Ex. 31:1-11: “Kyk, Ek het Besáleël die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep; en Ek het hom vervul met die Gees van God, met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir allerhande werk, om kunstige planne uit te dink, om dit uit te voer in goud en silwer en koper, en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk; om werksaam te wees in allerhande werk. En kyk, Ek het hom Ohóliab bygegee, die seun van Ahísamag, van die stam van Dan. En in die hart van elkeen wat kunsvaardig is, het Ek wysheid gegee, dat hulle alles wat ek jou beveel het, kan maak:” (:2-6).
Ons lees hier van die opdrag wat God aan Moses gegee het om die tent van samekoms en die daarby behorende items te maak. Maar uit hierdie opdrag en gedeelte word die waarheid van Rom. 11:36 onderstreep. “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” Saam met die opdrag wat God aan Moses gee, skenk Hy hom ook die manne met die nodige verstand, kennis, bekwaamheid en vaardigheid om die werk te verrig. En hierdie manne wat hierdie verstand, kennis, bekwaamheid en vaardigheid besit, het dit ook nie uit hulself nie – dit is ‘n gawe van God. Jakobus 1:17 vat dit vir ons mooi saam. “Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”
Wanneer ons die Woord van die HERE noukeurig bestudeer, sien ons dat ons reeds in die lewe van Abraham in hierdie saak onderrig word. Abraham het ‘n opdrag van God ontvang. Ja, Abraham het ‘n ontsettende moeilike opdrag van die HERE ontvang. Hierdie vriend van God, Abraham, het egter vir God goed genoeg geken om te weet dat Hy nie onredelik is nie. Hy het geweet en getuig dat God vir Abraham met die nodige middele sou toerus om hierdie opdrag uit te voer. “En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun. ...” (Gén. 22:8).
Ons word deur hierdie voorbeelde herinner aan die feit dat God aan elkeen van ons die nodige gawes skenk om Hom na behore te dien, geliefdes. Die gelykenis uit Matt. 25:14-30 wat handel oor die talente wat aan verskillende diensknegte gegee is, skerp ook hierdie saak verder by ons in. En die boodskap hieruit is baie duidelik – God verwag dat ons die gawes wat ons van Hom ontvang het moet gebruik, geliefdes. Maar ons moet dit op só ‘n wyse gebruik dat ons eendag aan Hom rekenskap daarvan kan gee, geliefdes.
Die samelewing rondom ons lyk nie baie rooskleurig nie, geliefdes. En speel die sake waarvan ons tot dusver gepraat het nie ‘n groter rol hierin as wat ons dink nie? Is al die verval, agteruitgang, tot niet gaan, swaarkry en dergelike dinge volkome toe te skryf aan ‘n onbevoegde en korrupte regering? Ek dink nie so nie. Natuurlik staan hierdie goddelose regering sentraal hierin en is die verwoesting en ellende wat deur hulle veroorsaak word ongetwyfeld ontstellend. Maar ons moet versigtig wees om nie so gemaklik daarmee te raak om die vinger in ‘n ander rigting uit te steek dat ons nooit meer selfondersoek doen nie. Die kern van hierdie probleme is in selfsug eerder as ‘n stelsel of regering gewortel, geliefdes. Ja, want was dit nie uit selfsug dat soveel mense dekades gelede so ‘n onbesonne besluit by die stembus gemaak het nie? En is hierdie regeringsamptenare wat soveel verval en agteruitgang veroorsaak nie die toonbeelde van selfsug nie?
Wanorde en ook gemene optrede is aan die orde van die dag. En luister hoe mooi die Woord in Jak. 3:16 ons aandag op die kern van die probleem vestig. “want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.” Ons sien hoeveel van vandag se mense eerder sal leeglê omdat hulle uit selfsug nie bereid is om enigiets te doen waarin die voordeel nie uitsluitlik vir hulself is nie. Ons sien ‘n regstelsel waarin ongeregtigheid dikwels die bo-toon voer omdat mense meer behep is met hul eie finansiële voordeel as om geregtigheid te werk. Ons sien ‘n samelewing wat homself soveel skade met sy eie selfsug berokken.
Geliefdes, ons kyk terug na vorige geslagte wat uit baie min besittings tog op onselfsugtige wyse van hul karige besittings afgestaan het en hul gawes op onselfsugtige wyse benut het. En hierdie mense het skole, kerke, universititeite en reuse ondernemings gevestig wat vir soveel ander geleenthede en ‘n heenkome gebied het. En dan kyk ons na die huidige geslag wat in selfsug net eie belang nastreef en hierdie selfde skole, kerke, universiteite en reuse ondernemings in totale wanorde laat verval en ten gronde laat gaan.
Wanneer ons die wet van die HERE noukeurig bestudeer, sien ons dat bykans elke wet van God ons belet om selfsugtig op te tree. Jy moet die HERE bo enigiets liefhê (ja, meer as jouself). Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – moenie selfsugtig wees nie. Alles gaan nie net oor jouself nie. “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n.” (Fil. 2:4). Jy moet die Sabbat heilig en op hierdie dag rus. Maar só moet ook jou dienskneg en diensmaagd rus soos jy. Dit is verkeerd, dit is selfsugtig om hierdie mense nie ook die nodige rus te gun nie. Jy mag nie steel, egbreuk pleeg en moor nie, want dit is selfsugtig om ‘n ander skade te berokke om jou eie begeertes te bevredig.
Ek glo dat dit nodig is vir elke een van ons om vanoggend hierdie vermaning aan te hoor, geliefdes. Hierdie vermaning wat ons opnuut sal laat besin oor die gawes wat ons van die HERE ontvang het en dat Hy van ons verwag om dit nie op selfsugtige wyse uitsluitlik tot ons eie voordeel te gebruik nie. Mag ons daaraan dink dat elke goeie gawe wat ons gesondheid, verstand, vermoëns en vaardighede insluit, gawes is wat ons uit die Hand van die HERE ontvang het. En mag ons daarna streef om Hom na behore daarmee te dien en só Sy Naam te verheerlik.
Amen.