1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8529313

Besoekers aanlyn

Ons het 66 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

DIE HUWELIK – ‘N GESKENK VAN GOD

BybelGenésis 2:4-25: “Ook het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas.  Toe het die Here God 'n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak.  En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (:18, 21-24).

Geliefdes, in die vorige hoofstuk lees ons van die Skeppingsverhaal soos wat dit elke dag afgespeel het.  En dit is opvallend hoedat God telkens terug kyk oor die werk van Sy Hande en sien dat dit goed was.  Daarom dat dit ons ook opval wanneer ons in die tweede hoofstuk van Genésis lees van iets wat God bestempel as “nie goed nie”- die mens wat alleen is.  Die mens wat nie ‘n maat het nie.  God los dit dan ook nie net so nie.  Hy besluit om Self iets daaraan te doen.  Hy besluit om vir die mens ‘n hulp te maak – een wat by hom sal pas.  En hierna kyk God weer terug oor die werk van Sy Hande en Hy beskou dit nie net as goed nie, maar Hy bestempel dit as baie goed.

Ons leer dus baie vroeg in die Woord van die HERE dat die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou, die huwelik, ‘n baie besonderse verhouding is.  Dit is iets wat deur niemand anders as deur God self verorden is nie.   En ‘n volgende ding wat ons ook uit ons gelese gedeelte leer, is hoedat God uit die staanspoor met liefdevolle versorging, met vaderlike ontferming, teenoor die mens optree.  Ja, Hy was nog besig om te skape toe Hy alreeds aan die mens begin gee.  Hy gee aan die mens ruimte om te leef.  Hy gee aan die mens al die plante wat saad gee en al die bome waar boomvrugte aan is sodat die mens voedsel kan hê en versorg is.  Hy gee aan die mens ‘n maat wat by hom pas.  Maar ook gee Hy aan die mens alreeds in hierdie vroeë stadium ‘n verantwoordelikheid.  Ja, die mens ontvang die verantwoordelikheid om aan die HERE gehoorsaam te wees.  En hierdie gehoorsaamheid word nie sommer maar net aan die mens gegee nie.  Die mens moes besef dat hierdie verantwoordelikheid om aan God gehoorsaam te wees die mens daarin sal lei om op verantwoordelike wyse met al die kosbare gawes wat die mens uit God se Hand ontvang om te gaan.  

Wanneer ons by ‘n bruilof is, het ons die voorreg om saam met twee mense die vreugde te deel van ‘n pragtige geskenk wat uit die Hand van die HERE aan die mens geskenk word.  Ja, die Woord van die HERE stel dit aan ons duidelik dat jou lewensmaat ook ‘n baie kosbare gawe is wat die mens uit die Hand van God ontvang.  Luister na die woorde uit Spreuke 19:14 wat dit bevestig.  “Huis en goed is ‘n erfenis van die vaders, maar ‘n verstandige vrou is van die HERE.” En ook uit Spreuke 18:23:”Wie ‘n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ‘n welgevalle van die HERE verkry.”  En die kosbare geskenk van die huwelik is dan ook die eerste geskenk uit die Hand van die HERE wat die egpaar saam ontvang.  Die instelling van die huwelik is deur God self in die lewe geroep en hierdie is ‘n baie kosbare geskenk wat die mens uit God se Hand ontvang.  

Wanneer die mens hierdie gawe uit God se Hand ontvang, moet hulle hieroor verheug wees.  En ons moet hiervoor baie dankbaar wees.  Maar ons moet ook onthou van die verantwoordelikheid wat hiermee saamgaan.  Ons het as God se kinders die verantwoordelikheid om hierdie kosbare geskenk wat die HERE aan ons gee op te pas, te koester en te beskerm.  Ja, so stel die HERE duidelik aan die man sy verantwoordelik teenoor sy vrou in die huwelik.  Efés. 5:25-29.  “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.  En Hy bevestig hierdie opdrag in Kol. 3:19. “Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.” 

Eweneens stel die HERE dit in Sy Woord baie duidelik wat van die vrou in hierdie huwelik verwag word.  Luister na die opdrag van die HERE uit 1 Petrus 3:1-6.  NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het. Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van 'n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig, soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.” En verder ook in Efés. 5:22-24. “VROUE, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.  Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.  Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.”  Indien ons die HERE hierin gehoorsaam, hanteer ons hierdie kosbare gawe van die huwelik wat Hy aan ons skenk met verantwoordelikheid, geliefdes.  En wanneer ons die HERE in gehoorsaamheid eer, sal ons Hom enige tyd met vrymoedigheid kan nader om ons in ons huwelik by te staan.

Ek wil afsluit deur vir u uit die Woord van die HERE aan te haal wat die houding van die HERE teenoor egskeiding is.  En die rede hiervoor is dat dit vir ons baie duidelik onderstreep hoe belangrik ons verantwoordelikheid voor die HERE is om hierdie kosbare geskenk van die huwelik wat op Sy tyd aan ons skenk, op te pas.  In Exodus 20 asook Deut. 5 word egbreuk uitdruklik, soos moord, soos diefstal, deur die HERE verbied.  En ek wil tog vir u noem die feit dat egskeiding in ons dae sosiaal aanvaarbaar geraak het, beteken nie dat dit hoegenaamd in die oë van die HERE aanvaarbaar geraak het nie.  Behalwe vir die verbod op egskeiding waarvan ons in Exodus 20 en Deut. 5 lees, stel die HERE Sy afkeur hierin baie duidelik in Mal. 2:16 – “Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, ...”.  En ewe duidelik was Christus se antwoord rondom egskeiding in Matt. 19:4-9.  Hier stel God dit uitdruklik dat dit wat God saamgevoeg het, mag géén mens skei nie.  Niemand durf só verwaand te wees om dit wat God verorden het, af te breek nie.  

Mag elke een van ons wat hierdie kosbare gawe in ons lewens uit God se Hand ontvang het opnuut bewus word van ons verantwoordelikheid om hierdie gawe te koester, met dankbaarheid te waardeer en te beskerm.  

Amen.  

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie