1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7280641

Besoekers aanlyn

Ons het 12 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

IS ONS HANDE REIN?

BybelPs. 24:1-10 “Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek?  Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van die Here en geregtigheid van die God van sy heil.” (:3-5). 

Geliefdes, hierdie vraag wat Dawid in Psalm 24:3 stel laat my onwillekeurig aan ‘n gebeurtenis in Moses se tyd dink.  Daar waar God met Moses afgespreek het om op die berg Sinaí na Hom op te klim ten einde aan hom die wet te gee wat aan Sy volk geleer moes word.  En voordat Moses na God opklim, is hierdie belangrike reël deur God aan hom gegee.  “Ook moet jy vir die volk 'n grens rondom aanwys en sê: Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik gedood word.” (Ex. 19:12).  Hoe kosbaar is hierdie twee gedeeltes nie om ons aan God se heiligheid te herinner nie.  En hoe nodig is dit nie in ‘n samelewing waarin die ontsag vir God, die opregte Godsvrees, die besef van Sy heiligheid aan die kwyn is nie.  

Hierdie vraag uit Psalm 24 word dan ook deur Dawid self beantwoord, geliefdes.  Dit is hieruit duidelik dat dit nie sommer enige “hierjy” is wat na hartelus en sonder enige respek voor God kan kom en gaan nie.  Nee, geliefdes, dit is duidelik dat ‘n mens homself met waardigheid voor God moet gedra.  U sal my nou seker wil vra oor die geval waar die sondares die voete van Jesus gesalf het.  Ons lees mos hiervan in Lukas 7:36-50.  Hierdie was maar net een van menige gevalle waar sondige, onwaardige mense na Jesus gekom het.  En Hy het hulle dan nie weggewys nie?  Geliefdes, hierdie vrou het nie na Jesus gekom met ‘n verwaandheid dat God maar met haar sondige lewe en onheiligheid tevrede moet wees nie.  Sy het ook nie gedink dat haar onheiligheid in God se oë aanvaarbaar is nie.  Inteendeel, die besef van die verwerplikheid daarvan het hierdie vrou se hart geskeur.  Daarom dat sy in trane tot Hom genader het.  “en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.” (Luk. 7:38).  En hierdie vrou, diep bewus van haar onwaardigheid en onheiligheid, het met waardigheid en reinheid van Hom weggegaan.  “En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe.  En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.” Dink u dat dit ook die geval was vir die Fariseërs wat Hom genooi het en met hul eie onheiligheid tevrede was, geliefdes?

Dawid maak spesifiek in Psalm 24 melding van hom wat rein van hande is.  Dit laat my weer onwillekeurig dink aan die gebeurtenis waarvan ons in Lukas 11:38&39 lees.  “En toe die Fariseër dit sien, het hy hom verwonder dat Hy nie voor die maaltyd eers gewas het nie. Maar die Here sê vir hom: Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid.” Spreek Christus nie self hier die onreinheid van die mens aan nie, geliefdes?  Dit is duidelik nie iets waarmee God tevrede is nie.  En hoe hartseer is dit nie dat mense selfs vanaf “predikers” hoor dat hulle maar rustig in hul sondigheid en onheiligheid kan voortleef.  “Jesus het mos klaar gesterf.” Het Hy regtig gesterf sodat ons die onheiligheid en ongeregtigheid kan voortsit en selfs vermeerder?  Het die Vader dan werklik Sy Seun se lewe so gering geag?  So ‘n redenasie grens aan ‘n lastering teen God, geliefdes!  Want die heilige Woord van die HERE leer vir ons die teendeel.  “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”.  (Heb. 10:26-29).

Dit is nodig om in ons tyd daaraan herinner te word om ons lewe, ons hande rein te hou, geliefdes.  Ons leef in ‘n samelewing wat toenemend onheilig raak.  Dit raak hoe langer, hoe meer sosiaal aanvaarbaar om in onheiligheid te leef.  Maar die feit dat ‘n volk, ‘n samelewing se morele standaarde verlaag, beteken nie dat God Sy standaard dienooreenkomstig aanpas nie.  “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.  Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.” (Matt. 24:37&42).  Waarteen moet ons dan waak geliefdes?  Om nie soos die wêreld rondom ons, soos ook in Noag se tyd, in onheiligheid te verval nie!  Hierdie vermaning word tog ook vir ons in 1 Tim. 5:22 gegee.  “...en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” 

Geliefdes, ek wil u dus vandag vermaan om oor u eie lewe voor God te besin.  Beoordeel met waarheid of daar enige onreinheid is wat aan u hande kleef en raak daarvan ontslae!  Onthou dat dit die wil van God is dat ons met rein, met heilige hande voor Hom moet verskyn.  “Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.” (1 Tim. 2:8).

Wel bewus daarvan dat hierdie nie ‘n maklike stryd is om te voer nie, groet ek u vanoggend met die bemoedigende woorde uit Job 17:9.  “Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag.” 

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie