In belang van ons Afrikanervolksgenote, binne en buite georganiseerde landbou, reageer ek uit deernis met hulle op u ope brief.
Sedert 6 September 1966 na die beplande sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd, is ons volk deur “Afrikaners” en Afrikanerorganisaies uit ons land uit verkul, werkloos gelaat, blootgestel aan moord en verminking en bedreig met eiendomonteiening, nou al vir 28 jaar! Word ons feitlik daagliks gedreig met ontwapening en in ‘n toestand van oënskynlike totale onmagtigheid gebombardeer deur die hoofstroommedia.
Internasionale ingryping deur die WGO wat die regeerfunksie van feitlik elke regering in die wêreld oorgeneem het met onbewysbare pandemiesyfers en erg omstrede virusinfeksies aksentueer die feit dat die leuen besig is om die waarheid te vervang en skep ‘n klimaat van onrus en onmag onder ons volk.
Dat ons dus in ‘n tydvak leef waar die “stert oral die hond swaai”, het eintlik nie werklik verduideliking nodig nie. Daar het oor baie jare vele organisasies ontstaan wat begryplik in belang van hulle lede se gemeenskaplike behoeftes moes optree.
Ek noem enkeles: Die Nasionale Party, Die Broederbond, die ATKV, AGRI SA, TLU, VLU, SAJWV. Elkeen wat ‘n sekere mandaat van hulle lede ontvang het waarvolgens hulle lede se kollektiewe belange behartig moes word. Die vraag wat na vore kom is of hierdie organisasies werklik in ledebelang opgetree het of in iemand anders se belang.
Soos met hierdie ope brief van u, bestaan daar by waarskynlik elkeen van hierdie Afrikanerorganisasies, geldige en geregverdigde korrespondensie van lede wat ongelukkig is met die optredes, uitsprake en deelname in aangeleenthede wat nie in belang van die lede is nie.
Wat in u ope brief van belang is, is eerstens die aanhef, tweedens U erkenning van teenkanting uit eie geledere en derdens u slot paragraaf.
1.
“Nampo en Graan SA het die afgelope tyd uit verskeie oorde onder hewige kritiek deurgeloop as gevolg van die Covid-19-regulasies vir besoekers van Nampo 2022 – en sommige van die oorde was verbasend. Uit die staanspoor, ter inligting: Ons toepassing van die regulasies is gegrond op die rampbestuurswet se regulasies se oorgangsmaatreëls wat by bit.ly/3xNJJ90 gelees kan word.”
2. U erkenning van teenkanting uit eie geledere:
Huidige teenkanting
Deur die huidige reaksie teenoor Nampo 2022 word die span, waarvan die graanprodusente deel is, deur hul eie toeskouers uitgejou, gevloek en sleggemaak. Die spelers op die veld moet die punte aanteken – en die stryd op die veld is moeilik genoeg.
En ongeag wat op die paviljoen aangaan – die spel op die veld gaan onverpoos voort.
Dis haas onmoontlik as die mense wat jou moet ondersteun, óók dan teen jou is. Help ons eerder, ondersteun en motiveer ons eerder, want dis ʼn groot stryd dié. Ons speel vir die titel en ons moet ons plek bly oop speel. Jy moet op die veld wees om punte te kan aanteken. Dis nie ons reëls nie, maar die lesse wat ons in die verlede geleer het, moet ons onthou. Weet net daar is ʼn plan, ʼn duidelike strategie agter alles.
3. U slot paragraaf. . “Ons bly hoopvol dat al die regulasies wat hierdie ontevredenheid veroorsaak het, teen begin Mei afgeskaf sal wees, maar ongeag, kom ons beweeg aan en konsentreer op die spel”.
Dit is duidelik dat u vanweë u voorop ingestelde afleiding dat die teenkanting nie geldig is nie, vandaar u ope brief, u die klimaat van onrus, onmag en algemene frustrasie onder ons mense nie na waarde skat nie! U erken in u openingsparagraaf dat: “Nampo en Graan SA het die afgelope tyd uit verskeie oorde onder hewige kritiek deurgeloop as gevolg van die Covid-19-regulasies vir besoekers van Nampo 2022 – en sommige van die oorde was verbasend.
In belang van u lede en landbou in besonder, sou simpatie met en uiting van verset teen hierdie onbillike en onregverdigbare verlengde Covidinperkings die gulde geleentheid gewees het om die welwillendheid van u beswaarmakers te behou, maar ook daarin geslaag het om verlore vertroue in georganiseerde landbou te herstel, nie net plaaslik nie maar waarskynlik wêreldwyd. Gewillige deelname aan die voortsetting van belemmerende en oogloppend nadelige maatreëls in die lig van ‘n oorwig van getuienis dat daar nie ‘n pandemie was nie, bevorder nie Graan SA of Nampo se handhawing van ledebelang nie.
U kriptiese, en ek moet bysê holruggeryde, “ Weet net daar is ʼn plan, ʼn duidelike strategie agter alles”, is lankal nie meer vir Afrikaners wie se land onder hulle uit gesteel is, aanvaarbaar nie! Inteendeel is dit agterdogwekkend en kon dit liewer ongesê gebly het. Dit is nie meer wat gesê word wat vertroue vestig nie maar wat in lede se belang gedoen word!
3. Ten slotte.
Om hoopvol te bly op wat die vyand van jou volk gaan doen of nie doen nie en dit aan te bied as rede vir aanvaarding van wat nou onaanvaarbaar is, dui op onmagtigheid, indien nie onwilligheid om in belang van geregverdigde kritiek, in belang van jou lede standpunt in te neem nie. Wie se belang word in hierdie geval deur Nampo gedien waar die getal bywoners se kollektiewe verset ‘n werklike boodskap kon stuur?
Vriendelike groete,
Danie Varkevisser
Afrikaner Volksparty
Dr Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, het ʼn ope brief geskryf na aanleiding van die reaksie op sosiale media rakende die 2022 Nampo-oesdag se Covid-19-regulasies vir besoekers.
Nampo en Graan SA het die afgelope tyd uit verskeie oorde onder hewige kritiek deurgeloop as gevolg van die Covid-19-regulasies vir besoekers van Nampo 2022 – en sommige van die oorde was verbasend. Uit die staanspoor, ter inligting: Ons toepassing van die regulasies is gegrond op die rampbestuurswet se regulasies se oorgangsmaatreëls wat by bit.ly/3xNJJ90 gelees kan word.
Ek dink ʼn goeie plek om te begin, is om almal weer voor te stel aan Nampo en te herinner wie en wat Nampo is.
Graan SA
Ek weet baie weet dit, maar Nampo, die handelsmerk en die plaas buite Bothaville met sy infrastruktuur behoort aan Graan SA. Die volgende logiese vraag is dan: Aan wie behoort Graan SA? Dis ʼn eenvoudige antwoord: Graan SA behoort aan die huidige en vorige graanprodusente van Suid-Afrika, asook die toekomstige geslagte graanprodusente. Graan SA is ʼn vrywillige organisasie sonder winsoogmerk wat deur graanprodusente gestig is. Graan SA word steeds gefinansier uit graanprodusente se vrywillige heffings wat hulle betaal op die graan en oliesade wat hulle produseer.
Om hierdie rede konsentreer en werk Graan SA suiwer op die mandate wat sy lede op ʼn jaarlikse kongres aanvaar Dit is juis omdat afgevaardigdes na die Graan SA-kongres vroeg in Maart vanjaar, juis op Nampo-park, saamgestel het oor dié manier waarop ons Nampo gaan aanpak, en dit op groot risiko en onsekerheid in daardie stadium.
Ontstaan
Nampo het ontstaan uit drie graanprodusente naby Bloemfontein wat die behoefte gesien het om vir hulself en mede-produsente ʼn geleentheid daar te stel waar hulle die nuutste landboutoerusting in aksie kon sien. Daarmee saam kon ander insetverskaffers die geleentheid gegun word om met huidige en voornemende kliënte te skakel, nuwe produkte bekend te stel, idees uit te ruil en ook netwerke en verhoudinge te bou.
Nampo het deur die jare gegroei en ander stalletjies het bygekom om dit ook vir die produsente se geliefdes ʼn unieke en aangename ervaring te maak, omdat ons produsente en lede familiemense is.
Nampo se doel
Die hoofdoel van Nampo vandag is steeds om die geleentheid daar te stel waar voedselprodusente van Suid-Afrika en buurlande na die nuutste tegnologie en produkinnovasies kan kom kyk, met kundiges in die bedryf kan kom gesels en nuwe idees kom kry.
Ek het soveel keer al gesien, die ou wat die meeste leer op Nampo, is die ou wat staan en luister hoe ander oor ‘n kwessie gesels. Ja, baie keer weet so ‘n luisteraar nie eens hy het ‘n probleem nie, maar deur te luister kan hy sy eie voortbestaan en winsgewendheid dalk verbeter.
Ten tweede is Nampo al va n 1967 af ook gebruik om bykomende geld in te samel om die nodige bedrywighede – dit is nou om hul eie sake beter te maak – te kan finansier. Die doel met Nampo is dus ook om bykomende geld in te samel – die geleentheid is daar, en, om die park te onderhou kos ‘n aardige bedraggie per jaar – om doelwitte te kan bereik om sake vir voedselprosudente van Suid-Afrika beter en volhoubaar te maak.
Hoewel Nampo se hoofdoel nie wins is nie, gaan dit oor die besigheid wat daar en in die toekoms reg oor die hele landbouwaardeketting gedoen word. Dit is hoekom Nampo belangrik is, nie net vir die landbou nie, maar vir Suid-Afrika. Dit gaan dus nie net oor die fisiese besigheid wat gedurende die week van Nampo gedoen word nie, maar veel meer, sodat die voedselprodusente kan aanhou om die beste gehalte kos teen die beste pryse te produseer vir die mense van Suid-Afrika.
Die gemiddelde produsent bring bykans sewe uur deur op ʼn dag se besoek aan Nampo. Dit is belangrik om te weet dat al die kos wat daar te koop aangebied word, deur plaaslike en omliggende dorpe se instellings soos kerke, skole en boereverenigings bedryf word om ook hul geld aan te vul. Jaarliks word honderde duisende rande sodoende in gemeenskappe teruggeploeg.
Daar is verskeie faktore wat die winsgewendheid van die produksie van graan en oliesade beïnvloed – waarvan die regering een van die moeilikste is. Graan SA en verskeie ander organisasies in die georganiseerde landbou is daagliks besig – op die veld, in die arena – om saam in hierdie skrums te druk. Te druk vir vryheid, regverdigheid, vir billike en eerlike staatsienste, werkende infrastruktuur en ʼn veilige land vir ons en ons kinders.
Huidige teenkanting
Deur die huidige reaksie teenoor Nampo 2022 word die span, waarvan die graanprodusente deel is, deur hul eie toeskouers uitgejou, gevloek en sleggemaak. Die spelers op die veld moet die punte aanteken – en die stryd op die veld is moeilik genoeg.
En ongeag wat op die paviljoen aangaan – die spel op die veld gaan onverpoos voort.
Dis haas onmoontlik as die mense wat jou moet ondersteun, óók dan teen jou is. Help ons eerder, ondersteun en motiveer ons eerder, want dis ʼn groot stryd dié. Ons speel vir die titel en ons moet ons plek bly oop speel. Jy moet op die veld wees om punte te kan aanteken. Dis nie ons reëls nie, maar die lesse wat ons in die verlede geleer het, moet ons onthou. Weet net daar is ʼn plan, ʼn duidelike strategie agter alles.
Graan SA is trots om te kan sê ons ontvang 100% skoon oudits. Dit is ʼn bewys van die verantwoordelike manier waarop ons dinge hanteer en bestuur. Daardie integriteit gaan ons nie inboet nie.
Hoe ander organisasies hul besigheid bedryf en regkry wat hulle regkry, het niks met ons te doen nie. Ons het ʼn taak voor hande, en dis om ʼn suksesvolle Nampo 2022 aan te bied – tot voordeel van ons lede, graanprodusente, gemeenskappe en die hele Suid-Afrika.
Ons span vir Nampo 2022 en Graan SA is toegewyde, geesdriftige en kundige mense wat na ʼn afwesigheid van twee jaar daarna uitsien om Nampo weer te kan aanbied.
Hiermee volstaan ek: konsentreer eerder saam met ons op die taak op hande en die groter prentjie en doel. Deur Nampo 2022 skade te probeer berokken, straf jy nie die opposisie nie, maar jy straf die span. Ons bly hoopvol dat al die regulasies wat hierdie ontevredenheid veroorsaak het, teen begin Mei afgeskaf sal wees, maar ongeag, kom ons beweeg aan en konsentreer op die spel.