Afrikaner

WAAROM AANBID ONS DIE HERE?

BybelDeut. 10:10-22 “Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is.” (:14).

Geliefdes, wanneer laas het u ‘n bietjie nagedink waarom ons die HERE aanbid en dien?  Dit klink dalk na ‘n vreemde vraag, maar hierdie is tog ‘n belangrike vraag om aan onsself te stel.  Dalk aanbid u die HERE omdat u maar van kindsbeen af so geleer is.  Dit is wat my ouers aan my geleer het om te doen.  En dit het nou maar deur die jare heen ‘n gevestigde gewoonte by my geword.  Ek lees gereeld Bybel, ek bid en ek gaan elke Sondag kerk toe.   Dalk is hier van ons wat met alle eerlikheid moet erken dat dit lekker is om te dink aan ‘n Almagtige God by Wie geen ding onmoontlik is nie.  Hy is ‘n God van wonderwerke en dit is lekker om só ‘n God te aanbid aan Wie ek my hartbegeertes kan stel.  Ek wil graag goeie dinge van Hom ontvang.  En dit bied boonop vir my ‘n mate van gerustheid om te weet dat daar darem Een is tot Wie ek kan bid wanneer ek in benoudheid of gevaar beland – Een wat uit die nood kan red.

Alhoewel voormelde redes dalk tot ‘n mate deel kan vorm van ‘n hele verskeidendheid redes waarom ek God aanbid, is nie een hiervan veronderstel om die primêre rede te wees nie.  Wanneer laas het ek en u daaraan gedink dat ons God aanbid vir Wie Hy is?  Dit is so maklik in ons mensgerigte samelewing om heeltemal hiervan te vergeet en gewoon God te “aanbid” vir dit wat Hy vir ons kan doen.  Die mens het in ons eie denke mos ontsaglik belangrik geraak.  Ja, selfs dwalleeraars hits hierdie verkeerheid van die mens aan om homself in ‘n posisie teenoor God te plaas waar God net, met alle respek gesê, moet bontstaan om aan al die mens se eise te voldoen.  Ja, in menige van hierdie dwaal-teologieë is die mens die een wat instruksies uitdeel en God moet net gehoorsaam hieraan voldoen.  

Ek wil u in teenstelling met hierdie skewe gedagtes op die teologiese terrein vanoggend opnuut aan die grootheid en verhewenheid van God herinner, geliefdes.    Ja, ons aanbid Hom nie omdat Hy oor ons verleë is nie.  Ons aanbid Hom nie omdat ons self so oulik en spesiaal en buitengewoon goed, amper goddelik, is nie.  Ons aanbid Hom omdat Hý dit waardig is.  Ons aanbid Hom omdat Hý God is en ons as nietige mense voor Hom staan en Hy van ons gehoorsaamheid en eerbied eis.  Ja, ons aanbid Hom as die enigste, ware, lewende God en die Skepper van alle dinge.  Hy is die een wat die aarde en die volheid daarvan geskape het en ook aan my en u die gawe van lewe geskenk het. “... Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hý het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.” (Ps. 24:1&2).  

Geliefdes, sonder Hom sou ons nie bestaan het nie en sonder Hom sal niks verder kan voortbestaan nie!  Die verwaande Farao het ook, soos die mens van ons tyd, gedink dat hy kan maak en breek soos dit vir hom pas.  Hy het ook gereken dat hy geen eerbied aan God verskuldig is nie.  En het die HERE nie vir hom met krag hierop tereggewys nie!  Ja, Moses stel dit aan Farao dat hy hierdie wonders en tekens sal sien sodat hy kan weet dat die aarde aan die HERE behoort!  Ja, selfs hy, die magtige Farao, is aan God eerbied verskuldig.  “...sodat u kan weet dat die aarde aan die Here behoort.” (Ex. 9:29).  Maar nie alleen is die goddelose Farao hieraan herinner nie.  Die HERE het ook Sy volk daaraan herinner dat Hy die God is aan Wie die ganse aarde behoort en dat hulle aan Hom, as die Verhewe God, gehoorsaamheid en eerbied verskuldig is.  “Kyk, aan die Here jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is.” (Deut. 10:14).  

Geliefdes, ek dink dan ook aan die geleentheid waar Job in sy leiding en swaarkry die regverdigheid van God bevraagteken het.  En die HERE het vir Job duidelik in hierdie tyd daarop gewys dat God aan niemand enigiets verskuldig is nie.  Hý is die Skepper en die God van die ganse heelal.  “Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.” (Job. 41:2).  Hierdie waarheid word ook deur Paulus in sy brief aan die Korinthiërs bevestig.  “Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.” (1 Kor. 10:26).  Die HERE stel dit ook duidelik uit Jesaja 45 en Romeine 11 dat elke mens eindelik aan Hom die erkenning as die Skepper en HERE oor alles sal gee.  “Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.” (Rom. 14:11).

Ek groet u vanoggend met die pragtige lofsang uit Romeine 11 wat ons aan die grootheid en verhewendheid van God herinner, geliefdes.  Ja, hierdie pragtige lofsang wat weer vir ons ‘n beter perspektief gee oor waarom ons die HERE aanbid.

“o, DIEPTE van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom. 11:33-36).

AMEN