‘n volk val uitmekaar wanneer hy die beginsel van afsonderlike ontwikkeling verruil vir rasseintegrasie, ongeag die velkleur wat betrokke is. Die eerste verskynsel by aanvaarding van die integrasiemodel, is onvermydelik verdeeldheid. Asof daar nooit debat en waarskuwings was oor die verloop en ontwikkeling van ‘n geintegreerde samelewing, word daar vandag oral vingers gewys na alles en almal behalwe die versaking van die beginsel waarvan afgewyk is nie.
Die ontstaan van onderlinge verdeeldheid en selfs vyandigheid onder eie volksgenote word telkens toegeskryf aan leierskap, rassisme, onverdraagsaamheid en meerderheidswaan om weg te beweeg van die ware oorsaak waarteen van meet af aan gewaarsku was!
In ‘n toespraak in 1962 het dr. Verwoerd dit duidelik uitgespel met bewys van die onhaalbaarheid van ‘n aanvaarbare, werkbare en voorspoedige rasgeїntegreerde regeerstelsel soos waarvoor daar toe al ge-ywer is. Wat in 1994 met onderduimse en geheime onderhandelings op verraderlike wyse bereik is en sedertdien ons hele land in puin het met ‘n blank en swart verdeelde “samelewing” wat Suid Afrika ten gronde gerig het soos wat hy voorspel het! Kyk weer na wat hy in 1962 gesê het en verskil daarmee indien u politiek blind en doof geword het vir die waarheid!
Laat ons die oplossing van ‘n veelrassige staat ’n bietjie nader bekyk. Of dit nou federaal georganiseer word of volgens ’n ander stelsel, maak vir my argument eintlik geen saak nie. As die een veelrassige staat ‘n federaal georganiseerde staat sou word (ooreenkomstig Verenigde Partybeleid) of die eenheidstaat (volgens Progressiewe Partybeleid met ’n beskawingstoets), of ‘n eenheidstaat (volgens die Liberale Party se voorstel van een-man-een-stem) en hy sou tegelykertyd waarlik demokraties wees en in ooreenstemming met die tydgees wat in die wêreld heers, dan sal dit onverbiddelik moet lei tot Bantoe-oorheersing. Want die getalle sal op die ou end moet tel. Dit is wat die tydgees verlang. Dit heet hedendaags werklike demokrasie.
Dit is nie wat die Kommuniste beoefen nie. Dit is nie eens wat die Afrika-state beoefen nie. Dit is waarvoor druk uitgeoefen word wanneer eise gestel word teenoor ons land. Met ander woorde, die Integrasiepad mag vertraag of versnel word, maar onverbiddelik loop dit uit op Bantoe-heerskappy. Daaruit is dan geen redding nie. Die gevolg daar van moet wees ’n onreg teenoor alle minderheidsgroepe. My agb. vriend het verwys na Tanganjika. Die korrekte verwysing daarna sou in hierdie verband wees: In Tanganjika het Brittanje en andere daarop staatgemaak dat Nyerere gematig is en in beheer sou bly en dat hy die Blankes (20,000) en die Indiërs (100,000) medeseggenskap sou gee. Dit is waar dat hulle, as minderhede verdring sou word wanneer die hele bevolking saam ’n eenheidskieserkorps is. Dit is egter ook waar dat hulle vereers dit nie verwag het nie, maar dat hulle verwag het dat elke groep op ’n kommunale basis min of meer gelyke mede-seggenskap sou kry. Nou vind ’n mens dat selfs in die staat – wat die verwagtings ook al was en afgesien van wat ook al mag gebeur het – niks anders gebeur as elder nie, nl. dat die Bantoe sê: “Dit is my land en ek wil volle heerskappy hê, want ek is in die meerderheid”. Blankes en Indiërs word dus daar gelyklik getref.
Dit sal ons Kleurlinge en ons Indiërs in ag moet neem. Hulle moet nie dink dat hulle beskerming het op grond van hul verkleur nie. Die minderheidsgroepe sal almal rekening moet hou met ’n onbeperkte Bantoe-heerskappy as een veelrassige staat tot stand kom
Ek steek dit nooit weg nie. Jy moet by die keuse tussen die alternatiewe albei toets - of jy liewers die huidige toestand wil behou of nie. En dan sê ek ondubbelsinnig: die gevolg van een veelrassige staat kan die volk van Suid-Afrika nie aanvaar nie tensy die Blanke, die Kleurling en Indiër rasseselfmoord wil pleeg. (My beklemtoning)
Skep self u eie toekoms, het hy by geleentheid gesê. “Wanneer gepraat word dat diie oplossing van hierdie stryd geleë is in die samevoeging van alle mense --- sogenaamde integrasie --- begryp hulle nie dat dit nie eenwording is nie. Al wat sal gebeur is die vernietiging van die Blankedom. Nie integrasie nie, maar disintegrasie van die Blankedom, van die beskawing en van die godsdiens wat ons ge-erf het…. Ons veg met alles wat in ons is, want ons weet ons is ‘n nasie in wording. ….. Ons moet, almal moet, ons volk blank hou. .
As ons as ouers, as ons as opvoeders, die geleentheid wat ons besit reg gebruik, dan kan ons van hierdie jong volk ‘n kragtige en ‘n groot volk maak. Ons sal, en dit is my hoop en dit is my geloof. Ek glo in ons volk. . . . Die bloed van dapper manne, dapper vroue, het ons aardbodem benat. Die opofferings brand in ‘n nasie se lewe soos ‘n vuur, ‘n vuur wat nooit gedoof word nie. Dit vlam weer op wanneer die moeilikhede kom, al sak dit tussenin weg.
Die vuur wat die harte van mense staal, sal ons instand hou. Ons sal ons met hart en hand bly toewy aan ons Volk en ons vaderland. Die Republiek van Suid Afrika het al ons trou . . . of dit sal wees in roem of in rou, of dit sal wees in moeilike tye of goeies. Aan hierdie Republiek van Suid Afrika wy ons ons lewens en krag....” Het dr. Verwoerd by geleentheid gesê.
By September 1966 was dit wat die Afrikanervolk was! Weliswaar nie ‘n groot volk nie maar wel ‘n heggebinde, nasionalistiese, gelowige en kragtige volk. ‘n Volk wat soewerein onafhanklik was en finansieël en militêr selfversorgend. Dit is nou 28 jaar later en Suid Afrika is tot bedelstand gereduseer! Die “vuur” waarna dr. Verwoerd verwys het, het grootliks verdwyn. Dit het opgegaan in verskeie “Afrikaner” organisasies wat reeds aanvaar het dat Suid Afrika nie net die Afrikaner se land is nie en het daar geblus geraak saam met die beginsel van eiesoortigheid en die handhawing daarvan.
Die uitvloeisel van die afwyking van die beginsel van afsonderlike ontwikkeling het as gevolg, verdeling in Afrikanergeledere gebring! Hierdie verdeeldheid het vierkantig kom staan in die pad van eendragtigheid. ‘n Beletsel op ons vryheidstryd waar samehorigheid en eensgesindheid ‘n voorvereiste is. Die vraag wat telkens opkom, is waarom is daar selfs verskil van mening onder Afrikaners wat eens heg gebind was in die beginsel van Afsonderlike Ontwikkeling?
Eers was dit na Uniewording in 1910 met grootskaalse Engelse invloed dat baie Afrikaners in die liberale Engelse stroom van ongebondenheid ingesuig is ten koste van nasionalisme. In 1948 met die Nasionale Party se oorwinning en ‘n stewige greep op onderwys en opvoeding, ook in die universiteite van Stellenbosch, Pretoria en Potchefstroom, het die Afrikaners weer begin saambind, veral op politieke gebied. Patriotisme is op skool en universiteit weer beklemtoon en het gegroei en ons volk op elke lewensterrein begeester. Na die sluipmoord op dr. Verwoerd is die aanslag op alles wat Afrikaans is egter weer verhoog en deur kerk en kultuur organisasies ondersteun in die vorm van humanisme wat oral ingedring het. Liefde vir die eie land, volk en taal is met skuld belaai as sou dit ‘n godsdiens geword het, terwyl sport as brugbouers aangewend is om veelvolkigheid te bevorder. ‘n Beplande aanslag om ons volksankers te trek is geloods deur elke volksfees se naam te vervang en gaandeweg op die agtergrond te skuif.
Ons skole is verswart en moedertaalonderrig vervang met Engels. Die effek van die “totale aanslag” wat selfs nou nog deur sommige Afrikaners as ‘n belagging afgemaak word, het baie van ons volksgenote se volksgevoel vernietig sodat wêreldburgerskap meer aanvaarbaar geword het as om Afrikaner te wees. Soos dr. Verwoerd het die AVP ‘n verwagting dat ons volk sal terugkeer na die enigste beginsels wat ons ‘n volwaardige volk gemaak het. Dat ons mekaar weer sal vertrou en sal wegdoen met die volksverdelers.
Eers wanneer elke Afrikaner bereid sal wees om hard en duidelik aan die wêreld te sê: Hierdie land is óns land en bereid is om dit te verdedig, eers dan sal ons instaat wees om ons volkseenheid te vestig en hierdie onwettige en ongeregtige juk van ons af te gooi en ons vryheid en ons land weer te herstel!