1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7095869

Besoekers aanlyn

Ons het 14 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

WAARIN Lê ONS KRAG?

Bybel2 Kor. 12:1-10

“En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.  Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.” (:9&10).

Geliefdes, dit klink asof daar nie sin is in dit wat Paulus in hierdie brief aan die Korinthiërs skryf nie.  Hoe kan ‘n mens sterk wees wanneer jy swak is?   Maar, soos met elke gedeelte uit die Woord van God, lê hierin vir ons ‘n kosbare skat wat met verdere ondersoek ontdek kan word.  Hierdie saak waarvan Paulus spreek, is geen geïsoleerde geval nie.  Daar is talle voorbeelde uit die Woord wat hierdie stelling van Paulus uit ons gelese gedeelte bevestig.

Ek sal as eerste voorbeeld vir u die besonderse man, Moses, aanhaal.  God het nie hierdie man geroep om Sy volk uit Egipte te lei omdat hy op daardie stadium ‘n besonderse man was wat hoog in aansien was nie.  Inteendeel, Moses het op daardie stadium seker maar ‘n lae profiel gehandhaaf nadat hy uit Egipte gevlug het.  En hy was besig om die skape van sy skoonvader, Jetro, op te pas.  God het besluit dat hy die aangewese man is om die volk uit Egipte na die beloofde land te lei.  En terwyl God hom as die aangewese man beskou het, het hyself steeds verskeie swakhede van homself aan God uitgewys en aangevoor dat hy homself nie as bekwaam vir hierdie groot opdrag beskou nie.  “Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?”  “ Toe sê Moses aan die Here: Ag, Here, ek is nie 'n man van woorde nie — van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.” (Ex. 3:11 & 4:10).  

Dit is dan ook in Exodus 33:14&15 waar ons van Moses se swakheid teenoor God lees, geliefdes.  “En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?  Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.”  Onthou dat God op hierdie punt reeds ondenkbare kragtige dade deur Moses se hand gedoen het.  Hy het Egipte met verskriklike plae getref en selfs die see voor die volk gekloof sodat hulle op droë grond kon trek.  En daarna het Hy die Farao met sy hele leër in die see laat omkom.  Die deursnee mens sou seker op hierdie punt al so selfvoldaan en selfversekerd geraak het dat hy sou voel dat hy self verder kon regkom om die volk na die beloofde land te lei.  Maar dit is duidelik dat Moses nie op sy eie krag begin vertrou het nie, maar dat hy met sy hele hart op die hulp en krag van die HERE gesteun het.  Hy wou nie ‘n voet versit as dit sonder die HERE sou wees nie.  Hy was bereid om eerder daar in die ongemak en beproewende toestande in die woestyn te bly as wat hy in eie krag sou trek na ‘n plek wat tog groot belofte ingehou het.  Hierdie “swakheid” van Moses was dus duidelik waarin sy krag gelê het.  

Hierdie eienskap van nederige ootmoed, daardie diepe besef van die afhanklikheid van God, was ook duidelik in die lewe van koning Dawid te bespeur, geliefdes.  “Koning Dawid het toe ingegaan en voor die aangesig van die Here gebly en gesê: Wie is ek, Here Here, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het?” (2 Sam. 7:18).  En die HERE het dit dan ook aan Samuel duidelik gestel dat hierdie een van die redes is waarom hy Dawid, ‘n skaapwagter, as Sy dienskneg verkies het bo ander wat meer aansienlik mag wees.  “Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” (1 Sam. 16:7).  Die HERE kon ook deur hierdie nederige, ootmoedige man se lewe Sy kragtige dade doen.  Hierdie man wat sy krag in die HERE sou soek in plaas daarvan om op sy eie krag te steun.  “God is dit wat my met krag omgord en my weg volkome maak.” (Ps. 18:33).  

Geliefdes, is dit nie ook baie nodig dat ons in ons eie lewens meer gereeld oor hierdie saak sal besin nie?  Wanneer ons in ons lewens uit eie krag optree, is dit gewoonlik ook om net ons eie belang te dien en ons eie voordeel te soek.  Ja, dit is ook eerder ‘n poging om ander mense te probeer beïndruk as om God se welbehae te doen.  En hierdie optrede word uitdruklik deur die HERE aangespreek.  “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.  Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n.” (Fil. 2:3&4).  Kan u dink wat van my en u sou word indien Christus ook net Sy eie belang voor oë gehad het eerder as om aan God gehoorsaam te wees?  Ja, Hy het ook vir ons die voorbeeld gestel van die krag van God se werk wanneer ons in nederigheid, in swakheid, Sy Raad volg.  “Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?” (Matt. 26:53).  Hy was in die posisie om in Sy eie belang, tot behoud van Sy lewe, ja tot beskaming van Sy vyande en tot Sy eie eer op daardie tydstip op te tree.  Maar Hy onderwerp Hom in “swakheid”, in nederigheid aan God se Raad en die gevolg is dat Hy die grootste oorwinning in die wêreld se geskiedenis vir God se koninkryk behaal!

Geliefdes, dit is dalk haas tyd dat ek en u van ons eie krag afsien en nie probeer om elke dag groter en sterker te wees nie.  Ons behoort inteendeel daarop te fokus om in onsself elke dag swakker en swakker te word sodat namate ons minder kan word Hy al meer in ons lewens kan word.  “Hy moet meer word, maar ek minder.” (Joh. 3:30).  En sodoende sal Hy ons tot enige taak waarin Hy ons wil gebruik, bekwaam en versterk.  “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Fil. 4:13).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie