Jos. 9:1-27 “Toe neem die manne van hulle padkos; maar die mond van die Here het hulle nie geraadpleeg nie.” (:14).
Ons word uit vanoggend se teksvers aan ‘n frustrerende werklikheid herinner. En hierdie werklikheid is dat ons almal foute maak, geliefdes. Ja, hier lees ons van die merkwaardige leier, Josua. Ons lees aan die begin van hierdie hoofstuk hoedat die konings van ses volke hul kragte saamsnoer om hierdie man te probeer weerstaan. En steeds kon hulle nie hierin slaag nie. Dit gee tog vir ons ‘n idee hoe “groot” hierdie man in daardie tyd was. Beslis iemand om mee rekening te hou. Ongetwyfeld ‘n baie besonderse man. Maar helaas ook maar net ‘n man, ‘n mens. Ja, ‘n mens met gebreke, tekortkominge en swakhede.
Terwyl die konings van die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete saamgespan het om nie deur Josua verower te word nie het die inwoners van Gíbeon ‘n ander plan bedink. In die gevegte met die konings wat teen Josua saamgespan het, het hy oorwin, want God was met hom in hierdie stryd. Maar in die saak van die Gibeoniete het Josua op sy eie insig gesteun. Hierin het hy fouteer. Hy het ‘n fout gemaak wat elkeen van ons ook maak, geliefdes. En ons maak hierdie fout ten spyte van die duidelike waarskuwing van die HERE hierteen. “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” (Spr. 3:5).
Ek wil dan vanoggend ook aan u die vraag stel – “Hoe dikwels raadpleeg u die HERE”, geliefdes? Ek moet dalk die vraag anders aan u stel – “Wanneer laas het u die HERE geraadpleeg?”. Hierdie is geen vreemde opdrag uit die Woord van die HERE nie, geliefdes. Dit is iets waarvan ons dikwels lees. Ons lees byvoorbeeld in Exodus 33:7 hoedat voorsien daarvoor gemaak is vir enigeen van die kinders van die HERE om Hom te gaan raadpleeg. “En Moses het elke keer 'n tent geneem en dit vir hom buitekant die laer opgeslaan, ver van die laer af; en hy het dit genoem die tent van samekoms. En elkeen wat die Here wou raadpleeg, het uitgegaan na die tent van samekoms wat buitekant die laer was.” Ons onthou seker almal van koning Dawid wat die HERE dikwels geraadpleeg het. “Toe raadpleeg Dawid die Here en vra: Sal ek gaan en daardie Filistyne verslaan? En die Here sê vir Dawid: Gaan en verslaan die Filistyne en verlos Kehíla.” (1 Sam. 23:2). Die Godvresende konings van Israel en Juda het ook dikwels die HERE geraadpleeg. “Verder het Jósafat aan die koning van Israel gesê: Raadpleeg tog eers die woord van die Here.” (2 Kron. 18:4).
Ons lees in Sefánja 1 van die bedreiginge teen Jerusalem en Juda. En hierin is die toorn van die HERE ook teen hulle wat Hom nie soek en Hom nie raadpleeg nie. “Ook die wat van die Here afvallig word en wat die Here nie soek en Hom nie raadpleeg nie.” (Sef. 1:6). Dit is duidelik geen geringe saak om die HERE nie te raadpleeg nie, geliefdes! Ja, ook uit Spreuke 3:6 ontvang ons hierdie opdrag. “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Ons probleem is dat ons daarvan hou om die klem op die tweede gedeelte van hierdie vers te laat val – “...dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Ons hou daarvan om te let op dit wat Sý verantwoordelikheid is, geliefdes. En só mis ons op hierdie wyse óns verantwoordelikheid – “Ken Hom in al jou weë,...” – teenoor die HERE.
Ek dink dat ons menigmaal tevrede is daarmee om die HERE bloot van ons besluite in die lewe in te lig. En dan voel ons dat ons Hom daarin geken het. Ons het mos aan Hom meegedeel wat ons van plan is om te doen. En op hierdie wyse sus ons ons gewete. Maar dit is mos nie wat dit beteken om Hom te ken of Hom te raadplaag nie, geliefdes? Indien u kind ‘n verkeerde besluit maak en u gewoon daarvan inlig en daarmee voortgaan, het hy/sy u in die saak geken? Indien hy/sy u in die saak geken het, met eerbied na u raad gevra het, kon u hom/haar dalk van ‘n verkeerde besluit met slegte gevolge deur u raad teruggehou het. Maar wanneer u bloot ingelig word oor ‘n saak is daar nie min wat u daaraan kan doen nie, maar dit wek ook by u ‘n hartseer omdat hierdie optrede (dalk onbewustelik) aan minagting grens. Is u raad en u mening dan van geen betekenis nie? Indien ons nalaat om die HERE in ons lewe te raadpleeg en Hom in ons weë te ken, moet ons ongetwyfeld ook vir onsself die vraag stel – “Is Sy raad en Sy mening dan vir ons van geen betekenis of waarde nie?”
Ek vertrou dat elkeen van ons vandag hiervandaan weggaan met genoeg stof tot nadenke oor die aandeel van die HERE in ons besluite en lewens. Mag Hy ons daartoe help om die liefdevolle eerbied aan Hom te betoon deur Hom, volgens Sy raad en opdrag, te raadpleeg en Hom in opregtheid in ons lewens te ken.
Amen.