1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8334945

Besoekers aanlyn

Ons het 34 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

WANT UIT HOM IS ALLE DINGE

BybelRom. 11:33-36 “Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (:35&36).

Geliefdes, ons behoort onsself meer gereeld aan hierdie waarheid te herinner.  Ja, die feit dat alles in die heelal en alles rondom ons uit Hom en deur Hom is, is ‘n uiters belangrike saak wat ons heeltemal te maklik uit die oog verloor.  En dit is juis wanneer ons nie hierdie waarheid in ag neem met ons besluite in die lewe nie dat ons verkeerde besluite maak en ook dikwels die verkeerde koers in die lewe inslaan.

Hierdie waarheid uit die Woord van God herinner ons aan die verantwoordelikhede op ons geplaas as ‘n deel van God se skepping.  Ja, dit herinner ons daaraan dat ons maar ‘n deel van God se skepping is en nie die middelpunt waarom die hele wêreld draai nie.  Dit herinner ons daaraan dat ons ‘n verantwoordelikheid teenoor God en ons naaste het eerder as dat ons ‘n eis om allerhande dinge het.  Die mens word duidelik daarop gewys dat ons nie vir een oomblik ‘n reg het om enige eis aan die HERE te stel nie.  “Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?”  Hy is aan niemand enigiets verskuldig nie – nie eers ‘n verduideliking van Sy optrede nie.   Die HERE het ook vir Job aan hierdie waarheid herinner nadat Job feitlik al die mooi gawes wat hy uit God se Hand ontvang het, eensklaps verloor het.  En natuurlik was Job hieroor ontsteld.  Maar die HERE het vir Job daarop gewys dat Hy aan Job niks verskuldig is nie.  “Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.” (Job 41:2).

Ons leef in ‘n tyd waarin mense so min as moontlik wil gee en terselfdertyd so veel as moontlik, eintlik meer as wat moontlik is, wil onttrek.  Ja, geliefdes, ‘n absolute sieklike, vernietigende, amper barbaarse, gesindheid van ‘n misbruik van God se gawes en Sy skepping.  En dit is baie, baie belangrik dat ons ons fokus sal behou in hierdie waansinnige tyd.  Dit is só belangrik dat ons onsself nie met hierdie walglike gedrag moet vereenselwig en besmet nie, want só laag mag ‘n kind van God nooit daal nie.  Dit is die kinders van die Satan wat God se skepping haat en wil verniel en verwoes wat hulself so wangedra. “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” (Joh. 10:10).  Ja, geliefdes, ook hierin was Christus natuurlik vir ons die volmaakte voorbeeld.  Hy wat soveel wonderwerke gedoen het, soveel mense genees het, soveel goed gedoen het, soveel gegee het, het nie ‘n enkele eis gestel nie.  Sou Hy nie “reg” gehad het in Getsémané om die behoud van Sy lewe van God te “eis” nie?  Hy het nie ‘n enkele oortreding teen Hom begaan nie en derhalwe was daar menslik gesproke vir Sy marteldood GEEN REGVERDIGING nie.  En Sy versoek bevestig vir ons dat dit nie vir Hom nie swaar was om aan hierdie besluit van die Vader te voldoen nie.  “Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.  En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:38&39).  ‘n Versoek word in ootmoed aan die Vader gerig, maar geen eis word aan Hom gestel nie.

Geliefdes, die HERE bevestig hierdie waarheid waaroor ons vanoggend gesels deur die mond van verskeie van Sy diensknegte.  Ons het begin met die woorde van die HERE deur die diens van Paulus aan ons oorgedra.  En daarna het ons van hierdie lering uit Job melding gemaak.  En so het die HERE deur die diens van Sy kneg, Moses, ook aan Israel hierdie waarheid geleer.  “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.” (Ex. 19:5).  En deur die diens van die profeet Jeremia onderrig Hy eeue later Sy volk in dieselfde saak.  “Ek het die aarde, die mens en die diere wat op die aarde is, gemaak deur my grote krag en deur my uitgestrekte arm, en Ek gee dit aan wie dit reg is in my oë.” (Jer. 27:5).  

Geliefdes, hierdie herhaling van ‘n saak in die Woord van God bevestig vir ons die belangrikheid hiervan.  En wat meer is, is die feit dat dit na eeu steeds verkondig word wat die onveranderlikheid van God vir ons onderstreep.  In die lig van laasgenoemde weet ons dat enigeen wat wil redeneer dat “tye verander” het en hiermee poog om ons van hierdie lering uit God se Woord te laat afsien, sy onkunde t.o.v. God ten toon stel.

Dit is ongetwyfeld nodig dat ek en u vandag ons eie lewens sal ondersoek om vas te stel tot watter mate ons in ootmoed voor die Aangesig van God uit wie en deur Wie alle dinge geskape is, leef.  Ja, tot watter mate hou ons in gedagte dat Hy die Almagtige God is uit Wie en deur Wie alle dinge geskape is en dat my optrede in Sy skepping getuig van die mate van respek wat ek vir Hom as die Skepper het?  En tot watter mate wy ons ons lewens aan Hom uit Wie en deur Wie ons geskape is en die gawe van lewe ontvang het?  “EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12:1&2).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie