2 Konings 17:24-41 “Tog het die Here met hulle 'n verbond gesluit en hulle bevel gegee en gesê: Julle mag geen ander gode vrees of julle voor hulle neerbuig of hulle dien of aan hulle offer nie. Maar die Here wat julle uit Egipteland laat optrek het met groot krag en met 'n uitgestrekte arm, Hom moet julle vrees en voor Hom buig en aan Hom offer. En die insettinge en die verordeninge en die wet en die gebod wat Hy julle voorgeskrywe het, moet julle altyd sorgvuldig onderhou, maar ander gode mag julle nie vrees nie.” (:35-37). Geliefdes, hoe identies is hierdie gebeure in die lewe van die volk Israel nie met die geskiedenis van die Afrikanervolk se geskiedenis hier aan die Suidpunt van Afrika nie?
Ons lees hier hoedat heidene die woongebied, die plek, van Israel ingetrek het en daar begin woon het. En hierdie heidense volke het dan ook hul eie gebruike, kultuur en godsdiens daarheen gebring en dit aangehang. En alhoewel die insettinge van die HERE aan hulle geleer is, het hulle hul steeds nie van hul afgodery afgewend nie. “Hulle het die Here gevrees en hulle eie gode gedien volgens die gebruik van die nasies waar hulle vandaan weggevoer is.” (:33). Hulle het hierdie nuwe geloof net saam met hulle bestaande geloof probeer beoefen.
Die HERE stel dit egter duidelik dat diensbaarheid aan Hom nie ruimte laat om ander godsdienste te akkomodeer nie. “...Julle mag geen ander gode vrees of julle voor hulle neerbuig of hulle dien of aan hulle offer nie.” (:35). Hierdie boodskap van die HERE is ewe duidelik uit Exodus 20:3-5. “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God ...” En in Jesaja 48:8 word hierdie boodskap vir ons verder beklemtoon. “EK is die Here, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.”
Wanneer ons oor die lewe van ons Afrikanervolk terugkyk, voel ‘n mens hoedat die seer in jou hart begin opwel. Die besef dat ons volk ons ook skuldig gemaak het aan presies hierdie oortreding waarvan ons in 2 Konings 17 lees. Die grootste deel van ons volk het ook die verbond van ons God vergeet. En met ‘n blatante minagting van die bevel van die HERE het derduisende mense uit vrees ons verantwoordelikheid om as ‘n Godvresende volk tot eer van God hier in ons Vaderland te leef, oorboord gegooi. En daarmee saam is die gebooie en die insettinge van die HERE agter ons rug gewerp omdat ons die bekoorlikheid en aanvaarding van hierdie wêreld wou najaag! “En die insettinge en die verordeninge en die wet en die gebod wat Hy julle voorgeskrywe het, moet julle altyd sorgvuldig onderhou, maar ander gode mag julle nie vrees nie.” (:37). En waar sit ons vandag? ‘n Groot deel van ons volk het geen agting vir die Woord en insettinge van die HERE nie. Mense wie se oupas en oumas nog opregte, Godvresende, eerbare mense was, leef nou gewoon soos heidene. En dan is daar seker nog ‘n groter gedeelte wat darem nog weet dat die HERE bestaan. Maar hulle kennis van Hom is so oppervlakkig dat hulle al te gemaklik daarmee is om Hom saam met ander gode te probeer dien. Hy word aangehang omdat dit gerieflik is om Hom in nood aan te roep, maar Hy word nie in waarheid, in heiligheid en opregtheid aangehang en uit liefde gedien nie.
Ek sit en skud my hoof in verwondering dat ons volk vir dekades lank skuldig voel oor die sogenaamde onreg van apartheid en wie weet watter oortreding nog deur hierdie wêreld se leuenagtige heersers bedink kan word, maar by onvermoë is om tot ‘n skuldbesef van sy onreg teenoor Sy God te kom. Die onreg Hom aangedoen om Sy verbond te vergeet, Sy insettinge en verordening te verlaat en boonop te dink dat Hy tevrede sal wees daarmee om maar net iewers tussen ‘n spul ander afgode van geld, vermaak, trots en eiesinningheid ‘n plekkie te kan inneem. Hoe lank sal dit duur vir ons volk om te besef dat ons oortreding wat ons ellende in ons Vaderland veroorsaak nie ‘n oortreding teenoor die wêreld is nie, maar ‘n oortreding teenoor die Almagtige en Heilige God van hemel en aarde?
Geliefdes, laat ek en u ook ons eie harte en lewens ondersoek om te verseker dat die HERE in ons lewens die ereplek beklee omdat ons weet dat Hy met niks minder as dit tevrede is nie. En wat meer is, omdat ons weet dat Hy dit volkome waardig is. Mag ons daarna streef om trou aan Sy verbond teenoor Hom te leef. Ja, laat ons ons harte ook vir Hom heilig om Hom alleen, in waarheid, in opregtheid en uit liefde aan te hang en te dien. “Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees” (1 Pet. 3:15).
Amen