome ontvanklik is om nie alleen God se leiding te soek nie, maar dit ook in nederigheid te gehoorsaam.  “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.”  (Núm. 12:3).  Ja, hierdie ootmoedige, sagmoedige gesindheid was ook kenmerkend van onse HERE Jesus Christus wat God natuurlik in alles gehoorsaam het.  “Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op 'n esel, ja, 'n jong esel, die vul van 'n pakdier.”  (Matt. 21:5).

Ek wil ook die mooi getuienis van Moses waarvan ons in Exodus 33:15 lees aan u voorhou.   “Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.”  Is hierdie nie só ‘n pragtige getuienis van ootmoed teenoor God nie?  As U nie die leiding neem nie, is daar geen leier nie, want ek wil nie die voortou neem nie – ek wil U volg!

Die Woord van die HERE is ook baie duidelik daaroor dat ‘n mens wat sy eie gedagtes hoër as God se leiding ag en dink dat hyself beter as die HERE weet of sonder die HERE se leiding kan klaarkom Hom nie aanstaan nie.  “Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.”  (Job 37:24).  Die woorde in 1 Samuel 15:23 is selfs nog meer duidelik hieroor.  “Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. ...”.  Hierdie woorde is aan koning Saul gerig nadat hy verkies het om sy eie oordeel en gedagtes te volg eerder as om God in ootmoed te gehoorsaam.  En die HERE stel dit vir hom, maar ook vir ons almal, duidelik dat ‘n mens wat só handel nie besig is om Hom te dien nie.  Eiesinnigheid word só skerp veroordeel dat dit as afgodediens bestempel word.  ‘n Mens wat sy eie wil bo God se wil stel, is besig om homself eerder as God te vereer.  

Geliefdes, ons sien reeds die swaar tye waarvan ons in 2 Tim 3:1-4 lees.  “MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.  Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;”.  En hierdie verkeerde dinge vier hoogty omdat die mens van ons tyd homself en sy eie gedagtes hoër ag as God se weë en nie meer met ootmoed begeer om God se leiding te volg nie.  

Laat ons dan ook vandag opnuut ag gee op hierdie vermaning uit die Woord van die HERE wat ons daaraan herinner om ootmoedig voor Hom te leef.  En mag ons daarna streef om Sy Wil en Sy Leiding altyd bo ons eie wil en gedagtes te stel en Hom ootmoedig te dien en te gehoorsaam.  Ja, mag ons mense wees wat nie ons eie wil op Hom probeer afdwing nie of ons eie wil hoër as Sy wil ag nie, maar van harte probeer om na Sy wil in die lewe te vra en dit met volharding te gehoorsaam.  “Here, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.”  (Ps. 119:33).  

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie